Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Proe die liplekker heuning by Pabala

DIE klein ronde potjies staan goudblink op die lang tafel – wit lepeltjies in perfekte gelid.

Neffens drup rou heuning uit ’n korf...elke sel boepens-vol.

Vandag gaan hier geproe word. En heerlik geraai word – van brandrissies tot marmalade en hoesstroop. Asook fynbos en aalwyn.

Want, in die Gamtoosvallei is daar veel meer as net groente, top- akkommodasie, bekroonde padstalle en koningin Victoria. Hier is nou ook heuning-proe.

Van die atmosfeer tot die uitsig oor die Cockscomb-berge en fynbos-landskap – alles dra by tot hierdie unieke ervaring by Pabala Privat Natuurreservaat, geleë in die hartjie van Kouga.

Eienaar en natuurliefhebber, Wernich Cronje, en afgetrede byeboer, Piet Bezuidenhout, kom aangestap om te groet.

Ek vra hulle oor die inspirasie agter die heu-ning-proe – die nuutse toevoeging tot die arsenaal van aktiwiteite by die gewilde natuurreservaat.

Cronje glimlag: “Die gezoem van die bye. Of eerder, die gebrek daaraan.

“Ons wil help om heuningbye van uitwissing te red – veral na honderde bykolonies tydens die verwoestende brande van Junie 2017 uitgewis is – en sodoende plaaslike voedselproduksie bevorder.

“En bewaring, veral bewaring. Ons wil ’n onblusbare liefde vir bewaring, ook van bye, by die algemene publiek kweek.”

Hulle spog reeds met honderde mensgemaakte byekorwe in die veld - ’n jaar na die eerste korf in November verlede jaar opgerig is – en hoop om teen einde 2021 dié getal deur die gebruik van vyf-ster vangkaste in die natuur te verdubbel.

Cronje se gesig straal van trots. “Ons het vier weke terug ons eerste heuning geoes.

“En as die lewe jou heuning gee, dan deel jy dié soete-ervaring met ander.”

Soete verleiding

Hoe werk dit?

Bezuidenhout verduidelik: “Heuningliefhebbers ontvang elk proe-botteltjies met 40g verskillende soorte heuning in – dit is baie soos wynproe, maar minder ingewikkeld en lekkerder.

“Die heuning moet deur die hele mond versprei...en jy spoeg dit nie uit nie. Elkeen se proe-ervaring kan verskil, almal kan iets anders proe. Die rede: almal se smaakkliere verskil.

“Na elke potjie heuning wat jy proe, kan jy jou mond met water uitspoel, maar dit is egter nie noodsaaklik nie. En moet nie elke keer dieselfde proe-lepel gebruik nie.”

Dan is dit tyd vir heuning-proe.

Eerste aan die beurt is die laventel-heuning.

Dit is soet. Baie soet, met ’n ondertoon van fynbos, roosmaryn en heide.

Die tweede potjie - ’n ligte fynbos-heuning – is effens minder soet met ’n meer pertinente fynbos smaak.

Jy proe ook spekboom. Só sê die meer-fyn-van-palet.

Dan vir die meer donker fynbos.

Ek proe...en proe – nie heeltemal seker wat ek moet proe nie.

My proe-buurvrou help my uit: karamel. Ja, sy is reg. Ek proe dit ook. Bezuidenhout sê die karamel-smaak kan toegeskryf word aan die feit dat die bye die heuning twee keer gebruik het.

Behalwe vir dié smaak, is daar ook ’n nuanse van proteas, terwyl aalwyn vir die bitter smaak verantwoordelik is.

Iemand proe selfs marmalade. En medisyne van haar kinderjare.

Die laaste potjie het nie ’n naam op nie. Ons moet raai wat dit is, maar geen definitiewe smaak staan uit nie.

Brandrissies? Hoesstroop?

Nee, aalwyne.

Ons kry ook die geleentheid om rou heuning uit ’n korf te proe. Die was raak soos kougom in jou mond, maar jy kan dit eet.

Nóg bederf

Klaar geproe, is dit tyd vir ’n heerlike middagete: taai heuning-gedoopte hoendervlerkies, heuning-varktjops en melkterk.

’n Onvergeetlike ervaring.

Besoekers neem hul botteltjies heuning huis toe waar hulle verder aan dié lekkerny kan smul.

Heuning is ook by Pabala te koop.

Vorentoe

Die soet stop egter nie hier nie.

Dié tweemanskap bied binnekort ’n unieke by-ervaring by die reservaat aan. Bezuidenhout vertel: “Geklee in handskoene, stewels, ’n wit oorpak en gesluierde wye-randhoed kan belangstellendes saam met ’n byeboer veld toe gaan. Hier kan hulle sien hoe heuning uit die korf verwyder word.

“Terug by die aanleg word die vars heuning uit die korf verwyder, gesif en gebottel. Elke besoeker neem ’n bottel heuning huis toe – heu-ning wat jy self gemaak het.”

Hulle beplan ook om in die nabye toekoms plaaslike boere van byekorwe vir bestuiwingsdoeleindes te voorsien, asook om met bye te teel.

Die vervaardiging van byewasprodukte - insluitende velsorgprodukte, seep, rome en mediese produkte – is verder in hul versier. Maar eers oor ’n paar jaar.

Meer inligting

Pabala Privaat Natuurreservaat is geleë op die R330 tussen Loerie en Hankey.

Vir meer inligting, skakel Cronje by 042 296 2950 of stuur ’n epos na info@pabalaprivatenaturereserve.co.za . Besoek www.pabalaprivatenaturereserve.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.