Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Nguniland: Holte vir jou hart

EEUOUE plaashuisies is van die grootpad net wit blokkies in die berge se groen, maar van naderby omvou die nostalgie jou.

Hier het toentertyd landtemmers (die De Vos-familie) gewoon, geboer en geleef. Net hul grafte is oor.

Eienaar André Hamman ontvang ons hartlik op Nguniland, skaars 3km uit Kareedouw waar hy en sy seun, Johan, op 950ha tot diep in die Suuranysberg boer. Hamman se sprankelvrou, Maritha, ’n oud-onderwyseres, lyk meer as ’n dekade jonger as wat sy sê. Daar is beslis iets in die plaaswater wat jeugdigheid behou.

Na ’n deeglike kuier op die plaasstoep, ry Hamman met sy bakkie vooruit om ons die pad te wys tot by die verste huisie. Ons trek sak en pak in. Dit lê byna bo teen die voorberg. Langsaan staan ’n wawiel teen die buurstoep en lei trappe op na ‘n solderkamer. Tyd versteen.

Dit juig behoorlik: “Op berge en in in dale, en oral is God . . .”

André lag: “Ek het al in baie van dié huise gebly.” Maar die holte vir sy voet is in die plaasopstal met die wye stoep, lang tafel en stoele waar mens lank kan kuier. Die stilte is salig.

Later, verder af loop ek op die smal, geroeste spoor van die ou Apple Express; die stoomtreintjie wat van Port Elizabeth tot die Loerie-stasie geloop het. Heimweë. Op dié plek verloor ek my hart. Net onder loop die Kromrivier glansend in die laaste son van die dag. Die water kruip uit die kloof bo van die berg af. Oorkant troon die Drie Krone bo die grootpad uit.

Dié stamboek-diere kom uit die keur van ouer Amersfoort-koeie wat in 2009 op Nguniland vir teëldoeleindes gevestig is.

Besoekers

Vroeg op na die klipslaap-nag, val iets op die dak. Met die uitstorm vlug die besoeker, maar ons merk sy meelopers buite die kombuisvenster. ’n Hengse trop bobbejane. Een sit kordaat op die draadheining en staar ons aan.

Hulle draf langs die huis verby, af teen die berg en kotteljons net ’n ent weg. Drie jaag mekaar op ’n onderste huisie se dak. Later kom die groot indoena agter die trop aangestap, oënskynlik oppad water toe.

“Nee”, sê André, “hulle wil die skape se kos steel. Ons moet hulle van die opstal af verwilder. Maar hierbo loop hulle los.”

Die Kromrivier loop glansend in die laaste son van die dag. Die water kruip uit die kloof bo van die berg af. Oorkant troon die Drie Krone bo die grootpad uit.

Harde werk

Terwyl my mense met Maritha stoepkuier, vertel André die plaasstorie.

Na jare in die besige korporatiewe wêreld “waar mens vir ’n rekenaar werk in eposland”, het die Hammans van Pretoria op Nature’s Valley gaan aftree. Hy het die tuin binne enkele maande reggeruk, maar . . . toe wat?

Met ’n kuier in die Kouga, sien hy ’n plaas te koop. Hamman kom kyk – opgewonde oor die berge, rivier, die wydheid, maar sy vrou sien die ou karwrakke en stukkende huise, terg hy. Dit sou ’n naweekplek wees om te ontspan.

Toe hulle die plaas in 2006 koop, was die plek “oortrek van die wattelbome, die huise was murasies, die motorwrakke het oral gestaan – en dis al wat Maritha gesien het.”

Drie dae na die plaas op sy naam is, het ’n vloed hulle “verwelkom”. “Ek kon nie oor die brug kom nie, alles is weggespoel én ons was bietjie verdwaas. Teen ander boere se verwagting, het die Staat gesê ons moet eis en 70% daarvan is uitbetaal. Daarmee kon ons die lande rehabiliteer en bewerkbaar maak.”

Toe het die opruiming begin. Die Hammans se een tweelingseun, Johan, het saamgewerk.

André: “Die kontrakteur het 12 ure per dag geswoeg, en net werk gestaak dat die masjiene gediens kon word.”

Teen 2008 kon die plaaswerk begin – draadspan en een vir een huisie regmaak. Die volgende jaar kon hulle begin boer en het die eerste Nguni’s aangeland. Later het ’n paar skape bygekom. Nguniland het die minste uitheemse bome in die kontrei na grootskaalse uitroei van die indringers, soos die wattelbome waarvan een tot 50 liter water ‘n dag gebruik. Uiteraard, is die karwrakke en vragte ander rommel na die groot vloed weggery.

Die huisies is teen 2011 voltooi en gaste het Nguniland voluit begin besoek. Nou het besoekers die voorreg om onder die geelhoutplafonne te oornag. Outentiek gerestoureer, opgeknap of verbou en keurig ingerig – die onderskeie huise huisves twee tot ses mense, is ten volle toegerus, beskik oor braaigeriewe, bied onderdakparkering . . . en ’n uitsig uit die hemel.

Diere sluit in bosbokke, Kaapse grysbokkies, blouduikers, klipspringers, bosvarke, ystervarke, skilpaaie, ratels en natuurlik die bobbejane. Let op na fynbos, kassierbome, wildeperske, witels en rooiels in die klofies. Hier is stap-, draf- bergfietspaaie, voëlkyk, plantidentifikasie, rivierswem en rotsklim.

Besoek Nguniland, skaars 3km uit Kareedouw.

Nguni-stoet

André wys my ’n foto van ‘n Nguni-koei met haar dubbelganger-kalfie. Later stap ek langs die draadheining af waar die gevlekte beeste wei.

Die stamboek-diere kom uit die keur van ouer Amersfoort-koeie wat in 2009 op Nguniland vir teëldoeleindes gevestig is. Hier is alles suiwer: die lug, die water en die diere.

Vir meer inligting, skakel 082 576 7516 of stuur ’n epos na admin@nguniland.co.za. Besoek www.nguniland.co.za.

André Hamman van Nguniland som Kareedouw uitstekend op en vertel dat dit méér as ‘n wonderlike gebied is.

Hy besit die plaas sedert 2006, maar sê: “Ek is ’n inkommer hier. Hier is baie ou plase, ou boere-families en ou inwoners van die gebied. Die, wat uit Langkloof kom, en weggaan, kom weer terug.”

Hamman: “As ek vra: hoekom is jy terug? sê hulle altyd: weet jy, my mense is hier.”

Vir hom is Kareedouw nie net nog ’n kleindorpie nie. As mens deur ander plekkies ry, lyk en voel dit ellendig. “Maar dié dorp en die gemeenskap rondom is almal deel van Kareedouw. En dit is ‘n lewende ding. Die mense is inmekaar geweef, en hulle harte is groot.”

Dit vat jou ’n ruk om te weet wat hier aangaan as jy nuut is. Jy leer nog mense ken, maar almal weet van jóú, meen Hamman.

“Ek is dopgehou oor wat ek hier aanvang, want vir seker dertig jaar het eienaars nie op die plaas gebly nie, en dinge het verwaarloos geraak.”

Kareedouw as ’n dorpie – hier is nie huise wat leegstaan nie, al is daar mense wat stramtrek. Werk is skaars, maar die mense is die hart van die plek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.