Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Cintaine Schutte: ‘Ek maak beste van élke rol’

Cintaine Schutte as haar Half-leeg-karakter laatnag op die voetbrug oor Langenhovenweg by die Griesselsaal in Oudtshoorn. Foto: Nardus Engelbrecht

In die verhoogstuk Half-leeg sit haar karakter in ’n kroeg en wag. Maar Cintaine Schutte se loopbaan snel voort en sy wag vir niks. Wim Vorster het gaan uitvind hoe sy al die balle in die lug hou.

1. Wat is daar wat jy wil hê jou gehoor, jou publiek, van jou moet weet en wat nie?

Ek is nou op ’n punt of plek in my lewe waar ek deur dinge werk – goeie goed – want ek is pas 30 en op ’n nuwe reis van of in my lewe en ek voel my familielede en vriende is vir my heilig.

Ek moet hulle beskerm, want hulle beskerm my. Mense kan maar weet dat ek eintlik baie skaam is. Nogtans maak ek tyd om met mense, selfs vreemdes, te praat, want ek waardeer kritiek as dit gesond en opbouend is.

Mense moet van hul kant af ook nie skaam wees om húl stories met jou te deel nie. Ons het ’n stuk gedoen, Winterboom, en toe het daar ná die tyd ’n vrou na my toe gekom wat op soek is na haar biologiese ma. En sy het verduidelik dat sy sekere dinge nie kon glo nie en hoe sy sukkel. Dit het my só gehelp.

Jy kan net soveel navorsing doen, maar as jy eerstehands van mense verneem, maak dit jou taak van karakterontleding en vertolking soveel makliker.

Ek is, dankie tog, verby die Half-leeg-stadium in my lewe, maar as daar een meisie, of man, in die gehoor kon sit wat agterna kan sê: “Sjoe, ek is bly. Ek is nie mal nie. Daar is ander mense wat ook sulke ervarings beleef,” dan het die skrywer/regisseur Tara Notcutt en ek in ons doel geslaag.

Daar is mense, veral vroue van ’n sekere ouderdom, wat minder opgetrek is met die stuk, maar dis ook goed so.

2. Eenmaal het ek teenoor jou genoem jy moet nie meer die verontregte karakter speel nie, al doen jy dit hoe skitterend. Nou het jy verder gevlieg.

Half-leeg is nie ’n storie met twists and turns nie, maar dit spreek tot mense.

“Teater, die verhoog, is altyd lewendig en altyd opwindend.” Foto: Nardus Engelbrecht

Daar is wel een klein kinkel, en soos jy gehoor het, het een vrou amper haar kleintongetjie ingesluk en op my beurt het ek amper gelag, want hoe kon sy nie voorsien wat gaan kom nie?

Teater, die verhoog, is altyd lewendig en altyd opwindend. Ek hou my foon aan tydens die vertoning, want ek word gebel en moet bel. Toe kry ek ’n Whats­App van Wilhelm (van der Walt) in die showen ek moes veg om fokus te behou! Gelukkig hou die teks my vas.

My teorie is dat daar nie meer goeie tekste is met karakters wat mekaar konfronteer en ontwikkel en ’n verhaal vertel nie. Daarom al die sogenaamde postmodernistiese allegaartjies.

Ek glo die haakplek is dat ons nie genoeg tyd en liefde en uiteraard geld in ons skrywers belê nie. Ek kan nie namens dramaturge praat nie, maar ek weet van skrywers wat met produksiehuise onderhandel ten einde hul werk opgevoer te kry, maar hulle word nie betaal wat hulle betaal moet word nie.

Hulle word ook nie die tyd gegun om die tekste deeglik te ontgin en af te rond nie. Van ons heel beste skrywers doen ander werk om aan die lewe te bly en moet dan iewers tydjies maak om te kan skryf.

Dis wonderlik om in klassieke werke te speel, maar ek wil graag ook karakters vertolk in ons eie stories wat deur ons eie skrywers vir die verhoog geskep word. Daar moet mentorskap wees.

Ek weet van dramaturge wat hul tekste oor en weer stuur en mekaar help sonder dat dit bekend gemaak word.

3. Hier kom die ou goor vraag, want dit word beweer dat akteurs nooit die rol of karakter van hul drome vertolk nie. Het jy so ’n droomrol?

Nee, ek wil net werk. Solank ek werk, is ek tevrede. En ek probeer om van élke rol die beste te maak.

4. Maak jy 'n ordentlike bestaan?

Gelukkig het ek ’n spaarrekening, want daar kom droogtetye wanneer daar nie werk is nie. In die afgelope tyd het ek gereeld werk. Ook nou die bietjie televisiewerk (Kasteel). Dis jammer dat daar nie ’n module is wat toneelmense leer hoe om te begroot nie, ook vir produksies en dies meer.

Eintlik haat ek geld, want dit mag ’n mens nie definieer of beperk nie.

Cintaine Schutte: “Teater, die verhoog, is altyd lewendig en altyd opwindend.” Foto: Jaco Marais

En wat betref bywoning: Net die loket mag daardeur beïnvloed word, want al is daar min mense, hulle het kaartjies gekoop. Dis nie húlle skuld dat die saal leërig is nie. Hulle verdien ook ’n goeie aanbieding. Die aantal mense in die gehoor is nie die bepalende faktor nie.

Toe ons begin het met Brecht se Moeder Moed in Bloemfontein, vertel hulle ons die openingsaand is gekanselleer, want daar is geen gehoor nie. Maar my pa en ma het spesiaal van Pretoria gery en in ’n gastehuis oornag vir dié gebeurtenis. Toe speel ons. Net vir hulle. Vir my sal dit altyd iets besonders wees.

Om terug te kom by jou vraag of ek ’n bestaan maak . . . op die oomblik, ja. Maar ek gaan nie vir jou jok en sê dat ek nooit effens bekommerd is oor die toekoms nie. Dalk moet ek deur Unisa nog ’n graad bekom sodat ek nog ’n loopbaan het om op terug te val.

Aan die ander kant, ek wil nooit ophou toneel speel nie.

Jou werk word gekenmerk deur eerlikheid. Hierdie geselsie ook. Wat volg onmiddellik op Half-Leeg?

Ek gaan ’n heerlike rol in ’n televisiereeks speel, Fynskrif. Dis vir dieselfde span wat vir Die Boekklub verantwoordelik was. En ek sien baie uit na die ATKV-tienertoneel se beoordeling wat in Julie begin. Die lewe is vol geleenthede!

  • Half-leeg. Toneel. Griesselsaal. Vandag om 10:00.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.