Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
3 broers. 3 verhale. 1 plaas.
Geon Nel as die oudste broer, Frans, Albert Pretorius as die middelkind, Ronnie, en die jongste broer, Andries (De Klerk Oelofse). Foto’s: Nardus Engelbrecht

Nêrens is ’n plaas in die Noord-Kaap waar drie broers saam grootgeword het. Ons leer gou elke huis het sy kruis. Party het drie.

Die broers word in dieselfde huis groot, maar hul lewens word onherroeplik verander deur die afsterwe van hul ma op ’n jong ouderdom onder tragiese omstandighede.

Elkeen se belewenis van die gebeure is egter uiters uiteenlopend. Elkeen het deur dieselfde tragedie geworstel en op dieselfde grond grootgeword, maar tog ontwikkel hulle in drie jong mans met uiteenlopende persoonlikhede.

As ’n mens wou, sou jy ’n wonderlike Freudiaanse analise kon doen van die hele gesinsdinamika. Kom ons volstaan net by: dis gekompliseerd.

Nêrens, Noord-Kaap boor ’n aar raak van gedeelde belewenis en laat die gehoor beslis nie onaangeraak nie. Foto: Nardus Engelbrecht

Frans (Geon Nel) is die oudste broer. Hy boer op Nêrens. Hy is enkellopend, versorg hul pa en maak seker die familieplaas word goed onderhou. Hy is ’n Boesmanlander in murg en been. Die grond en skaap is sy maters. Sout van die aarde.

Ronnie (Albert Pretorius) is die middelkind. Hy is al twee keer geskei, het ’n seun, Lourens, wat net elke tweede naweek by hom kan kuier en die een besigheidsplan ná die ander faal.

Andries (De Klerk Oelofse) is die jongste broer. Hy het ná skool sy rugsak gevat en geloop en reis sedertdien deur die wêreld. Hy was ses jaar laas by die huis.

Die drie broers se pa verjaar en almal besluit om vir die groot 60ste verjaardag op te ruk Nêrens toe. In die lig van die wedersiens vertel die broers hul verhaal aan die gehoor.

Daar is bykans geen interaksie tussen die broers op die verhoog nie, maar die dialoog vloei in
poëtiese sketse van broer na broer. Elkeen staan op hul blokkie op die verhoog, in ’n ry van oudste na jongste. Elkeen kry ’n spreekbeurt wanneer die kollig op hom val.

Dit raak in ’n mate ’n moderne weergawe van die gelykenis van die verlore seun.

Nico Scheepers (Amper, Vrystaat) se teks en regie is slim, volwasse, vol patos en hope humor. Die karakters wat hy skep, is volrond en eg. Ek herken al drie van die broers. Jy sal hulle ook ken – dit is dalk ’n oom, of ’n neef of ’n ou skoolvriend. Ons almal ken hulle.

Dit tref diep. Dit boor ’n aar raak van gedeelde belewenis.

Nel, Pretorius en Oelofse werk al vir jare saam en ’n mens kan dit sien. Hulle lyk en voel soos regte broers en vorm ’n hegte ensemble wat die gehoor in die palm van hul hand hou.

Terwyl ek in die vertoning sit en trane afdroog, kyk ek na die mans op die verhoog. Hulle staan soos drie standbeelde in die lig: simbole van gebroke verhoudings, van misverstande en van hoop op versoening.

Die saal was gepak met die vertoning wat ek bygewoon het en die gehoor het sonder aarseling aan die einde van die vertoning opgespring.

Dit tref diep. Dit boor ’n aar raak van gedeelde belewenis.

Scheepers is ’n fyn waarnemer wat ons intrek met sy humor en dan aan die einde met ’n linkerhaakhou uitslaan.

Dit spreek tot ons diepe verlange tot verbintenis, om deel te voel van ’n familie en die tragiek wanneer daardie verwagtinge onvervuld na ons teruggeslinger word. Die ensemble laat jou eers krul van die lag en dan moet jy duik vir die snesies.

Nêrens, Noord-Kaap is een van die fees se produksies wat jy móét sien.

  • Nêrens, Noord-Kaap. Drama. Laerskool van Reede. Dinsdag om 16:00 en Woensdag om 12:00.
Meer oor:  De Klerk Oelofse  |  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.