Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
ATKV-Speelbos is pretparadys vir kroos
Muller Scholtz (4) en sy boetie Richter (6, heel regs) het saam met hul ouma Erika en oupa Faan Bester van Oudtshoorn in die Speelbos kom kuier en vir hulle van die vrolike kostuums aangetrek. Foto: Natalie Gabriels

“Maar wat maak ons met die kinders by die fees?” hoor ek ’n paniekbevange ouerpaar vir mekaar fluister. Swart kringe onder die oë vertel die verhaal van ’n láng kwartaal. Die ouers het planne en die kinders het behoeftes – twee goed wat nie altyd versoenbaar is nie. En nege uit die tien keer is dit die kinders se behoeftes wat seëvier.

Met ’n energieke feesprogram vir die jonger feesgangers is daar uitkoms. Met die feesterrein wat ’n nuwe kapsel gekry het, het die feesorganiseerders besluit om die immergewilde kinderparadys, die ATKV-Speelbos, na die Kuierbuurt te verskuif. Dit maak sin, want in die Kuierbuurt is daar baie meer vir die ouers om te doen. Terwyl Boet en Sus dus besig gehou word, kan die ouers ontspan en aan volwasse “ontlading” deelneem. Dis ook waar die grootste hoeveelheid kinders is en is meer toeganklik vir die ouers in die hart van die feesterrein.

Die aanbiedings vir die jong feesgangers is heerlik. Dis nou die jonk van vlees wat herlaaibare energieselle produseer wat met die inname van suiker eksponensieel vermeerder en tot volwasse hoofpyne lei. Vir dié wonderlike groep is daar ’n program saamgestel wat hulle met allerhande verrassings in die ATKV-Speelbos vermaak en inspireer – of soos Ouma sou sê: stimuleer. Musiek, teater, kunsvlyt, speletjies, interaktiewe aktiwiteite en installasies hou die jongspan besig en help om oortollige energie te verbrand.

Die Speelbos se ontwerp is speels, kleurvol en ruim. Met die intrapslag word ek amper omgehardloop deur ’n oorentoesiastiese driejarige wat ’n oranje klavier opgemerk het en doelgerig daarop afpyl. ’n Reuse-insek klap my amper teen die gesig en kinders in reusestewels jaag mekaar rond. As jy nie kinders gewoond is nie, is dit genoeg om jou na die biertent te jaag. Maar vir ’n kind is dit ’n absolute speelparadys. Die Uitkampteater-tentjies is heel gepas binne-in die Speelbos geleë en kinders en ouers kan die kort maar kragtige vertonings daar geniet.

Crafty Kids laat die kinders speel-speel kreatief wees terwyl hulle met verskillende materiale werk en nuwe tegnieke aanleer. Dis meer as net spoeg en plak. Hulle doen elke dag iets anders, so die jongspan kan sommer elke dag ’n draai maak. Alle materiaal is ingesluit en jy kan jou kunswerk saam huis toe vat. Sorg net dat daar plek op die yskas is.

  • Speelbos is in die Kuierbuurt in die hoekie langs Liplekker.
Meer oor:  Atkv  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Kinders  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.