Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Krit 2018: Resensente se soet en suur

Krit se resensente deel almal hul uitstaan oomblikke tydens die fees en die paar dingetjies wat gelol het...

Marlene Malan:

André le Roux, Bibi Slippers en Eben Pienaar van NB Uitgewers ná afloop van die boekegesprek oor Le Roux se nuwe boek Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede). Foto: Marlene Malan

’n Kenmerk van vanjaar se Boekgespreksreeks was die veel beter bywoning deur feesgangers as die vorige twee jaar, te danke daaraan dat die lokaal deel gevorm het van die Netwerk24-feestent.

Selfs mense wat nie beplan het om na die gesprekke met skrywers te kom luister nie, het spontaan by die gehore aangesluit vanweë die uiters interessantheid. Die genres was uiteenlopend, die deelnemers was ingelig en goeie sprekers het hul gehore uitstekend gelees.

Maar ai, die geraas . . . Die diep doef-doef van die musiek van die RSG-verhoog en pratende feesgangers en koffiedrinkers was soms erg steurend.

Daniel Hugo, programorganiseerder, het sy hande vol gehad om sprekers hoorbaar te hou en het selfs tydens die gesprek met die Nederlander Frank Westerman die verhoog verlaat om mense buite die afgebakende boekruimte stil te maak.

Die feesbestuur het kennis geneem van die probleem en die basklanke laat afstel; ook onderneem om volgende jaar die probleem beter te bestuur.

Dis moeilik om my topvyf-gesprekke uit te sonder, maar vir my het uitgestaan:

1. Die lang man sonder skaduwee, met Antoinette Pienaar en oom Johannes Willemse
2. El Negro en ek, met Frank Westerman
3. Ingrid Jonker, met Petrovna Metelerkamp
4. Drama en die gemeenskap, met Marthinus Basson, Amee Lékas en Pieter Fourie
5. Die toonsetting van gedigte, met Laurinda Hofmeyr en Hendrik Hofmeyr

Die gehoor word deel van die opvoering tydens Ons is almal freaks hier, soos wat hulle saam met die akteurs deur die uitstalling van visuele kuns deur die Prince Vintcent-gebou rondbeweeg. Foto: Nardus Engelbrecht

Maryke Roberts:

In my onderhoud met die span van Ons is almal freaks hier vra ek vir Albert Pretorius oor gunstelinge en hoogtepunte. “Ek meet nie die lewe so nie; ek geniet elke produksie terwyl ek daarmee besig is, want dit is op daardie oomblik toepaslik en waar ek is,” sê hy.

Dis min of meer hoe ek oor die produksies by die KKNK voel: vir die minute in die donker skoolsaal, museum of burgersentrum is dit my gunsteling.

Die klein, benoude ruimtes van die Uitkampteater is kosbaar, want hier word nuwe sterre gebore. Die beperkinge en uitdagings van plekspesifieke teater dra by tot die genot van die stuk.

  • Hoogtepunt (5/5): Maar as ek dan iets moet uitsonder, is dit juis Ons is almal freaks hier, wat my opnuut laat besef het hoe onderliggend die vernedering van vroue is en hoe dit nie kleur of klas ken nie; dat ek ook selfs in 2018 gereeld deurloop onder die veronderstelling dat vroue swakker, dommer of ondergeskik aan mans moet wees.
  • Laagtepunt: Geen vertoning wat ek gesien het, het my teleurgestel nie. Wat my egter hartseer maak, is hoe die koshuis waarin ons vanjaar vir die agtste maal woon, agteruitgaan. Vandale het selfs die teëls in die storte uitgebreek en kamers van handdoekrelings en vensterknippe beroof.

Dit neem vir my weg van die gevoel van groei en vooruitgang en saamstaan wat ek op die res van die fees ervaar.

Geon Nel as die oudste broer, Frans, Albert Pretorius as die middelkind, Ronnie, en die jongste broer, Andries (De Klerk Oelofse). Foto: Nardus Engelbrecht

Marchelle van Zyl se topvyf-produksies:

1. Bal-Oog en Brommel

2. Uitkampteater

3. Nêrens, Noord-Kaap

4. Melk & vleis

5. NRNNSA & Innie selle

Wees nie befees nie, KKNK het dié jaar ’n hele paar verrassings opgelewer, waarvan die fisieketeaterproduksies en die Uitkampteater my guns­telingstukke was. Dit het grense kom verskuif, dit daag mense uit om verder en dieper te dink, dit daag die status quo uit en mense se vooropgestelde idees van wat teater is en hoe dit moet lyk. Dit is vir my wonderlik hoe divers die gehore is en dat hier iets vir almal is. Of jy nou op die feesterrein wil sit en roosterkoeke eet en of jy net wil mense kyk, net musiek wil luister of net toneel wil sien – hier is iets vir almal en die KKNK bied daardie platform vir die diverse gehore om tuis te voel.

Sjaka Septembir is ’n groot voorstander van fisieke teater en het dit met sukses by vanjaar se KKNK aangebied. Foto: Nardus Engelbrecht

Wim Voster:

Meningsverskille sal daar altyd wees. Omdat Krit se betrokkenes regtig hard werk om by soveel moontlik aanbiedings uit te kom, is daar minder tyd vir oor op die grond wat die algemene indrukke van die publiek betref.

Hoe dit ook al sy, my gunsteling-aanbiedings vanjaar by die KKNK in alfabetiese volgorde is:

  • Toneel: BabbelagtigGif/Poison/ItyhefuHalf-leegHierdie lewe en met eervolle vermelding van die ATKV-tienertoneel se Innie selle. Teen saktyd het ek nog nie Nêrens, Noord-Kaap en Weerkaats gesien nie, dus geen mening. Die dans van die watermeid en Swerfgoed het altwee ook baie meriete. (Let wel: Ek kon onmoontlik nie alle toneelaanbiedings bywoon nie.)
  • Musiek: Ongetwyfeld Coenie de Villers se “inwaarts keer” met hoofsaaklik nuwe liedere in Shhhhhhhhhh, bygestaan deur Mauritz Lotz op die kitaar. Ook 
    Ella Fitzgerald – A Century of Song 
    met Anna Davel en Gloria Bosman op die klavier begelei deur John Fresk. ’n Hoogtepunt was ’n jazz-weergawe van  Ek verlang na jou met Bosman wat verse in Xhosa sing. Hoendervleis, koue rillings en trane.

En dan die enigste lig in ’n donker tonnel sonder kunsmusiek was Wouter de Wet se samestelling van bekende arias en koorgedeeltes in die RSG “Dis Opera”-konsert 
uitgevoer deur studente aan die konservatorium van die NWU Potchefstroom: ’n duidelike bewys dat jong mense ook van kuns- al dan klassieke musiek hou. Ook Afrika my verlange en Amanda/Coenraad se Stadig oor die klippers lê nog voor.

Ek was minder gelukkig met Absa se amptelike visuelekunste-versameling, maar dis slegs my indruk. My grootste teleurstelling of ontnugtering was egter sonder uitsondering Fotostaatmasjien.

Genoeg gesê. Volgende jaar beleef die KKNK sy 25ste aanbieding. Mazel tov!

Nêrens, Noord-Kaap boor ’n aar raak van gedeelde belewenis en laat die gehoor beslis nie onaangeraak nie. Foto: Nardus Engelbrecht

Lida Malherbe se feesindrukke:

In my eerste jaar in ’n ander hoedanigheid as feesganger het ek ’n ander kant van die kunstefees beleef.

Om vir ’n dagkoerant te werk is nie kinderspeletjies nie, en ek het elke dag rondgehardloop met die gevreesde “ons werk nie vir ’n weekblad nie, meisie!” op my hakke.

My hart klop ná hierdie week in lettergrepe en my bloed is pure kafeïen, maar wat ’n ervaring was dit nie!

Die fees opsigself was vir my stiller as gewoonlik – miskien omdat ek gewoond is aan die heeldag se gedoef-doef en geskarrel by studentekampeerplekke, maar ek is tog oortuig dat hier minder mense was. Onder feesgangers is daar gemengde gevoelens oor die nuwe feesterrein, maar vir my werk dit goed. Alles is bymekaar.

’n Hoogtepunt by vanjaar se fees is definitief die gehalte van die toneelstukke by die Uitkampteater.

As gereelde teaterganger maak dit my opgewonde om nuwe talent te sien ontwikkel, veral dié wat oor die hekke van hul omstandighede gespring het, en nou hier kan floreer. Die Brandmerk het hier vir my uitgestaan, veral omdat ek die kans gehad het om hul storie te hoor.

  • Beste show (4/5): 
    Nêrens, Noord-Kaap

  • Slegste show (2/5): 
    Baba met die badwater
Op die verhoog in Fotostaatmasjien is Len-Barry Simons, Anna-Mart van der Merwe, Emma Kotze, Schalk Bezuidenhout en Kathleen Stephens. Foto: Jaco Marais

Clifford Roberts: 

My herinnering van KKNK 2018 sal gekleur word deur temas van verandering en verskuiwing; waar die “verkeerd” nog veld verloor teenoor die “reg” in ons gemeenskap. Terselfdertyd kom dit met die hartseer van die verlies aan goeie stryders - kuns­tenaars en administrateurs - wat ook aanskuif, soos dit met die lewe gaan.

Daar is net twee KKNK’s wat ek in sy geskiedenis nie kon meemaak nie, dus weet ek hoe sy paadjie lyk.

Danksy allerlei kunstenaars het ons by hierdie fees geleer om te mik vir beter; dat daar op pad steeds baie dinge is waardeur ons sal moet werk; en dat ’n gros nuwe talent reg is om hierdie missie vorentoe te neem.

Meer as ooit besef ons dat dit wat ons in die teaters ervaar het, ’n direkte verband het met dit wat op die strate van Oudtshoorn en oral in Suid-Afrika gebeur.

Ons kan nie net passiewe kykers wees nie en die waarhede wat ons hier leer, sal ons moet huis toe neem en uitleef.

Ons ís toe maar almal freaks hier. Almal is in dieselfde bootjie, en niemand wil die foute van die verlede weer maak nie, maar soms raak ons weer die pad byster. Ons moet van toeskouers na deelnemers verander.

Sien jou by KKNK 2019!

  • My beste: Afrika my verlange/Afrique mon désir (5/5)
  • My laagtepunt: Fotostaatmasjien (1/5)

Meer oor:  Kknk 2018  |  Oudtshoorn  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.