Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Messe uit vir lam-smouse in Jeffreysbaai

VLEISETERS het die mes in vir ’n familieonderneming op Jeffreysbaai wat glo vooraf betaling verwag, maar versuim om bestellings af te lewer of die geld terug te betaal.

Johan van Rensburg het hom na die Kouga Express gewend oor die stryd wat hy glo het om sy geld te verhaal van verkopers van lamsvleis wat ná maande steeds nie sy goedere afgelewer het nie.

“Hulle vra om vooraf betaal te word, en sal dan later die vleis lewer. Aanvanklik het die eerste bestelling glad verloop: ek het in Januarie, vanjaar betaal en in Maart die vleis ontvang. Die tweede keer het ek in April bestel, maar tot op hede nie die vleis of terugbetaling gekry nie,” sê Johan. Hy sê hy het met verskeie ander mense gepraat wat dieselfde klagte het.

“Dit is ’n gesukkel om my geld terug te kry.”

Laat verlede week het Andri Henin haar tot sosiale media gewend om ’n oplossing te vind, aangesien sy reeds agt maande op haar lamsvleis wag. “As jy boodskappe stuur, word jy of geïgnoreer, of as jy gelukkig is, word jy meegedeel dat hulle nou druk plaas op die plaasboer,” bekla sy haar lot. “Al vra ons ons geld te-rug, weier die eienaars van die spysenieringplek om dit te betaal. Toe ek meld dat ek my prokureur gaan spreek, het die vrou ook gedreig dat sy regsadvies gaan inwin.”

Mens bel verniet, kla verskeie inwoners. Henin sê dat die vrou se selfoon “gereeld in die water beland – volgens haar”. Kleintjie Mostert en Veronica Kapp skryf hoe hulle geblok is.

Kapp: “Ek wag nou maande al. Hulle sit met my R2 500, antwoord nie die foon nie en lees nie my boodskappe nie. Ons hard verdiende geld! Nee, so kan hulle nie wegkom nie.”

Charlene Vermeulen het wel haar sagte, bekostigbare vleis ná maande gekry. “Ek het gemeen die R1 400 vir 20kg is ’n winskopie en wou graag elke maand kry. Die eienaar was nooit ongeskik nie en wou my seker nie pla nie, maar het seker gewag dat ek hulle kontak.” Volgens Vermeulen het die verkopers aan haar gesê hulle moet wag tot die skaap sy gewig bereik, en hulle doen ongelukkig nie terugbetalings nie, maar dit sal lekker vleis wees.

“Ná vier maande het die skapie nou genoeg geëet en ek het dit gekry. Die vleis was sag en billik, maar ons gaan deur ’n skaap per maand, en kan ongelukkig nie so lank wag nie.”

Neil Andrews en Sarita Barnard kla op die sosiale platform dat hulle onderskeidelik in die wip gevang is, maar wel hul geld teruggekry het.

Sake gemaak

Ons het ook ’n stel met hulle afgetrap, vertel Errol Sa-muels, wie Maandag ’n bedrogsaak by die SAPD ge-open het. “Ek verdien my geld op ’n eerlike manier, en dié wat geld so uit mense kry, moet hard gestraf word.” Hy meen dit is nonsens dat mense so openlik bedrieg word. “Ek vra almal om na vore te kom sodat ons die mense kan vasvat. Teen die tyd wat mens die vleis moet kry het die lammers al hul eie lammers gehad! Ek weier om toe te laat dat die mense my langer vermaak.”

Mostert het ook die voorval aangemeld en ’n saak by die polisie geopen. “Ons wag al van Junie af vir ons vleis. Ek ken die eienaars persoonlik en het vir maande mooigepraat. As die vrou my in die drankwinkel gewaar, kruip sy tussen die rakke weg.”

Die spyseniers adverteer volgens die sosiale kommentaar en die Kouga Express se inligting ook onder ’n ander naam. Hierdie saak word steeds ondersoek.

Op navraag van die Kouga Express, het die familieonderneming gesê: “Moet niks doen nie. Ons prokureur sal julle kontak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.