Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Adriaan Basson: ‘Goeie mense hou land staande’

Die tien jaar onder Jacob Zuma was ’n algehele tragedie vir Suid-Afrika. Die land het nog nie die volle omvang besef van die skade wat dié vorige president aangerig het nie.

Sy verwydering uit dié hoogste amp was allermins net deur die toedoen van politici en howe – eerder deur die vasbeslotenheid van ondersoekende joernaliste op wie se radar Zuma en sy meelopers jare lank was.

Ivor Price en Adriaan Basson ná afloop van hul gesprek oor Adriaan en Pieter du Toit se boek Enemy of the People. Foto: Marlene Malan

Adriaan Basson, medeskry­wer van die boek Enemy of the People, het in die Boekgespreksreeks vertel hy en Pieter du Toit het tydens hul skryfproses al hoe meer onder die indruk gekom van Zuma se tentakels in bykans elke deel van die samelewing, met een doel – om Suid-Afrika te stroop.

“Hy het slim te werk gegaan. Sy visier was nie in die eerste plek op die land nie – hy het eers die ANC gekaap; daarna was dit makliker om die staat te kaap. Vandag weet ons elke sent wat aan korrupsie bestee is, is nie bestee aan die land en sy mense nie. Onder sy regering was vernietiging aan die orde van die dag. Semi-staatsinstellings is die een ná die ander afgetakel. Hy het ontslae geraak van ministers wat gedink het hulle kan dinge van binne die ANC verander. Ek praat van mense soos Pravin Gordhan en Derek Hanekom. Verder was daar twee dinge wat Zuma gedryf het: Om uit die tronk te bly en om so ryk moontlik te word.”

Die titel van dié boek is gekies omdat Suid-Afrikaners begin terugveg het teen dié vergrype.

“As dit nie was vir die burgerlike samelewing en die morele onderbou nie, saam met die wonderlike nieregeringsorganisasies wat die hof begin gebruik het om die staat terug te vat, was ons dalk nog steeds in die gemors.

“Die DA moet erkenning kry, so ook die EFF met sy slagspreuk Pay back the money. Maar uiteindelik is die land staande gehou deur goeie mense. Ons moenie dat ons aandag afgelei word hiervan nie. Ons moenie hoofsaaklik fokus op die ekstremiste nie. Net, die kerke was nogal stil . . .”

Ons land het die pad van etiese gedrag byster geraak, maar ons is besig om ons morele kompas terug te kry.

Die media het ’n reuse-rol gespeel om die korrupsie en wanbesteding van die Zuma-regime aan die kaak te stel. Die volgehoue ondersoekwerk van sowat 30 joernaliste in die land, van verskillende mediahuise, het grootliks bygedra tot die val van Zuma en sy vriende soos die Gupta-broers.

“Die Guptas is ’n internasionale sindikaat van geldwassers. Hul aandag was maar net ’n paar jaar lank op Suid-Afrika. Duduzane Zuma het as tussenganger tussen hulle en die regering opgetree. Die Guptas het later genoeg invloed en gesag gehad om ministers aangestel te kry om transaksies blitsvinnig in hul guns te beklink. Ons sal nooit weet hoeveel geld gesteel is nie. Dit word geraam op meer as ’n triljoen rand.”

Die Guptas se groot fout was dat hulle nooit gedink het Cyril Ramaphosa gaan tot leier van die ANC en die land verkies word nie.

“Hulle was toe nie gesofistikeerd genoeg nie.

“Ons land het die pad van etiese gedrag byster geraak, maar ons is besig om ons morele kompas terug te kry. Dinge is onder Ramaphosa besig om te verander.”

Meer oor:  Kknk 2018  |  Adriaan Basson  |  Ivor Price  |  Oudtshoorn  |  Boekgesprekke  |  Vermaak  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.