Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Karin Hougaard se 'Wilde gevlieg' om by KKNK te kom

Al woon die sangeres Karin Hougaard al tien jaar in die VSA, reken sy die afstand en tyd het haar selfs meer patrioties gemaak oor haar vaderland en moedertaal. Haar nuwe produksie Grepe bevat gunstelingliedjies, Europese klanke en nuwe komposisies in ’n gestroopte, stemgedrewe vertoning. Sy vertel vir Susan Booyens van haar wilde gevliegery om betyds vir die KKNK hier op Oudtshoorn te kan wees.

Ek het nog altyd ’n liefde vir reis en soms moet ’n mens maar oppas waarvoor jy wens!

Ek het op 19 Februarie in Suid-Afrika aangekom vanaf die VSA ná die vlug van amper 15 uur, net betyds vir melktert en Kaapse vonkel op my verjaardag die 21ste. Op dieselfde dag het ek afgevlieg Kaapstad toe om met repetisies te begin vir die Woordfees. Ná afloop van die Woordfees het ek gevlieg na Durban en ná ’n kort tydjie in KZN op 22 Maart gevlieg na Johannesburg en direk op dieselfde dag na Amsterdam vir ’n huldigingskonsert vir Herman van Veen, aangebied deur die Amsterdams Kleinkunst Festival op 26 Maart. Werklik ’n enorme eer. Ek het daar opgetree saam met van Nederland se grootste name!

Op 27 Maart het ek na SA teruggekeer sodat ek kon afvlieg na George om betyds te wees vir my konserte by die KKNK op 31 Maart en 1 April.

Ná die KKNK lê daar nog ongeveer ses vlugte voor, waarvan vier buitelands is én elke vlug maak ek mee in die sardynsitplekke – die spoggerige platlêsitplekke is helaas nie met my begroting (of gebrek daaraan) vir my beskore nie. Maar al steun en kreun ek, moet ek bieg ek geniet elke oomblik van die dolle beweeg en geraas maak.”

Het jy ’n gunsteling-herinnering aan die KKNK? 

Ek dink 2000, toe ek die Herrie-prys (dink ek?!) vir Metamorph (Brel en Piaf) gekry het, was vir my besonders. Ons was reeds op pad huis toe toe ons die oproep kry dat ons gewen het en moes terugdraai vir die toekenningseremonie. Dit was super-onverwags.

Wat was jou oorweging toe Grepe saamgestel is? 

Ek wou graag iets op die planke bring wat oorsigtelik selektiewe grepe uit my loopbaan vandat ek 16 jaar oud was, sou vertoon – nie net my eie komposisies soos “Kruiteuin” en “Sterrereën” nie, maar ook tekste wat ek byvoorbeeld vir mense soos Herman van Veen vanuit Nederlands na Afrikaans of Jannemien Cnossen vanuit Afrikaans na Engels vertaal het.

Ook terugflitse na opdragwerke soos my destydse metamorfering van enkele Brel- en Piaf-treffers, asook bindingstekste wat uit van my vorige produksies kom.

Uiteraard is daar ook nuwe werk by wat letterlik die afgelope maand of wat die lig gesien het. Ek wil dat mense sien waar en wie ek as kunstenaar was en waar ek vandag is.

Wat is die bydrae van Jaconell Mouton en Marí Borstlap tot die produksie?
Ek en Jaconell het al verskeie produksies saam getakel. Ons werk ontsettend lekker saam. Haar professionaliteit en talent as begeleier maak dat ek altyd rustig kan wees in die wete dat wat ook al ek doen, sy musikaal sal bybly.

In Mei sal dit ons derde toertjie saam wees in Nederland.

Ek en Marí het mekaar nie geken voor die Woordfees nie en het ons voorbereiding virtueel via WhatsApp en e-posse gedoen.

Ek wou graag die produksie aanpak met ’n jong, Suid-Afrikaanse regisseur omdat ek hou van uitdagings en veral my eie grense wou verbreed deur iemand anders (in dié geval Marí) se insette in my werk te integreer. Marí het veral baie kreatiewe energie in die visuele ontwerp van Grepe gesit.

Ek hoop ons kry dit reg om die ontwerp hier by die KKNK te dupliseer, aangesien ons werk in ’n venue met verskeie beperkings, wat moontlik ons oorspronklike beligtings- en AV-plan mag kniehalter. Ons gaan beslis ons bes doen!

Jy word beskou as ’n besonder emosionele vertolker – wat is die geheim?
Nee wat, daar is geen geheim nie, dis maar net my persoonlike, eerlike ervaring van die musiek en teks wat ek weergee. Geen vertolking is twee maal dieselfde nie; ek doen soos ek voel in die oomblik.

Die sing van jou ouer liedjies rakel nogal diep gevoelens en herinneringe by ’n gehoorlid op. Gebeur dit met jou ook terwyl jy op die verhoog is?

Ek sou liedjies vergelyk met die jaarringe van ’n boom: Dit vertel onwillekeurig jare later vir dié wat luister/kyk waar en wie jy as skrywer toe was, maar liedjies is ook soos kinders en word ook groot . . . In elke konsert kry sy ’n nuwe lagie herinnerings by. Sy groei, kry takke by, maar die wortels en oorsprong bly.

Jy toer nou weer na die Lae Lande. Ervaar en waardeer hulle jou musiek en kunstenaarskap anders as Suid-Afrikaners?

Die teatergaande publiek in Nederland is baie gewoond en blootgestel. Hulle is bevoorreg deurdat hulle selfs in die kleinste dorpies lieflike teatertjies het wat deur ’n groot verskeidenheid kunstenaars besoek word.

As kunstenaar is dit absoluut fantasties om sulke fasiliteite tot jou beskikking te hê. Dit ver­gemaklik beslis my taak as ek
my nie hoef te bekommer oor die kwaliteit van die klank ensomeer nie.

Ek dink die Hollanders wat na my kom luister, het ’n voorliefde vir Afrikaans en Suid-Afrika, maar hulle kom ook sonder vooropgestelde idees na my luister. Sonder die bagasie van 30 jaar se voorkennis, of kennis van musikale oorwurms soos sekere van my oertreffers . . .

My ervaring van die Nederlandse publiek is dat as hulle van jou werk hou, is hulle geweldig lojaal en sal berge versit om jou so ver moontlik te ondersteun.

Hoe het die jare weg uit jou geboorteland jou as kunstenaar geraak?

Ek is baie meer in kontak met myself. Die afstand het my eintlik tot stilstand en introspeksie gedwing. Gemaklik in my eie vel.

Omdat ek op ’n kleinhoewe woon, is ek ook baie meer in voeling met die natuur as wat ek was in SA. Bydraend hiertoe is seker dat ek al die werk op die eiendom self moet doen, maar ook dit is vervullend op ’n sekere vlak.

Ek het ook – of so dink ek – meer patrioties geword . . . asof die afstand my hernude waardering gegee het vir die mooi van ons land, mense en veral vir Afrikaans.

  • Karin Hougaard – Grepe. Musiekteater. Die Windpomp Restaurant Teater. 31 Maart om 21:00 en 1 April om 10:00.
Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kunstefeeste  |  Kknk  |  Vermaak  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.