Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hansworse is nie net vir kinders nie

Sjaka Septembir is ’n groot voorstander van fisieke teater en het dit met sukses by vanjaar se KKNK aangebied. Foto’s: Nardus Engelbrecht


Fisieke teater het dié week die fees oorrompel met produksies soos Babbelagtig, Bal-Oog en Brommelen Bloeb! Dis ’n ou beweging met nuwe gehore. Marchelle van Zyl het vir Sjaka Septembir uitgevra oor hansworse en sy reis met fisieke teater.

1. Wat is jou betrokkenheid by die KKNK hierdie jaar?

Ek was betrokke by Moord in Ixiastraat – ’n Bal-Oog-en-Brommel-avontuur as skrywer en vervaardiger en ek het die regie vir Bloeb! behartig.

2. Hoe het jou verhouding met teater ontwikkel?

Dit was soos Jona en die walvis, behalwe dat ek nie weggevlug het van die dramaroeping nie, maar eerder weggeforseer is.

My ouers het gedink ek moet ’n ingenieur word. Die walvis wat my ingesluk het, was ’n Jack Kerouac On the Road-tipe vis wat my vir 12 jaar op wilde reise geneem het – van stalletjies beman op Groentemarkplein tot my eie gefotostateerde digbundels verkoop op straat. Ek is eers op die ouderdom van 30 uitgespoeg voor die poorte van “drama studeer”.

3. Wat is fisieke teater?

’n Praktiese definisie is waar ’n verskeidenheid dramastyle – mimiek, hanswors, dans en storievertel – saamgesnoer word. Daar is ook gewoonlik min rekwisiete. Uit ’n psigologiese oogpunt is dit teater wat die sterkste aspekte van teater maak na vore bring, naamlik die verbeelding. As jy mense se verbeeldings aanvuur, kan jy enige Everest versit. Jy’t nie groot stelle en rekwisiete nodig nie. In dié geval is dit less is more en nie bore.

4. Hoe het jy by fisieke teater betrokke geraak?

Eendag lank, lank gelede, wat voel soos nou die dag, kyk ek om my en vind ek is ’n rondswerwende digter op Stellenbosch. Dit was die middel 1990’s. Ek was huisloos, platsak en vatbaar vir mal avonture.

Boonop het ek reeds ’n intieme verhouding met die Dada-beweging gekweek. Met ’n tikkie van Jung-synchronicity bevind ek myself omring van kunstenaars en skrywers met dieselfde vuur en ywer en daar begin ons toe die performance art-groep Porselynnkas. (Die naam kom uit die idioom “daar’s ’n aap in die porseleinkas”, en die spelling is beïnvloed deur Dada. Ek glo dis die eerste en enigste Afrikaanse performance art-beweging.)

Ons as Porselynnkas het die Dadaïstiese beweging se fisikaliteit in ons happenings (of spontane opvoerings) voorgestaan. Deur hierdie beweging en die mense om my ontdek ek toe vir (Jerzy) Grotowski, Keith Johnstone se Impro, Butoh – en daarmee saam het hansworse soos Charlie Chaplin ons ook geïnspireer. Daar is al die sade vir my toekomstige werk geplant.

5. Jy is ook betrokke by clowning. Wat is dit?

In alle vorme van teater is die hanswors betrokke. Ons kan begin by Shakespeare se hofnar en dan die lyn deurweef tot by Breyten se Boklied en so meer. In ons teaterstuk Moord in Ixia­straat is Bal-Oog en Brommel eintlik maar narre. Ons asso­sieer ongelukkig die woord nar uitsluitlik met die rooineus­figuur in die sirkus. Daai spesifieke nar is die Auguste-nar. Hy is een van ’n hele familie van narre. Daar is die ernstige wit­gesignar, daar is die swartneus- trickster-nar, ensovoorts.

My opleiding was ’n ontdekkingsreis wat begin het onder mense soos James Cunningham, Helen Iskander, Craig Morris en Sylvaine Strike as leermeesters.

Die opwindendste deel vir my van met hansworse werk, is om mense te help om hul innerlike kind te herontdek. Daai kind binne-in ons is ons hanswors waarvan ons soms al vergeet het.

Kinders lag en speel mos baie meer as volwassenes. Die hanswors bring ons weer terug na speel. Uit speel kom daar baie keer lag of genot.

6. Wat kan die hansword regkry wat ander teatervorme nie kan nie?

Vir my is die paljas geslaagd as hy verby die slapstick na die poëtiese beweeg. Slava is ’n mooi voorbeeld. So ook Buster Keaton en Charlie Chaplin. Babbelagtig vang dit in momente en maak my hart bly.

7. Is hansworse net vir kinders?

Nee wat. Kyk na kommersiële sukses soos Peter Sellers se The Party of The Gods Must Be Crazy. Bal-Oog en Brommel het vanjaar oud en jonk vermaak met staande applous. Daar is vele ander voorbeelde waar fisieke humor ingespan word om gehore te vermaak. Humor met ’n sterk fisieke fondasie resoneer met almal en dit word nie sommer oud nie. Fisieke humor bly ook snaaks vir jare, waar meer intellektuele humor gebonde bly aan tyd en konteks.

8. Dié jaar is daar baie fisieketeaterproduksies by die KKNK. Is dit die begin van ’n nuwe hoofstuk in Afrikaanse teater?

Fisieke teater in Suid-Afrika het sy wortels in stukke soos Woza Albert deur Barney Simon en het begin blom met Andrew Buckland se opleiding as dosent by Rhodes. In die vroeë 2000’s was daar ’n blomtyd van fisieke teater onder Engelse teatermakers. Rob van Vuuren, Sylvaine Strike en die Fresco Theatre Company het almal groot opspraak verwek by die Grahamstad-kunstefees. Ek dink een van die stukke wat Afrikaans se volwaardige toetrede tot daai genre gemaak het, was Woza Andries.

Daar was ’n tyd – hier van 2010 af – waar die fisieke teatergeselskap FTHK in samewerking met die KKNK ’n program met die naam van Ietsie anders geskep het. Die produksies was almal in een spasie en was almal fisieketeaterstukke. So is meer mense by die KKNK blootgestel en die sade geplant.

Ek dink vanjaar begin ons die vrugte pluk. Hopelik groei dit voort en is dit nie net ’n Namib­roos nie.

9. Hoe skep jy ’n fisieke teks?

Daar is verskeie maniere. Een van my gunstelingstukke waarvoor ek die regie behartig het, was ’n kortverhaal van Kafka wat ons vir fisieke teater aangepas het en in 2010 Grahamstad-fees toe gevat het. Die gruverhaal Wraakengels het ons geskep sonder teks. Vir ons eerste repetisie het ek vir my akteur Floyed de Vaal gesê: “Bring net ’n bossie wortels, dan kyk ons wat gebeur.”

Die wortels het mekaar begin vermoor en so is daai stuk gebore.

In die geval van Bal-Oog en Brommel was die teks die grafiese roman wat ons laasjaar by die Open Book Festival bekend gestel het.

Die hoofbestanddeel is om te speel, totale vertroue in jou medespelers, en as jy in die repetisielokaal is, sê altyd ja. Dit gee beweging en vrye teuels aan die verbeelding.

10. Jy kom al 'n ver pad met die KKNK...

Die Uitkampkinderteatertente is geleë by ’n pawiljoen en ek onthou hoe ek en ’n meisie en twee ander vriende in die laat 1990’s KKNK toe gehike het en by daai einste pawiljoen geslaap het, want ons het nie slaapplek gehad nie. Nou, so 20 jaar later, speel Bloeb! daar langs dié pawiljoen. Wie sou kon dink?

Hierdie lewe is ’n oorrompelende wonder.

  • Bloeb! Kindervermaak. ATKV-Speelbos. Daagliks 11:00 tot 17:00.
    Bal-Oog en Brommel is reeds verby.
Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.