
Daniel Hugo, Antoinette Pienaar en oom Johannes Willemse. Foto: Marlene Malan
Dis al 17 jaar dat Antoinette Pienaar die natuur-pad saam met oom Johannes Willemse stap. Nie net om die geheimenisse van kruie te ontdek nie, maar ook om te leer hoe om stilte en afsondering te omarm.
Antoinette en oom Johannes het Donderdag hul boek Die lang man sonder skaduwee bekend gestel by die KKNK-Boekgesprekreeks, onder leiding van Daniel Hugo. Van dié boek het Hugo gesê: “Dis die beste boek wat ek vanjaar gelees het.”
Antoinette is nie verbaas oor die Karoo-pad wat sy op 41 begin loop het nie, “want ’n mens word met ’n pad gebore”. En oom Johannes (87) is nóg minder verbaas oor die vrou wat by hom oor “bossies” kom leer het, “want jare gelede het ek ’n gesiente gehad dat so ’n vrou op Tierfontein sou opdaag aan wie ek my kennis moet gee”.
“Toe ek die eerste keer na Tierfontein se volmaan gekyk het, was daar ’n begeerte in my om oor die natuur te weet. Hier het ek geleer dis die kruie van jou streek wat die kruie is wat jou gesond maak.”
Maar die Karoo-lewe by Beaufort-Wes se kant het ook gesorg dat sy ’n ánder droom kon verwesenlik, “en dis om ’n trop honde te hê, sodat ek kon sien hoe mý trop werk. My vyftien windhonde het ’n bepaalde soort energie. Toe die leier laas Oktober dood is, was my skouers geboë, en die groep was rigtingloos, omdat hulle nie geweet het hoe die hiërargie nou werk nie. Toe, eendag, kom enetjie by my, die nuwe leier, en sê vir my: ‘Lig op jou kop’. Diere leer jou om jou eie binnelandskap beter te verstaan.”
Oom Johannes vertel elke mens het ’n boompie in die hart. “Jy moet elke dag stil word en onder die boompie gaan sit. Jy moet jou boompie water gee, jou trane . . . maar dit hoef nie hartseertrane te wees nie. En so vind jy die fontein binne-in jou. Solank jy net sorg dat jou boompie vrugte dra.”
Op hul staptogte tussen die Karoo-bossies het die twee die krag van raaisels ontdek. “As ons moeg word van die stappery, sê ons raaisels op, om en om gaan dit in jou kop,” sê Antoinette.
“Die Here het vir jou ’n ronde kop gegee, sodat die raaisel daarbinne kan draai. Dan kom jou gedagtes los. As jou lewe vol sukkel is, dan help ’n raaisel jou. Ek gee soms vir Antoinette ’n raaisel om op te los, al vat dit haar maande: Soos . . . my pa skiet ’n patrys, en die hele huis hang vol vleis . . . Of wie is die lang man sonder skaduwee?”
In die stilte van die landskap het Antoinette ontdek genesing vir die liggaam lê in kruie. Maar daar is ook krag vir haar in oom Johannes se wysheid, in haar diere, in sy rympies en raaisels, in lag en huil, en om ure lank alleen te sit en skryf.