Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Crispin Sonn: ‘Ons het die fees nou nodiger as ooit’

Crispin Sonn is die voorsitter van Kunste Onbeperk wat pa staan vir die KKNK. Wim Vorster het met hom gaan gesels.

Crispin Sonn. Foto: Jaco Marais

1. Crispin, ek weet glad nie wie jy is nie. (Lag) Verduidelik vir my wie jy is en waar jy vandaan kom.

(Lag) Oukei, oukei (lag). Ek is ’n stadskind. Ek is gebore en het grootgeword in Kaapstad. My ma was van George en my pa aanvanklik van Queenstown. Dus is ek die eerste generasie stadskind en my huistaal was en is Afrikaans. Ek was by ’n Afrikaanse laerskool, maar geleenthede vir bruin Afrikaanssprekende kinders was beperk, so ek is daarna na ’n Engelse skool en toe die Universiteit van Kaapstad.

Daarna het ek ’n reeks ondernemings begin. Van hulle was baie suksesvol en ander groot mislukkings. Ná ’n ruk is ek na Old Mutual waar ek besturende direkteur van kleinhandelsake en so meer was en toe vir ’n rukkie besturende direkteur van ontwikkelende markte in Suid- en die res van Afrika, Indië en Latyns-Amerika.

2. Hoe oud is jy dan? Jy lyk 35.

(Lag) Ek is 50. So vier jaar gelede het ek saam met familielede ’n privaat beleggingsmaatskappy begin. Nou is ek voorsitter van Kunste Onbeperk en die afgelope 14 jaar voorsitter van Foodbank en ons het nou Foodforward wat daagliks aan 225 000 mense kos verskaf. En dan dien ek op ’n paar ander direksies ook.

3. Verduidelik nou vir my wat die verskil tussen Kunste Onbeperk en die KKNK is.

Goed, as ek dit so kan stel: Kunste Onbeperk is die houermaatskappy en ons onderliggende bates is die KKNK en Klein Karoo Klassique, en ons beywer ons nou om ’n paar ander produkte te ontwikkel. Ons wil baie graag in die Oos-Kaap en dan Port Elizabeth ’n fees vestig en ons onderhandel met die Baxter-teater om ’n maand lange Afrikaanse speelvak te hê. Soos jy kan sien, is Kunste Onbeperk dus die moedermaatskappy.

4. Ek en Ronnie Samaai het 12 jaar gelede al gemaan dat kunsmusiek (of klassieke musiek soos dit algemeen bekend staan) al hoe meer afgeskeep word. Toe kom die KKNK Klassique en nou is daar feitlik niks hiervan op die hooffees nie.

Ek meen wat gebeur het, was dat daar gevoel is die gehoor moet verbreed en jonger mense moet betrek word. Uiteraard is daar ’n baie besondere klassiekemusiek-gehoor. Oudtshoorn het nie voltyds teater nie, maar hier is merkwaardige potensiaal. Nuwe markte word ontgin soos rymklets en gewilde eietydse musiek vir die jonger geslag.

Maar as jy die jonger geslag nie aan klassieke musiek blootstel nie, gaan jy nooit die liefde daarvoor kweek nie.

Dis reg. Ek dink waar ons nou reeds begin kyk na die 25ste fees, moet ons ernstig besin oor hoe ons die balans gaan handhaaf. Ons moet ’n venue vind wat hoofsaaklik toegespits is op klassieke musiek sodat dit ingewerk kan word in die daaglikse program van die gehoorlid.

5. Bravo! Jy het duidelik ’n liefde vir Afrikaans. Het jy altyd ook ’n liefde vir die kunste gehad?

Kyk, my ouers was baie betrokke. Hoofsaaklik my ma, Joan Sonn. Sy was vir baie jare op Kunstekaap se direksie, so die kunste was deel van ons bestaan. My pa, Franklin, was skoolhoof in Athlone. Dis ’n bruin skool. Terwyl hy daar was, was hulle deurlopend toppresteerders op kultuurgebied. My pa het kuns en toneelspel gebruik as kommunikasiemedium en om selfvertroue te ontwikkel. So, ons was die hele tyd blootgestel aan die teater en daai klas dinge. Jy is reg. Ons moet die jonges aan klassieke musiek ook blootstel.

6. Jy is nuut hier. Daar is gissinge . . . bewerings dat die KKNK besig is om stuiptrekkings te kry. Hoe voorsien jy die toekoms van onse KKNK?

Die terugvoering wat ons kry van borge en feesgangers en van mense in ons taalgemeenskap, die ATKV en NATi, is dat ons die ding, dié fees, nou meer as ooit nodig het.

Die feit dat ons diskoerse het oor die voortbestaan van ons taal en kultuur is uiters gesond. Wat my tweedens baie bemoedig, is dat ons jonger mense en ons nie-wit of dan bruin en selfs in ’n klein mate swart mense wat Afrikaans besig, betrek word.

Derdens, my barometer is Laataand. Al kom ek net vir ’n halfuur om te sien wie kom kyk na die skerpskertsers en wie kom luister na die musiek. Soggens bekyk ons ook die kiekies wat die vorige aand geneem is. Die diversiteit, die ouderdomsgroepe en kleurverskille raak al hoe meer inklusief. Dis beter as ooit. Dis vir my die aanduiding dat die KKNK so noodsaaklik soos water en kos is en sal voortbestaan.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.