Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Veronica maak mense kankerbewus

SY sit in haar sitkamer – die televisie is aan en vrolike kinderlag kom vanuit die slaapkamer.

Dié ystervrou lyk gesond, met ’n warm en innemende glimlag. Haar donker oë blink lewens-lustig agter die nuwe swartraambril. Slegs ’n paar maande gelede was alles egter anders.

Jeffreysbaai-inwoner Veronica Botes (40), ’n ma van twee jong kinders, lei ’n gesonde en aktiewe leefstyl. Al vir baie jare.

“My lewe het vir ’n paar sekondes gaan stilstaan – ek het gedink dit is die einde,” sê sy oor dié dag – 10 Julie 2019 – toe borskanker by haar gediagnoseer is. “Toe sit ek die gedagte in my agterkop.”

Minder as twee weke na sy ’n ongemaklike knop in haar regterbors gevoel het. En slegs twee dae ná sy by ’n spesialis was.

“Dié soort kanker word gewoonlik gediagno-seer by vroue wat ouer as ek is, ’n ongesonde leefstyl volg en nie oefen nie; alles wat ek nié is of doen nie,” sê Botes wat met ’n kankervrees lewe sedert haar oupa weens dié siekte oorlede is. “Ek oefen. Ek probeer gesond eet. Ek rook nie en drink nie regtig nie. Nooit het ek gedink dat dit met my sal gebeur nie.”

Tydens ’n selfondersoek – iets wat sy gereeld doen – het Botes ’n ongewone knop in haar een bors gevoel. Sy het besluit om ’n dokter te spreek, wat haar na `n spesialis verwys het.

Sy frons liggies: “Ek het die hele tyd vir myself gesê dat dit niks is nie – ek is verniet bekommerd. Toe, twee dae na dié besoek, word haar groot vrees ’n realiteit: sy het borskanker.

Haar terugbaklei het net daar begin: vir haar kinders, Janke (6) en Markus (4), en steunpillaar-man, Ryno.

“Ek het besluit ek sal nie toelaat dat die ding my onderkry nie,” sê sy. “Daar is altyd ’n lig aan die einde van die tonnel – al lyk die onbekende tonnel op daardie oomblik hoe lank en donker.

“Hoop is die groot ding – jy moet hoop hê. En jy moenie in jou eie kop klim nie.”

Herstelpad

Reeds die volgende dag – 11 Julie 2019 – is dié knop en nege limfkliere verwyder, waarvan vier kwaadaardig is.’n Lampektomie.

Botes glimlag: “Ek was gelukkig om nie my bors te verloor nie.”

Drie weke na die operasie moes sy vir magne-tiese resonansbeelding (MRI), ’n sonar van haar borste en longtoetse gaan. Toe volg meer as vyf maande van chemoterapie – van 12 Augustus tot 24 Januarie: vier giftige, rooi chemo-sessies (ook bekend as die rooi duiwel), en 12 ander chemo-sessies.

“Dit maak jou vreeslik moeg,” vertel Botes wat selfs tydens haar chemoterapie-sessies geoefen het. “Ek was baie moeg – maar ek was een van die gelukkiges, want ek was glad nie siek nie.

“Daar was gelukkig baie mense wat my ondersteun het. Dit is ongelooflik hoe familie en vriende ingespring en gehelp het, deur blomme aan te dra en met die kinders.

“En om hul hare af te skeer . . .”

Die hare waai

Veertien dae ná haar eerste chemomoterapie-behandeling het haar welige bos lang hare begin uitval.

’n Hartseertrek flits oor haar gesig waar sy ingedagte oor haar kort bruin hare vee: “Ek het net so getrek, toe kom dit uit – dit was nie eers seer nie. Dit was seker die ergste ding – ek het gewéét dit kom, maar op daardie oomblik was dit net te verskriklik vir my. Ek het vreeslik gehuil. Ek wou nie eers aan my hare vat nie, want netnou ás ek aan dit vat, val nog meer uit.

‘’Ek was verpletter.’’

Dieselfde aand nog het sy, en ’n groep ondersteuners, al hul hare afgeskeer.

“Toe dit af is, was dit `n verligting. Dit het gebeur. Nou kyk ek vorentoe.”

En nee, dit is nie net hare nie, sê sy. “En moenie sê dit groei weer terug nie – dit is nie jóú hare nie. Jy weet nie waardeur daardie persoon gaan nie.”

Middel Januarie vanjaar het haar hare is pluisies begin terugkeer. Vandag spog sy weer met ’n kop vol hare.

Nou is dit wag om hulle weer lank te kry.

Oorwinning

Botes, wat in remissie is, glimlag warm: “Mense besef nie . . . dit vat baie uit jou lyf uit.

“Die chemoterapie het my in vroeë menopause laat gaan – ek is op hormoonpille en ek moet pille vir die erge pyne in my bene drink. Asook visolie vir my gewrigte.

“Na my laaste chemoterapie-sessie moes ek tandarts toe gaan, want my mond was ongelooflik sensitief en en moes ook ’n nuwe bril kry – die chemo het my sig verswak.

“En dan is ek soms steeds moeg. Maar dit raak beter . . .”

Van moed opgee, is daar nie sprake nie – sy kies om die goeie kant van die lewe raak te sien. “Ek lewe vir die klein goedjies en fokus op wat goed is – onder meer familityd.”

Botes wil nou haar storie met ander deel om hulle te help, maar ook om groter bewusmaking rondom borskanker te skep.

Dié dat sy vanjaar aan die Algoa FM Big Walk for Cancer gaan deelneem – vir die tweede keer.

“Verlede jaar was my liggaam vol chemo. Vanjaar is dit ’n oorwinningstap,’’ sê sy.

  • Ouderdom: Die risiko om borskanker te ontwikkel verhoog met ouderdom, maar 1 uit 8 indringende borskankers word by vroue jonger as 45 gediagnoseer.
  • Familiegeskiedenis: Borskanker-risiko is hoër by vroue wie se nabye bloedfamilielede met die siekte gediagnoseer is.
  • Persoonlike geskiedenis: ’n Vrou met kanker in een bors het ’n twee tot vier keer verhoogde risiko om ook kanker in die ander bors te ontwikkel, of in ’n ander deel van dieselfde bors.
  • Digte borsweefsel:Vroue met digte borsweefsel (soos geïdentifiseer op ’n mammogram) het meer klierweefsel en minder vetweefsel, en dus ’n hoër risiko vir borskanker.
  • Oorgewig vroue of vroue met vetsug: Navorsing het getoon dat vetsug die risiko van bors- en ander kankers verhoog.
  • Leefstylfaktore: Die oormatige gebruik van alkohol, geen fisiese aktiwiteit, rook, en diëte hoog in versadigde vette verhoog die risiko van borskanker.
  • Bestraling aan die bors voor die ouderdom van 30:Bestraling aan die bors om ’n ander kanker te behandel (nie borskanker nie), soos Hodgkin se siekte of nie-Hodgkin limfoom, lei tot ’n hoër-as-gemiddelde risiko vir borskanker.
  • Hormonale omgewing: Vroue wat nog nie ’n voltermyn swangerskap gehad het nie, of wat hul eerste kind gehad het ná die ouderdom van 30, het ’n hoër risiko van borskanker in vergelyking met vroue wat voor 30 geboorte geskenk het.

Bron: Kankervereniging van Suid-Afrika

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.