Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boekgesprekke: ‘Daar is 23 sessies in 7 dae!’

Daniel Hugo lig die sluier oor die reeks boekegesprekke wat vanjaar daagliks by die KKNK aangebied word – van kookboeke tot digkuns, misdaadromans en joernaliste se niefiksie.

Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

Daar is vanjaar ’n besonder vol en geskakeerde skrywersprogram met 23 gesprekke binne sewe dae! Boeke wat onlangs verskyn het, en van alle soorte, kom aan die bod. Drie kookboeke word byvoorbeeld bekendgestel, met kosdemonstrasies deur Annelien Pienaar, Martelize Brink en Herman Lensing.

Die joernalis André le Roux gaan oor twee van sy boeke kom gesels: Waarom mans altyd reg is en Narsiste, psigopate, stalkersen sadiste. Media-bekendes soos Rian van Heerden en Hykie Berg gaan hul stories kom vertel.


1. Wat by vanjaar se KKNK staan vir jou kop en skouers bo die res uit?

Op die gevaar af dat ek van narsisme of nepotisme beskuldig kan word, sonder twyfel die optrede van die Nederlandse joernalis Frank Westerman. Ek het sy boek El Negroin Afrikaans vertaal. As student het Westerman in 1983 deur Spanje geryloop en toevallig in die dorpie Banyoles beland. Die grootste besienswaardigheid in dié Katalaanse gehug was ’n opgestopte swart man uit Suider-Afrika. Die boek handel oor sy speurtog na die identiteit van “El Negro”. In die proses beskryf hy nie net die 19de eeuse kwasi-wetenskaplike opvattings oor mens en dier nie, maar ook ons hedendaagse vooroordele teenoor mense van ’n ander kleur. Ooreenkomste met die geskiedenis van Saartjie Baartman word uitgewys. Die hele kwessie van kolonialisme en ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld vorm ’n belangrike onderdeel van die verhaal. ’n Aktuele en fassinerende boek!

2. Die poësie kry besondere aandag in drie verskillende sessies. Waarom?

Die digkuns is in die verlede ’n bietjie afgeskeep in die skrywersprogram. Die digters wat hul verskyning gaan maak, is die veteraandramaturg Pieter Fourie wat die literêre wêreld verlede jaar verras het met sy debuut as digter op 77-jarige ouderdom. Hy het nie op sy louere gerus nie en kom nou sy tweede bundel, Bidsnoer, bekend stel. Die digter van Cradock, Clinton V. du Plessis, het hom nog altyd doelbewus buite die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde gehou. Hy het egter besluit om met sy jongste bundel, Aantekeninge teen die skemeruur, die kollig te betree.

Die boekeprogram word afgesluit met ’n plesierige voorlees-sessie deur Pieter Fourie, Jolyn Philips, Clinton V. du Plessis en Daniel Hugo. Daar is ook ’n gesprek met Hendrik Hofmeyr en Laurinda Hofmeyr oor hul toonsettings van gedigte. Pieter Fourie gaan verder saam met Amee Lekas en Marthinus Basson deelneem aan ’n diskussie oor drama en gemeenskap. Pieter Fourie gaan beslis ’n besige tyd op Oudtshoorn tegemoet!

3. Daar is lekker spanningsromans, whodunnits. Dink jy dit gaan vanjaar vol sale trek?

Misdaadromans is op die oomblik die gewildste letterkundige genre wêreldwyd. By ons het dié verhale bykomende trefkrag omdat Suid-Afrika in ’n wurggreep van misdaad en geweld verkeer. Misdaadromans reageer dikwels baie vinnig op aktuele gebeure. Dit hou ’n spieël aan ons voor waarin ons verskeurde samelewing uitgebeeld word, maar wat in die beste gevalle ook perspektief en insig bied. Die skrywers wat aan die misdaadgesprek gaan deelneem, is Chris Marnewick, Rudie van Rensburg en Irna van Zyl.

4. Die laaste paar jaar is daar ’n opbloei van joernaliste wat boeke skryf en dit feature ook op die KKNK se boekprogram. Hoe belangrik dink jy is dit?

Die joernaliste verskaf die feite en die romanskrywers maak fiksie daarvan om sin te maak van ons samelewing en menswees. Suid-Afrikaanse verslaggewers het die afgelope tyd nie net boeke geskryf oor moorde nie; hulle het ook gehelp om regeringskorrupsie oop te vlek en ’n president te onttroon. In die eerste kategorie gaan Julian Jansen praat oor sy boek Die De Zalze-moorde. Wat die ondersoekende politieke joernalistiek betref, is daar Jacques Pauw met sy The President’s Keepers en Adriaan Basson met Enemy of the People, wat hy saam met Pieter du Toit geskryf het. Suid-Afrika beleef opwindende tye en dit word in ons boekproduksie weerspieël. Dié onderhoud het eers in Die Burger verskyn.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Boekgesprekke  |  Boeke  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.