Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Stap deur onontdekte bosveld

DIE winterson maak flou goue strale oor die veld – die werfdiere skud styf-styf die nagrus en vroegoggend-koue af. Van die boerbok tot die pou. Asook die mak duiker en hoenderhaan.

’n Paar meter voor ons draf ’n haas verby en gaan sit doodstil in die eerste strale om warm te word. Die lig skyn deur sy groot oë wat ons nuuskierig dophou.

Dan stap ons stapgidse vir die oggend nader om te groet – deurwinterde plant- en dierekenners Johan Kleinhans en Ben Pieterson. Hulle is gepanser met gesigmaskers en blou plastiekhandskoene . . . die nuwe Covid-19 mondering.

Oor plantegroei, diere, spore en alle soorte insekte kan dié twee ure lank gesels. Kennis wat hulle in boeke, maar ook tydens hul grootwordjare, opgedoen het.

Ek vra vir Kleinhans oor die bykans onontdekte voetslaanroete by Pabala Privaat Natuurreservaat, tussen Loerie en Hankey op die R331 genestel – híér is geen twee staproetes ooit dieselfde nie.

Kleinhans glimlag: “Die opvoedkundige roete behels nie stap van een spesifieke punt tot ’n ander nie. Elke roete is anders. Die rede: om die impak op die natuur tot die minimum te beperk.”

Bewaring is hier die hooftema.

Hy kyk oor die meer as 2 500 ha plantegroei wat strek so ver soos die oog kan sien: “Pabala is meer as net die gewone natuurbewaringsgerigte wildsplaas. Ons grondslag is die beskerming van die oorspronklike habitat, en om te help herstel waar skade reeds aangerig is.

“Ons deel ook ons kennis en ervaring met inwoners, boere en besoekers. Ons glo dat elke besoeker wat hier aandoen, ’n bydrae tot bewaring kan maak – insluitende stappers.”

BO: ’n Trop swartwitpense staan ’n hanetree van ons, terwyl wildebeeste hulle onder op die vlakte tuisgemaak het. Foto’s: MONIQUE BASSON

Staproete

Dan is dit tyd vir stap – al wat jy hoor is die voëls se gekwetter en die takkies wat onder ou stapstewels kraak.

Ons vind nog ons stap-ritme toe Kleinhans na ons draai en ons stop. Hy breek ’n takkie af en vryf dit tussen sy vingers: “Renosterbos is ideaal vir vuurmaak – dit vat gou vlam, nat of droog.

“Dit kan ook as ’n besem gebruik word.”

’n Paar treë verder beduie hy na verskeie miershope wat in ’n effense skewe ry staan: ’n miershoop word byna altyd op ’n wateraar gebou, wys noord en het ’n kerntemperatuur van 27 grade Celsius. En jy kan enige iets eet wat op ’n miershoop groei.

Pieterson wys na ’n groen plantjie (’n tulp) wat tussen die gras groei. Die bol van dié plantjie is baie giftig en het al ‘n menigte bok binne sekondes platgetrek.

“Dié, wat al hul werfsokkies afgegooi het, weet dié plant is dodelik – en vermy dit,” sê hy. “Slegs ’n ystervark kan dié mooi, maar giftige plantjie eet.

Ons ore en oë raak nou gewoond aan fyner luister en kyk. Ons kan klein voëltjies raaksien wat laag oor die grond vlieg, die blaf van ’n bosbok in die verte hoor en plantjies en goggas sien waarvan ons andersins nooit sou weet nie. Soos die mierleeu, ’n venynige roofinsek, wat geduldig in sy sand-kuiltjie vir ’n niksvermoedende mier wag.

Kleinhans gaan sit op sy hurke en wys na spore in die sagte grond: “Die is ’n jong kameelperd . . . hier is ’n swartwitpens en hierdie kleiner spoortjie is ’n springbok.”

BO: Ben Pieterson wys watter plaaslike plante vir medisyne gebruik kan word. LINKS:Siek diere gaan na een spesifieke plek op die reservaat om dood te gaan.

Ons leer watter plaaslike plante vir medisyne gebruik kan word en watter bossie (gwarriebos) as ’n tandeborsel ingespan kan word – jy kou net die punt van die takkie fyn.

Kleinhans lag: “Die takkie werk net so goed soos enige tandeborsel; al verskil is, jy kry nie die smaak van Aquafresh nie.”

By die tweede plaashek draai ons links – ’n vredige stilte daal neer. Die ligte windjie het gaan lê en selfs die oggendkoue hou sy asem op.

Kleinhans beduie: “Dit is die begraafplaas: siek diere kom hierheen om dood te gaan. Hoekom weet ons nie.”

Hier lê soveel geraamtes – klein en groot.

“Dit is baie kosbaar vir my,” sê hy met trane in sy oë.

Ons stap in stilte verder, verby die Jan Baard protea (die bokant van die blom lyk net soos die snor van ’n man) en verskeie beendere.

Kleinhans vertel dit is die kameelperde wat die beendere so rondra: hulle kou dit vir die kalsium-inhoud.

Siek diere gaan na een spesifieke plek op die reservaat om dood te gaan.

Hart klop groen

En voor ons weet, staan ons op die kruin van ’n hoë koppie – eindelose fynbosvlaktes, waar proteas en heide in die briesie ritsel, lê uitgestrek tot waar die Baviaanskloof-berge tussen die winterwolke verdwyn.

’n Trop swartwitpense staan ’n hanetree van ons, terwyl wildebeeste hulle onder op die vlakte tuisgemaak het. Springbokke hardloop baldadig teen ’n koppie uit, terwyl njalas skugter agter bosse wegkruip.

Van hier af neem die tweespoor-kronkelpaadjie jou terug na die begin . . . na daar waar die alledaagse van die “gewone” mensdom weer wag.

Pabala is ’n plek wat ek nie wil verlaat nie. Met die ruwe skoonheid wat sterk deur my are klop, weet ek: sodra die groen polsslag flou raak, gaan ek terug.

 Lees: Vir meer plaaslike staproetes, besoek die Kouga Express Facebook-blad.

Die welige plantegroei by Pabala Privaat Natuurreservaat sluit die protea in – een van Ben Pieterson se gunsteling blomme. Foto: MONIQUE BASSON

  • Voetslaners moet saam met ’n gids stap.
  • Staproetes word volgens individuele of groepe se behoeftes aangepas.
  • Jy hoef nie fiks te wees om die roete te geniet nie – ideaal vir enige natuurliefhebber.
  • Bestel ’n wegneemete vooraf by Local is Lekker (by Pabala) om in die veld te geniet – 060 907 9416.
  • Neem saam: Kamera en hope tyd – die bos vra jou volle aandag.
  • Pabala Privaat Natuurreservaat spog met luiperd, rooikat, ratel, kameelperd, springbok, wildebees (blou, swart en goud), swartwitpens, volstruis, bergkwagga, njala, koedoe, waterbok, sebra, rooibok (rooi en swart), blesbok (wit en bruin), bosbok, duiker, grysbok, ribbok en steenbok.
  • Die welige inheemse plantegroei sluit in heuningbos, fynbos, protea, spekboom, heide, renosterbos en roosmaryn.
  • Vir meer inligting, skakel Pabala Privaat Natuurreservaat by 042 296 2950 of stuur ’n epos na admin@pabalaprivatenaturereserve.co.za.

Besoek www.pabalaprivatenaturereserve.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.