Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Samaritaan saai talle seëninge

OF jy iets nodig het om te eet, ’n gebed of selfs ’n pleister vir ’n stukkende knie, pastoor Nicky Scharneck (46) is daar om te help – ongeag die tyd.

Want hy ken en verstaan armoede en honger.

Ook hier in Mountain View in Kareedouw – dié lae-inkomste woonbuurt aan die voet van die mooi berg in die agtergrond. Hy het die afgelope jare voortgebou op die onbaatsugtige gemeenskapswerk waarmee sy sendeling-pa dekades gelede begin het.

Wanneer hy begin praat, sien jy die passievol-le mens wat hy is: “Wanneer daar nood was, het my pa altyd gehelp; al was dit in die middel van die nag. Ek bou net voort op dit wat hy my van kindsbeen af geleer het.”

Scharneck en sy vrou, Abernize (44), bedryf sedert 2015 die Joy Children Foundation-sopkombuis vanuit hul huis in Mountain View.

Dié sopkombuis voed Dinsdae en Donderdae ongeveer 150 kinders.

En die nood word elke dag groter.

Scharneck, wat self baie arm grootgeword het, glimlag hartseer: “Die eerste middag was daar ongeveer 20 honger kinders buite ons huis, maar toe versprei die nuus en teen die derde dag was daar meer as 100 kinders wat gretig vir ’n warm bord kos gewag het.”

Die Godvresende gesin bestuur ook ’n na-skoolsentrum op die perseel – Joy Children Foundation – waar 80 graad R tot graad 7 leerders weekliks met hul huiswerk gehelp word.

Boonop word die jonges met groot liefde en aandag versorg, en kry elke kind elke dag ’n voedsame maaltyd voordat hulle met hul huiswerk begin. Vir hulle is dit dikwels die enigste ete van die dag.

Scharneck beduie oor die huisies op vierkantige, kaal erwe: “Die gemeenskap waarin die sopkombuis is, gaan grootskaals gebuk onder maatskaplike euwels soos drank- en dwelmmisbruik, geweld teen vroue en kinders en algehele sosiale verval.

“Kinders moet vir hulself sorg en ouer boeties en sussies moet noodgedwonge as ouers vir die jonger kinders optree.”

Maar hulle wil dit verander.

“Ons leer ons kinders om altyd dankbaar te wees vir dit wat hulle het, maar om ook altyd daarna te streef om hulself te verbeter,” sê hy. “Ons wil die kinders wys dat hulle kan uitstyg, maak nie saak wat hul omstandighede is nie.”

“Hulle moet weet dat daar ’n wêreld vir hulle blootlê búite Mountain View, en, as hulle hard werk, sukses binne hul bereik is.”

Abernize Scharneck en haar man, Nicky, bedryf sedert 2015 die Joy Children Foundation-sopkombuis vanuit hul huis in Mountain View. Foto: MONIQUE BASSON

Shalom Farming

Die vars groente wat week na week die talle honger magies vul, kom van hul 8ha groenteplaas – Shalom Farming – net buite Kareedouw.

’n Oop stuk grond voorsien deur God.

Híér plant Scharneck se oudste seun, Jonathan (18), sedert September, verlede jaar onder meer kool, blaarslaai, spinasie, botterskorsie, blomkool, broccoli, pampoen en wortels.

Scharneck, die pa van vier kinders, sê trots: “Hierdie produkte word in die sopkombuis gebruik sodat die kinders voedsame kos kan eet.

“Ons verkoop ook van die groente aan die gemeenskap.”

Hy tuur oor die vars omgedolwe landerye: “Maar wanneer daar nood is, help ons - sonder om vir een oomblik te aarsel.

“Ons het tydens die nasionale COVID-19 inperking, nagenoeg 80% van ons oes aan die arm gemeenskap gegee – sowat 20 000 koolkoppe en 1 000 botterskorsies.

“Die ewige lewe is om vir ander te leef – dit is ons hartklop.”

Inligting

Vir meer inligting, skakel Scharneck by 072 380 4620.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.