Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Suzann ‘oorleef’ byna twee weke in piepklein huis

IN die tweeslaapkamerhuis, wat spesiaal agter ’n winkelsentrum in ’n noordelike voorstad van Kaapstad vir ’n nuwe kompetisiereeks gebou is, het Suzann Potgieter (59) vir tien dae ‘oorleef’ – ten spyte van stink voete, min kos en hope drama.

Dié Jeffreysbaai-inwoner en portefeuljebestuurder by PMG, het onlangs aan VIA se nuwe werklikheidsreeks, Trap! Dis my Huis, deelgeneem.

En tien dae van die drie weke oorleef.

In die reeks, aangebied deur die aktrise Amalia Uys en die radiopersoonlikheid Zoë Brown, woon 50 deelnemers van reg oor die land vir drie weke in ’n tweeslaapkamerhuis wat net vir twee mense ingerig is, en ding mee om die prys van R1 miljoen.

In elke episode is daar speletjies, uitdagings en geheime opdragte wat uitgevoer moet word. Indien jy die uitdaging wen, is jy veilig en kan nie uitgestem word nie. Deelnemers word geleidelik uitgeskakel totdat net een oorbly wat die groot prys wen.

Die boerpot krimp elke dag, want die deelnemers moet dié beloofde prysgeld ook gebruik om eers basiese benodighede te koop terwyl hulle in die huis bly. En boonop is alles peperduur – ’n rol toiletpapier kos byvoorbeeld R1 000, ’n sespak-bier tot R5 000, ’n pakkie sigarette tot R20 000 en maalvleis tot R5 000.

Dié oorlewingstryd is in Oktober verlede jaar verfilm – daar is 61 mikrofone en 20 loerkameras om elke beweging in die huis, behalwe in die badkamer, dop te hou.

Dapper deelnemer

Potgieter, die oudste deelnemer, dink terug aan die eerste dag: “Ons mag net een krat (42cm lank, 32cm breed en 29cm hoog) saam met ons in die huis vat. Dit bevat ’n paar persoonlike artikels, soos vier stelle klere – waarvan een as slaapklere moes dien – asook een paar skoene.”

Die reëls: geen kolletjies- of strepiesklere nie, asook geen handelsmerke nie.

Verder mag deelnemers net ’n beperkte hoeveelheid toiletware saamvat. Geen shampoo, seep of tandepasta nie. Skottelgoedseep en ’n titseljie tandepasta elke dag moes vir dié ‘luukshede’ instaan.

Beslis nie voordelig vir jou skoonheidsroetine nie.

Die ergste: “My hare – die dat ek dit die meeste van die tyd vasgemaak het,” sê Potgieter.

Enige ander artikels wat hulle benodig het, soos toiletpapier of selfs kos, moes hulle uit die huis se spens koop – teen ’n onaardige prys.

Die hare waai

Volgens Potgieter het die hare reeds op die eerste dag gewaai toe van die deelnemrs kos weggesteek het.

“Sommige van die deelnemers het hulle soos aasvoëls gedra,” sê sy. “In plaas daarvan om aan almal te dink, het hulle kos en toiletpapier gegryp en dit weggesteek,” sê sy.

“Wanneer jy uiteindelik toiletpapier in die hande kon kry, het jy ’n stukkie vir ’n volgende keer se gebruik weggesteek.

“Met net genoeg kos en eetgerei (byvoorbeeld slegs vier borde en vier lepels) vir twee mense, was eet nie net ’n uitdaging nie, maar ons het almal gewig verloor. Ontbyt was ’n eetlepel mieliepap en daar was slegs bitter, swart tee om te drink – niks koffie nie.”

Potgieter, wat op die koue vloer moes slaap, sê slaap was ’n luuksheid: “Met net ’n dubbelbed in een slaapkamer en twee slaapbanke in die ander wat ook as leefvertrek dien, moes die meeste deelnemers op die vloer ’n lêplekkie vind – in ’n hoekie onder ’n warm baadjie of langs die wasmasjien – of selfs op die stoep en die kombuistoonbank.

“Dan praat ek nie eers van al die geluide en reuke wat jou snags omsingel nie. En die ligte was 24-uur aan.”

Daar is ook net twee storte.

Deelnemers het verder geen kommunikasie of kontak met die buitewêreld of hul geliefdes nie – hul selfone en horlosies word weg-gevat.

Daar is ook geen televisie om te kyk nie.

Om die tyd om te kry, het hulle gesing en speletjies gespeel.

Huiskaptein

In elke episode kies deelnemers ’n huiskaptein wat die kontantprys beheer. Dié huiskaptein besluit oor die dag se aankope en wie die trekpas kry.

“Dit is hier waar dinge begin interessant raak, want faksies word gevorm wat by die huiskaptein witvoetjie soek. Dan is daar dié wat ander plannetjies maak en alliansies vorm. Ek kom nou eers agter hoe skelm party van die deelnemers was,” vertel Potgieter.

“My strategie was van die begin af om so eerlik as moontlik te wees.”

In retrospek, sou sy haar spelplan enigsins verander om dalk langer in die huis te bly? “Moontlik, maar ek sou steeds eerlik wees.”

En wat was die eerste ding wat sy terug by haar eie huis gedoen het: “’n Behoorlike stort met lyfseep.”

Die druk raak te veel

Daar is ’n rooi streep op die punt van die huis se stoep wat aandui tot waar die deelne-mers mag beweeg. As jy oor die rooi streep tree, is jy onmiddellik uit die spel.

“Benewens die deelnemers wat uitgestem word, is daar ook dié watr self besluit om te loop,” sê Potgieter. “In sommige gevalle raak dinge net te veel vir van die deelnemers.

“Dit het minder as ’n week geduur voordat 25 mense huis toe is.”

Het sy dit ooit oorweeg om oor die streep te trap? “Nee! Ek is nie iemand wat moed opgee nie, al deel die lewe hoeveel slae uit.”

Hoekom?

Wat sou ’n mens besiel om drie weke lank saam met wildvreemdelinge in ’n beperkte ruimte saamgehok te word sonder kontak met die buitewêreld?

Potgieter lag: “Ek is baie lief vir avontuur en hou van uitdagings.

“Ek sal dit beslis vir ander avontuurlus- tiges aanbeveel. Jy moet egter beslis geduld en uithouvermoë hê, en bereid wees om jou persoonlike spasie prys te gee.”

Volgende op haar emmerskoplys: hopelik Plaasjapie, sy is reeds op die kortlys.

Plaasjapie is kykNET se splinternuwe realiteitsreeks waar 20 stads- of dorpmense (wat geen plaas- en boer ervaring het nie) na ’n plaas weggevoer word om vir ’n maand in ’n skuur te leef en werk soos boere van ouds.

  • Trap! Dis My Huis word Woensdae om 20:30 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Heruitsendings is op Vrydae om 18:00 en weer op Saterdae om 22:00.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.