Baie mense vind die konsep van meditasie nog vreemd, “en dink dis iemand wat op ’n fluit speel om ’n slang uit ’n mandjie te laat verrys, of om op ’n bed met ysterpenne te lê”.
Maar dis die verste van die waarheid, sê die joernalis, joga-instrukteur en skrywer Johannes de Villiers.
“Meditasie is nie iets waarvoor jy Indië of Mianmar toe moet vlieg om te doen nie. Jy kan stil word en konsentreer op daardie stilte binne-in jou, net daar waar jy nou is”.
De Villiers se boek Kalmte in die malle gejaag – mindfulness vir besige mense het pas verskyn. Hy het aan Daniel Hugo gesê hy wou so ’n boek in Afrikaans skryf, “ ’n taal wat nog nie ’n volledige woordeskat vir al dié begrippe het nie. Dis lekker om kreatief om te gaan met Afrikaans om woorde te vind wat werk. Ek en my uitgewer, Annake Müller, het baie gedink oor mindfulness – maar woorde soos ‘aandagtigheid’ of ‘sielvolheid’ of ‘teenwoordigheid van gees’ wou nie heeltemal werk nie.”
Jy kan goeie gewoontes in jou brein “inoefen”, volgens De Villiers, “as jy net eers van die geraas in jou kop ontslae raak. Skep ruimte vir jouself om die stilte in jou kop na te jaag. Konsentreer op wat jy doen – selfs al skrop jy ’n vloer. Maak jou sintuie skerper, want die wêreld is vol betowerende dinge. Die term wat gebruik word om jou denkpatrone te oefen, is neuroplastisiteit. Dit beteken ook dat jy van slegte gedagtes in jou brein ontslae kan raak. Om te mediteer, is om georkestreer beter gedagtes in te oefen, en slegte gedagtes daaruit te oefen. Jy kan leer om, as iets slegs met jou gebeur het, die stof daarvan vriendelik van jou voete te skud. Hê ’n post mortem in jou oor slegte ervarings, maar daarna sit jy dit neer. Oefen om op te hou tob.
“Moenie altyd probeer om jouself na ’n bepaalde punt toe te bestuur nie. Aanvaar jouself met foute en al. Kom ’n bietjie weg van wie jy dink jy is of behoort te wees. Kyk wat jy nuut in jouself kan ontdek.”
Kom ’n bietjie weg van wie jy dink jy is of behoort te wees. Kyk wat jy nuut in jouself kan ontdek.
Mense konsentreer te veel op sosiale media, “met ’n konstante blootstelling aan skerms. Navorsing is al gedoen oor die hoeveelheid ure wat mense op die internet deurbring – uit vyf uur bestaan net een uur uit die werklike rede waarom hulle daar is; tydens die ander vier word hul aandag afgelei en reis hulle doelloos rond.”
Net so maak nuusgebeure mense onrustig, en daarteen moet jy waak.
“Raak rustig aan die einde van die dag. Moenie saans saam met Jacob Zuma, Donald Trump of Julius Malema in die bed klim nie.”