Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Sop-ma’s help voed honderde inwoners

SONYA Doris skep buite die sopkombuis in Jeffreysbaai warm sop in ’n gemaskerde kind se rooi kosbakkie . . . en word met ’n breë glimlag beloon.

Agter dié skaam meisie staan tientalle ander inwoners – oud en jonk – in ’n kronkelende ry en wag vir iets om te eet uit die groot, silwer potte op die vuur – elke gesigsuitdrukking weerspieël ’n storie van pyn en verlies, maar ook van hoop.

En almal is honger.

Doris, die eienaar van Bay Pasta Co. in Jeffreysbaai, vee moeg deur haar hare: “So lank as wat mense nog nie die gesig van armoede en honger self gesien het nie, sal hulle geen idee hê hoe ernstig die uitdaging in die plaaslike gemeenskappe is nie.

Veral sedert die nasionale Covid-19 staat van inperking op 27 Maart, vanjaar begin het.

“Ons – Bay Pasta Co, Happy Hands, JBay Recycling Project en Kouga-munisipaliteit, asook verskeie kerke en nie-winsgewende organisasies – help waar ons kan om kos te gee vir die hongeres en diegene wat hul inkomste weens die inperking verloor het . . .”

Van meer as 40 000 kospakkies tot bestanddele vir plaaslike sopkombuise – ’n uitvloei-sel van die kospakkie-projek.

judith Nortjé help sop uitdeel. Foto: VERSKAF

One Village

Met die nuwe voedselhulp-inisiatief, One Village, verskaf hulle bestanddele aan 27 sopkombuise regoor Kouga.

’n Hartseer trek flits oor haar gesig: “Sommige kinders kry geen ander kos as dit wat hulle by die sopkombuise ontvang nie, en baie van hulle neem dit huis toe om met hul familie te deel.”

Al die sop word deur plaaslike inwoners in groot ysterpotte op ’n houtvuur gemaak.

Volgens Doris help voed hulle nagenoeg 1 400 inwoners per week – en die rye by die verskillende sopkombuise word elke dag langer.

Benewens die bestanddele vir sop, gee hulle ’n voedsame kospakkie vir diegene by die sopkombuis: soja, sopmengsel, rys of stampmielies en ’n aftrekselblokkie – genoeg vir ses mense.

Net duskant ’n wonderwerk

Doris haal haar bril ’n oomblik af: “Wanneer ons party oggende bymekaarkom, het ons omtrent geen bestanddele om vir die verskeie sopkombuise te gee nie.

“Maar dan daag iemand op met sakke vol sop of bokse vol kos, en ander bring groente uit hul tuin – daar is altyd iemand wat ’n oop hand en hart het. Hetsy dit inwoners, boere of sakelui is.

“Elke dag is ’n wonderwerk.”

Al die sop word deur plaaslike inwoners in groot ysterpotte gemaak. Siena Perils is hard aan die werk. Foto: VERSKAF

Ná grendeltyd

Gaan hulle na die grendeltyd hul houtlepels ophang?

“Beslis nie,” sê Doris. “Daar sal altyd ’n behoefte vir kos wees – en ons wil in die behoefte help voorsien. Nou én in die toekoms.

“Wat nou moet gebeur, is ons moet ’n sentrale gebou kry en ons moet op die projek voortbou, selfs wanneer inwoners weer begin om hul eie geld te verdien.”

Raak só betrokke

Inwoners kan die projek met geldelike bydrae of kos ondersteun.

Kos, soos sopmengsel, gevriesde sop, mieliemeel, pasta, rys, aftrekselblokkies, groente, vrugte en ook hout kan by Bay Pasta Co. in Jeffreysstraat afgelaai word.

Maskers word ook benodig.

Geldelike bydrae kan gemaak word aan EB Markides by Capitec, rekeningnommer:1254512002, verwysing: Covid en jou naam.

“Gee net wat jy kan, want elke bietjie help,” sê Doris.

Vir meer inligting oor One Village, skakel 083 382 5043.

Tientalle kinders staan in ’n ry en wag vir iets om te eet uit die groot, silwer potte op die vuur – sommige kry geen ander kos as dit wat hulle by die sopkombuise kry nie.

Sopkombuise kan in die volgende gebiede gevind word:

) Ebumnyameni

  • New Rest
  • London
  • Gushundoda
  • Ocean View
  • R10
  • Tjoks
  • Pellsrus
  • Madiba Bay
  • Sonop
  • Kruisfontien
  • Loerie
  • Hankey
  • C-Place
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.