Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Inwoners vra dat ‘gevreesde man’ nie borgtog kry

DIE man wat glo ’n vrou op ’n plaas by Hankey in die laerug geskiet en toe verkrag het, sal aanstaande maand ’n aansoek om borgtog bring.

Die man (32) word met ’n voorval op 23 Maart in die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap verbind.

Na bewering het die man die vrou (44), wat alleen saam met haar drie minderjarige kinders op hul plaas by Hankey was, in die laerug geskiet toe hy skote op ’n glasdeur in die huis afgevuur het.

Die man het só by die huis ingekom en daarna blykbaar die vrou verkrag en toe geld en klere gesteel.

Die man het Maandag vlugtig in die landdroshof in Hankey verskyn en 10 Mei is vasgestel as die datum waarop sy borgtogaansoek aangehoor sal word.

Intussen het inwoners, boere en plaaswerkers van die Gamtoosvallei (Hankey, Patensie en Loerie) ook Maandagoggend ’n optog tot by die landdroshof gehou om ’n memorandum aan die plaaslike owerhede te oorhandig.

Carel Versfeld van die Hankey-buurtwag het die memorandum namens die gemeenskap aan die plaaslike landdros, staatsaan-klaer en die polisiebevelvoerder oorhandig, waarin hulle aandui dat hulle teen die beskuldigde se borgtog gekant is.

“Die beskuldigde word van uiters ernstige misdade aangekla, wat insluit verkragting, poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en diefstal met verswarende omstandighede, deurdat die beskuldigde daarvan beskuldig word dat hy die slagoffer en haar drie minderjarige kinders op 23 Maart 2018 in hul woonhuis aangeval en hierdie gruwelike misdade teenoor die slagoffers gepleeg het,” lui die memorandum.

Verder word die owerhede daarop gewys dat dit hul plig is om alle Suid-Afrikaners tot die beste van hul vermoë te beskerm, veral diegene wat weerloos is, soos vroue en kinders.

“Die gemeenskap van die Gamtoosvallei is woedend vir die beskuldigde en vrees ook vir hul lewens en veiligheid, asook dié van hul kinders indien die beskuldigde op borgtog vrygelaat sou word.”

In die memorandum word dit ook bena-druk dat die Gamtoosvallei en sy inwoners grootliks van boerdery en die vrugtebedryf afhanklik is.

“Daar woon gemiddeld 20 gesinne op ’n vrugteplaas.

“Wanneer so ’n aanval spesifiek op ’n plaas gebeur, raak dit nie net die slagoffers en hul gesin nie, maar word die welstand van onge-veer 20 gesinne ook negatief beïnvloed.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.