Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
KKNK 2018: Moenie dít misloop nie

Verskeie topkunstenaars van oor Suid-Afrika heen staan slaggereed om van Donderdag af tot Woensdag 4 April feesgangers by die 24ste KKNK op Oudtshoorn te bekoor.

Groot gunstelinge in die teaterbedryf is op die planke te sien in verskeie dramas en komedies, waaronder tien debute.

Onder hulle tel dramas met Antoinette Kellermann (Hierdie lewe), Anna-Mart van der Merwe (Swerfgoed en Fotostaatmasjien), Abduraghmaan Adams (Die dans van die Watermeid), Illse Roos (Melk & vleis), Lee-Ann van Rooi (Kinnes en Ons is almal freaks hier), Tinarie van Wyk Loots en Mbulelo Grootboom (Gif), Neels van Jaarsveld (Melk & vleis en die komedie Op my eish!) en Milan Murray (Weerkaats).

Komedie

’n Keur van ons land se top-komediante skep vele lekkerlag-geleenthede met Pieter-Dirk Uys (Weifel oor jou twyfel!When in doubt say darling), Dowwe Dolla (saam met Wicus van der Merwe in Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe), Schalk Bezuidenhout (Stand-up met en Fotostaatmasjien), Hannes Brümmer (Manne, Stand-up met en Wie’s jou pappa), Marion Holm (Operasie Holm), Lizz Meiring (Die baba met die badwater en Met ander woorde), Esther von Waltsleben (#OMGV Seriaas?!), Elize Cawood en Wilson Dunster (Mike & Mavis) en Daniel Mpilo Richards (State Fracture).

’n Gedugte span van geliefde 7de Laan-akteurs is te sien in Manne met Chris Vorster, Hennie Jacobs, Hannes Brümmer, Theodore Jantjies, Francois Lens­ley en Deon Coetzee.

Musiek

In die musiekteaters kan feesgangers uitsien na die klanke van Laurika Rauch en Loki Rothman (Blou), David Kramer (David Kramer se Platteland), Coenie de Villiers (Shhhhhhhhhh), Hannes Coetzee (Lepeltjie vol snare) wat met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vereer word, Amanda Strydom (Amanda Strydom – Stadig oor die klippers), Anna Davel & Gloria Bosman (Ella Fitzgerald – A Century in Song), Chris Chameleon & CH2 (CH3), Lize Beekman (Lize Beekman –Stilte na die storm), Karin Hougaard (Grepe), Karin Kortje & Robin Pieters (Goue treffers vani Kaap!), Laurinda Hofmeyr & Schalk Joubert (Afrika my verlange), Leslie Javan (Maanlig) en Ricus Nel (Ricus en Refentse Akoesties).

Saans op die Huisgenoot-verhoog in die splinternuwe Kuierbuurt kom gunsteling-sangers onder die Klein Karoo-sterreprag byeen. Mi Casa, Matthew Mole en Majozi is vir die eerste keer by die KKNK te sien en deel die verhoog met Spoegwolf vir Awê Kaktus, met Elana Afrika-Bredenkamp as seremoniemeester (vandag om 19:30).

Vir kykNET– Dans op die vlaktes deel onder andere Kurt Darren, Craig Lucas, Paxton, Germandt Geldenhuys en Stephanie Baartman die verhoog (môre om 19:30) vir musiek wat die gehoor se voete gaan laat jeuk.

Adam Tas, Refentse, Joshua na die reën en Caroline Grace sorg vir ’n Karoo-nag (31 Maart 19:30), terwyl Jo Black vir die tweede keer by die KKNK te sien is, saam met Corlea, Robbie Wessels en Thembeka in Boontoe: Engelstemme (1 April 19:30), vir ’n mengsel van tradisionele en sekulêre liedjies en spirituals wat sorg vir sielsverkwikkende musiek.

Black sê verlede jaar se optrede by die KKNK was vir hom ’n belewenis en hy “is baie opgewonde om vanjaar al die aspekte van dié gewilde fees te ontdek”.

In Sterrenag – musiek met hart (2 April 19:30) vertel die kunstenaars op die verhoog met nuwe en ou treffers, stories van die hart en siel met onder andere Snotkop, Jay, Brendan Peyper, Leah, Caroline Grace en Fatman.

Leah sê sy sien baie daarna uit om by die KKNK op te tree. Volgens haar is een van die unieke aspekte van die fees die wyse waarop die hele Oudtshoorn in ’n feesdorp omskep word, met ’n aansteeklike feesgees. “Dis soos ’n tradisie, jy kan nie die KKNK mis nie; dit bied immers iets vir almal,” sê Leah.

Die aandprogram op die Huisgenoot-verhoog word op 3 April om 19:30 afgesluit met Rymklets van Oos tot Wes met onder andere Early B, HemelBesem en Yoma.

Bedags sorg die Castle Lager-verhoog in die Kuierbuurt vir vermaak met gunstelinge soos Nicholis Louw, The Rockets, Joe Foster en Elandré. ADAM maak ook vir die eerste keer in ses jaar ’n draai in die Klein-Karoo.

Jongspan

Vir die jongspan bied Babbelagtig ’n teaterspektakel soos min wat familievermaak uit die boonste rakke beloof met onder andere De Klerk Oelofse, Dean Balie en Jemma Kahn (Jong Kunstenaar-wenner op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad).

Lollos & Lettie kom vier ook hul tiende verjaardag by die KKNK en Brolloks en Bittergal is by die ATKV-Speelbos in die Kuierbuurt te sien.

  • Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 gemaak word.
Meer oor:  Anna-Mart Van Der Merwe  |  Leah  |  Laurika Rauch  |  Oudtshoorn  |  Kunstefeeste  |  Kknk  |  Vermaak  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.