Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
12 vrae aan Naomi van ‘Binnelanders’
Je-Ani Swiegelaar as Annetjie “Vleis” de Vries. Foto: Natalie Gabriels

In Sê my naam soos ’n Starbucks knaap speel Je-Ani Swiegelaar die rol van Annetjie “Vleis” de Vries, waar sy op die lughawe sit en wag vir haar vlug na Amsterdam. Sy het nou genoeg gehad van haar lewe as die oudste van 13 kinders – wat sy alleen moet oppas, aangesien haar suiplap-pa net mooi boggerôl omgee.

Sy wil met haar troetelmarmot aan haar sy ’n nuwe blaadjie omslaan in Europa en haarself ’n bietjie begin eerste plaas. Laat Annetjie jou meer vertel oor haar beste vriend Sarel Meintjies, haar rampspoedige matriekafskeid en die Starbucks-kelner wat haar hart omgedop het. ’n Solovertoning met hart, murg en artisan-koffie.

Die teks is deur Wessel Pretorius en regie deur Gerrit Schoonhoven.

Krit het met haar gesels oor haar rol.

1. Jy is gewoond aan die televisie-ateljees vir jou rol as suster Naomi Ferreira in die kykNET-sepie Binnelanders. Hoe voel dit om op die verhoog te wees?

Dis verruklik! Kyk, ek is ’n teateropgeleide aktrise, so die teater sal seker altyd my eerste liefde wees. Daar is iets aan ’n verhoog wat beide angs en adrenalien meng in ’n endorfien-konkoksie wat moeilik is om te weerstaan.

Daar is uit die aard van die saak heelparty verskille tussen teater en televisie – een van die mees opvallende is die onmiddellike reaksie wat jy by jou gehoor kry. Dit gee ’n heel ander dinamika aan ’n mens se toneelspel.

2. Wat het jou aangetrek tot die rol en hoe het jy en Wessel bymekaar uitgekom?

Ek en Wessel het saam geswot. Ons ken mekaar al amper solank as wat ek droom van ’n loopbaan in die uitvoerende kunste. Ek wou vreeslik graag nog altyd ’n eenvrou-vertoning doen en toe besluit ek om Wessel te kontak om vir my ’n stuk te skryf.

3. Wat bewonder jy in Wessel se teks?

Wessel het ’n eiesoortige manier om stories en veral karakters op so ’n mate in te kleur met sy woorde dat die gehoor voel hulle sien die karakter en die milieu reg voor hulle, soos ’n film teen ’n silwerdoek.

4. Julle het by Aardklop debuteer, wat was die ontvangs van dié gehore?

Je-Ani Swiegelaar as Annetjie “Vleis” de Vries.Foto: Natalie Gabriels

Ons het baie goeie terugvoering gekry, en ons het baie goeie huise gehad. Daar was wel ’n paar tannies wat toe maar uitgeloop het oordat “Naomi op die verhoog vloek”, maar ek dink dat kuns juis polariserend moet wees. Dit was vir my juis belangrik om ’n karakter te speel wat ver van “Naomi” verwyder is.

5. Hoe was jou eerste vertoning Maandag op die KKNK?

Ons het so ’n klein bietjie rondgehardloop om alles reg te kry, maar dit was ’n lekker eerste vertoning. Die gehoor was baie ontvanklik en die tegniese span – Werner, Liesl en Yvette – het my verskriklik beïndruk.

6. Wat geniet jy van die rol?

Ek bewonder Annetjie (Vleis) se eerlikheid. Daar is iets so rou en eg aan iemand wat 100% eerlik is oor hul omstandighede, hul lewe en meer as alles – hulself. Dit sorg vir ’n baie interessante storie en karakter.

7. Is dit vreesaanjaend om alleen op die verhoog te wees?

Dit kan nogal vreesaanjaend wees, omdat al die verantwoordelikheid op een mens se skouers rus, maar daar is ook iets opwindends daaraan omdat jy basies volle beheer oor die hele trant van elke individuele vertoning het.

8. Is daar enige deel van Annetjie se karakter waarmee jy kan identifiseer?

Ek dink mense het haar al baie in Annetjie se lewe misgekyk of oorgekyk, en sy moes baklei om raakgesien te word. Ek kan ’n bietjie daarmee identifiseer – maar soos Annetjie is ek ook ’n fighter en ek (ons) baklei maar vir ons plekkie in die son.

9. Hoe voel dit nou om ná jou ernstiger rol van Naomi ’n komiese rol te speel?

Dis heerlik verfrissend. ’n Mens kan soms ’n bietjie “geroes” voel wanneer jy ’n nuwe karakter begin speel nadat jy so lank dieselfde karakter gespeel het, maar dis ’n briljante uitdaging en een wat ek met graagte wou aanpak.

10. Is komedie vir jou maklik of is dit harde werk?

Komedie is altyd harde werk. Of soos die Engelse gesegde lui: “Comedy is a serious business.” Maar ja, ek hou daarvan om mense te laat lag in my alledaagse lewe – so ek dink dit kom redelik natuurlik aangesien ek redelik “geoefen” is daarin.

11. Watter rol is nader aan jou eie lewe: Naomi of Annetjie?

Dis ’n moeilike vraag om te antwoord, want daar is soveel ooreenkomste tussen my en albei karakters. Maar ek dink Naomi is ’n realis, effens skaam en altyd daar vir haar vriende, so ek vereenselwig my baie meer met haar.

12. Waarheen gaan die vertoning ná die KKNK?

Die Kalfiefees in Hermanus, die Patriotteater in Pretoria en hopelik later vanjaar ’n toer deur my geboorteland: Namibië.

  • Sê my naam soos ’n Starbucks knaap, komedie, kykNET Hoërskoolsaal, Woensdag om 09:30.
Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Krit  |  Binnelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.