Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Ingenieur trap kontrei plat met sy fiets

AS hy nie op sy fiets is nie, is hy by sy suksesvolle ingenieurswinkel – die B Shop Engineering Supplies – in Kareedouw.

Ockie Binneman (62) is ’n bekende sakeman in die omgewing (asook wêreldwyd), en in sportkringe staan hy nie ’n treë agteruit nie.

Hy is altemit elke boer, bosbouer en inwoner se “redding” wanneer dit kom by onderdele en olie: hetsy vir ’n plaasimplement of ’n windturbine.

Of selfs ’n selfdoen-taak by die huis.

Dié bekende onderneming wat in 2001 sy deure in die hartjie van Kareedouw geopen het, spog met 7 600 voorraaditems – insluitende waaierbande, laers, katrolle, rattande, kettings en 33 verskillende soorte olies.

En as hy nie het wat jy soek nie, vervaardig hy dit by sy werkwinkel.

Binneman, wat vir 22 jaar as ’n ingenieur by Sasol gewerk het, glimlag trots: “Ons het nage-noeg ’n dekade terug met ingenieurswerk self begin – ons vervaardig en herstel ingenieursonderdele.”

Verder spog dié beskeie man met die patent om regoor die wêreld duike uit windturbines van Siemens te haal, asook lempunte te herstel.

Ockie Binneman neem aan soveel moontlik fietsbyeenkomste deel.Foto: VERSKAF

Maar waar het sy belangstelling in fietsry gekom?

Binneman, wat aan soveel moontlik fietsbyeenkomste deelneem, sê: “Ek kom uit ’n fietsry-familie. Ek is maar net nog altyd lief vir fietsry en het ’n groot passie daarvoor.

“Ek is mal oor die idee dat ek iets doen wat my gesond en fiks hou.

“Asook die geleentheid om ’n wonderlike verskeidenheid landskappe en omgewings op my fiets te ontdek. Daar is geen beter manier om ’n plek te sien en te ervaar as op jou bergfiets nie. Dit neem jou na plekke wat jy op geen ander wyse sou kon sien nie.’

Maar hy ry nie mededingend nie – daarvoor is hy te kompeterend. Nie noodwendig teenoor ander mense nie.

‘’Ek ry maar net,’’ sê Binneman wat vir Eden Cycle Worx in Sedgefield ry. “Dit is veral waarom ek van die soort goed hou, want jy kompeteer eintlik met jouself. Jy probeer heeltyd beter as voorheen wees.

“Dit is net jy en jou fiets.”

Hy hou ook van die uitdaging om ’n moeilike deel kaf te draf of om ’n steil opdraend uit te ry.

“En dan is daar natuurlik die mense – ek hou daarvan om mense wat my passie deel, op die roetes te ontmoet,” sê hy.

Van die ryers tot die organiseerders – almal wat betrokke is by fietsry, is soos ’n groot familie.”

Binneman het verskeie Cape Town Argus-toere op sy kerfstoek en toer deesdae gereeld met sy fiets – meer as 100km elke naweek, veral na Stormsrivier of Plettenbergbaai.

Die Karoo to Coast is ook een van my gunste-lingbyeenkomste, omdat dit vir onmeetbare vryheid en pret sorg, asook die 7Weekspoort.

Val was daar baie.

“Ek het al geval dat dit lyk asof ek in saal 213 lê, maar ek gelukkig nog niks gebreek nie,” lag hy. “Elke val gebeur in stadige aksie: jy het tyd om te beplan waar en hoe jy gaan lê. Dit voel vir my so.”

Volgens hom is daar verskeie fietsryroetes in die gebied: sirkelroetes van 16km, 36km, 42km en 84km. “Maak nie saak waar jy begin nie, jy begin by ’n berg. En dit is wat ons sterker maak.”

Hy sê hy is nog lank nie klaar met dié sport nie. Hy weet nog net nie wat sy volgende doelwit is nie, maar sal beslis iets kry.

Benewens fietsry, geniet hy rolbal; soveel, dat hy sy eie rolbalbaan in Kareedouw aangelê het – 7 600 grasplantjies.

Hy is ook ’n ere-veldwager vir Sanparke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.