Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Vind stilte en sielerus by Gonjah
Gonjah pryk met ’n wye houtdek wat ’n ongelooflike uitsig oor ’n welige inheemse woud. Dié selfsorgeenheid beskik oor twee slaapkamers, ’n badkamer met ’n stort, ’n sitkamer met ’n kaggel perfek vir koue wintersdae en ’n ten volle toegeruste oopplan-kombuis.Fotos:MONIQUE BASSON

Net 9km noord van Patensie in die skone Gamtoosvallei, lê Gonjah – die inheemse woord vir sprinkaan – met sy welige inheemse woud en bergstrome waar MONIQUE BASSON stilte en sielerus gaan vind het.

Dit is ’n “ontspan” wat jy nie maklik sal vergeet nie.

Dae ná die tyd kan ’n mens jou nog verbeel jy sien die grys streepmuishond wegkruipertjie speel en hoor die bobbejaan iewers bo die kranse roep.

Hier hoor jy die wind se swwwwisssshh deur die inheemse bos en die Kaapse bosbontrokkie tjierrr-tjierrr, terwyl die blouapies deur die takke swaai.

’n Mens wil hier by Gonjah agterbly, want hier in die kloof vind jy stilte en vrede weg van die alledaagse gewoel.

Loop in ’n landskap wat stilbly en rondkyk vra.

Gonjah

Op die R331, in die rigting van die Baviaanskloof, draai ons regs by die padteken wat sê Gonjah Boerdery en volg die aanwysingsborde.

Die oogbederf kom gou met die helder winterson wat baldadig deur die rye en rye lemoenboorde dans – terwyl opgewekte plukkers in die verte sing en fluit. Koeie loer lui-nuuskierig onderdeur hul lang wimpers en ’n loerie vlieg kôk-kôk-kôk oor ons.

Die grondpad kronkel tot by Gonjah aan die regterkant. ’n Donker-oranje kothuis pryk met ’n wye houtdek wat ’n ongelooflike uitsig oor ’n welige inheemse woud.

Dié selfsorgeenheid – omring deur kleurvolle bos, bergstrome, golwende heuwels, valleie en wilde diere – beskik oor twee slaapkamers, ’n badkamer met ’n stort, ’n sitkamer met ’n kaggel perfek vir koue wintersdae en ’n ten volle toegeruste oopplan-kombuis.

Die bekendste voëls hier is die geelborskleinjantjie, Kaapse bosbontrokkie, boskrapper, witkruisarend, vuurvinkie, neushoringvoël, ge-vlekte muisvoël, naguil en bosuil.

Die Knysna-loerie bly ook hier.

Boksoorte sluit in bosbok, duiker, grysbok, klipspringer, ribbok, blouduiker, koedoe, impala, njala en rooibok.

Hou dop vir bosvarke, ape, dassies en rooikat.

Dít alles in bietjie minder as ’n uur se ry van Jeffreysbaai af – sowat 65km.

Ongelooflik.

Vroeg die Saterdagoggend doop ons rustig tuisgemaakte beskuit in ’n stomende koppie koffie sonder bedelhandjies en -gesiggies – dankbaar dat vorige besoekers nie die blouapies gevoer het nie.

Stap

Na vinnig uitpak en bietjie rondkyk (in verwondering oor wat hier vermag is), pak ons die droë rivierloop reg by ons akkommodasie aan – reg om die omgewing te verken.

Salig op ons eie tyd.

Af by die klein steilte en links verby die kot-huis.

Buk-buk onderdeur die ruie plantegroei . . . dan weer al springend oor die rivierklippe – mooi trap.

Ons loop in ’n landskap wat stilbly en rondkyk vra. Geelhout, witstinkhout, nieshout, wilde katjiepiring, olienhout, melkhout, wildevy, gwarrie, kershout en malblaar is ’n paar van die bome, sommige reusagtig, wat ons swyend groet.

’n Paar bosmusikante kom loer nuuskierig na ons en in die verte hoor ons ’n bobbejaan groet.

Geen water is in sig nie – die droogte het sy tol geëis.

Ons neem foto’s met ons oë en bêre dit in ons geheue vir later se weer-onthou. Geen foto kan dié landskap weergee nie, en geen woord kan dit raak beskryf nie: blou bergreekse, klowe, ruigte, bosse en hemelhoë bome.

Net die water kort.

Die son is naby aan pajamas-aantrek en ons besluit om terug te draai.

Hou maar die deure en vensters toe. Jy wil nie vir aap steelmaniere leer nie.

Terug by die kothuis

Terug by die kothuis sit ons tot laataand buite, terwyl ons vuurtjie knetter.

’n Grys streepmuishond kom loer nuuskierig om die draai – hy waag dit ’n bietjie nader, maar verdwyn dan blitsvinnig onder die houtdek met ’n ‘gesteelde’ lemoen in sy voorpote.

So af en toe maak ’n bobbejaan sy stem dik.

Ons kuier word een van stilte en rus.

Huiswaarts

Vroeg die Saterdagoggend doop ons rustig tuisgemaakte beskuit in ’n stomende koppie koffie sonder bedelhandjies en -gesiggies – dankbaar dat vorige besoekers nie die blouapies gevoer het nie.

Maar hou maar die deure en vensters toe. Jy wil nie vir aap steelmaniere leer nie.

Gggggirrrrrtttsssss! raas die bosse soos die apies laat spaander toe ons naderhand opstaan – blare reën op ons neer..

Ons stap vir oulaas in die droë rivierloop, maar nie te ver nie . . . dan is dit tyd vir huiswaarts keer.

  • Hoe kom ek daar? Ry vanaf Patensie ongeveer 9.5km in die rigting van die Baviaanskloof. Draai regs by die Gonja Boerdery-bord en volg die grondpad deur die klofie.
  • Tel op: Stop by Tolbos in Patensie tussen 09:00 en 14:00 vir die sleutel.
  • Doen: Gonjah bied twee 4x4-roetes: ’n 12km-roete van nagenoeg drie ure, asook ’n 20km-roete van ongeveer vyf ure. Met ’n klim van 570m, bied die roete ’n pragtige uitsig oor die vallei en Cockcomb-berg.
  • Geen ontvangs: Daar is geen ontvangs nie – dus geen selfoon wat kom intjip nie.
  • Skakel: Skakel Carin Scheepers by 082 821 0821 of Hetsie Scheepers by 082 566 4047.
  • Meer inligting: Besoek www.baviaans.net/gonjah.
’n Grys streepmuishond het skaam-skaam kom groet.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.