Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Krit’ gesels met Tinarie van Wyk Loots
Tinarie van Wyk Loots in Gif. Foto: Jaco Marais

Die drama, Gif/Poison/Ityhefu, ’n Vrystaat Kunstefees-produksie, wat ondersteun word deur Kunste Onbeperk is ’n roerende verhaal van ’n man en vrou wat ’n seun verloor het en ná nege jaar weer by sy graf ontmoet.

Hy het aanbeweeg en kyk vorentoe. Sy bly vasgevang in die verlede.

Mbulelo Grootboom speel die pa; Tinarie van Wyk Loots die ma in die KKNK-speelvak. Mahlodi Kenny Rakotsoane is die alomteenwoordige stem in die produksie.

Tinarie gesels met Krit.

1. Erwin Maas, die regisseur, bring baie oorsese kennis saam met hom as Nederlander wat in New York woon en werk. Watter dimensie gee dit aan jul toneelstuk en wat leer jy by hom?

Hy is ’n heerlike regisseur (wat mal is oor ’n selfie) wat gewoond is aan teater, wat ’n baie ander proses geniet as die evolusie van ons eie – hy het sy eie tegnieke ontwikkel en ons het baie tyd spandeer om onsself absoluut te kan inleef in die teks met menigte alternatiewe oefeninge gedurende repetisies.

Maar ek wil ook bysê dat ek net so baie by hom geleer het as by enige van die ander regisseurs saam met wie ek al hier gewerk het, en dat ek net weer eens opnuut besef het wat ’n ongelooflike skat van talent ons in Suid-Afrika het, wat nie vir ’n enkele oomblik hoef te kompeteer met iemand van oor die water nie; en wat dikwels met baie minder, baie meer kreatief kan wees.

2. Hoe moeilik is dit vir jou om tussen die drie tale te wissel? Dra dit vir jou by tot die verwarring en weerloosheid van die karakters?

Ons praat almal in Suid-Afrika mos maar ’n mengelmoes van mekaar, so nee – dit is altyd ’n uitdaging om in ’n ander taal as jou moedertaal te speel, en ’n mens wil net sorg dat dit reg geskied, maar om eerlik te wees, was dit verskriklik lekker.

3. Jy het nie kinders nie. Hoe berei jy jou sielkundig voor vir ’n rol van ’n ma wat haar seun verloor het om ’n geloofwaardige vertolking te lewer?

Hoewel ek nie my eie kinders het nie en nie aanneem dat ek weet hoe dit voel om ’n kind te verloor nie, is daar tog ’n universaliteit aan rou, verlies en hartseer. Ek vind altyd dat as ’n mens die teks met weerbaarheid en eerlikheid probeer benader, en soek na die waarheid in die woorde, die karakter se verhaal jou sal lei na waar jy moet wees. Meegevoel is ’n ongelooflike ding – ’n mens kan jou inleef in ’n trauma wat ’n medemens (of dier) beleef, omdat ons empatiese wesens is. En dit is juis dít, wat teater vir my so spesiaal maak: Gehore van uiteenlopende agtergronde en ervarings word saamgesnoer deur ’n ervaring wat by sommige aanklank vind, ander tot ’n nuwe insig bring, ander dalk ontstel of weer heel laat voel. Ongeag jou geheime geskiedenis, word die storie deel van jou ervaringsraamwerk. En ek glo dit is hoe ons leer om meer deernis en begrip vir mekaar te hê, deur die onsigbare stories wat in teaters ontketen word, word ons herinner dat ons almal hierdie wêreld in leed en vreugde deel.

4. Wat was vir jou die grootste uitdaging aan hierdie rol?

Sjoe – ek wil amper sê die uitdagings skuif soms saam met my eie bioritmes: Die emosionaliteit daarvan, en ook om nie in te gee aan die emosionaliteit daarvan nie – om weg te stuur van melodrama, en te bly by die onmiddellike. Die geweldige hartseer daarvan, en ook die baie woorde wat ons so vir mekaar leer – dit vereis stamina en konsentrasie, en ’n mens moet die hele tyd luister om eg te kan reageer – die oomblik as my gedagtes begin draal, laat ek my medespeler in die steek.

5. Wat is die grootste oorwinning vir jou in die rol?

Dit is ’n wonderlike geleentheid om die rol te kan herbesoek vir verskillende speelvakke – dit voel elke keer asof die stuk as’t ware “sink” – ek voel ek kan met meer intimiteit en gemak met die karakter omgaan, en dit bring elke keer ’n nuwe insig. Ek dink ook dit is ’n baie mooi, beskeie en delikate stuk, oor verhoudings en mense en hul kompleksiteite, en dit is ’n voorreg om daarmee te kan woel.

6. Jy speel gewoonlik in verskeie toneelstukke op feeste. Op die KKNK is dit net hierdie een, hoewel jy ook die regie van Swerfgoed behartig. Watter verskil maak dit aan jou kop as jy net op een ding kan fokus?

Wel, ek is tegnies meer split-fokus as ooit tevore, want ek vind dat regie my hele brein probeer oorneem (veral drieuur in die oggend), maar die verspreiding van die energie-lading is beslis anders: En dit is ’n ongelooflike verligting om my tyd beter te kan bestuur. Dit vereis ’n heel ander benadering.

7. Enkele dae voordat julle op die Woordfees moes open, het jy ’n ander manlike akteur voor jou. Hoe vinnig het julle mekaar gevind en hoe verskil die twee akteurs se aanslag?

Ek en Mbulelo ken mekaar al baie jare, alhoewel ons nog meer jare laas saamgewerk het, maar toe ek hoor dat hy gewillig is om in te spring, was ek onmiddellik bereid om saam met hom skouer aan die wiel te sit. Ons kon net drie dae saam repeteer, en die spanning was uitmergelend, maar hy is ’n besonderse mens en akteur, en ek kon nie vir ’n beter medespeler gevra het nie – en hy straal absoluut kalmte uit. Dit is moeilik om hom te vergelyk met die vorige speler, omdat hulle so geweldig uiteenlopend is – elkeen het ’n ander aanslag, wat sodoende ook my spel verander en aanpas – dit is baie verfrissend (benewens die verskriklike senuwees) om ’n geleentheid vir ’n ander verhouding te mag ontgin.

8. Wat is vir jou lekker aan die KKNK en wat onderskei hierdie fees van ander?

Elke fees het sy eie persoonlikheid, maar vir my sal die KKNK altyd die eerste fees wees wat ek onthou – ek assosieer dit met soveel ongelooflike produksies, ervaring en mense.

9. Kry jy kans vir kuier by die fees of is dit ’n blitsbesoek vir werk?

Gewoonlik is dit net tussen teater en die bedjie, maar dit is amper tradisie dat almal die laaste aand saam Masai-spring van vreugde en ter viering van die teatergode, en ek sien altyd so verskriklik uit daarna – dis amper asof dit die jaar se eerste teatersiklus volbring.

10. Het jy enige Karoo-tradisies wanneer jy in Oudtshoorn kom?

Ek koop altyd vir my ’n botteltjie of twee Grundheim se Withond-boegoeblits – en deel dit dan op die laaste aand met soveel mense as wat ek kan!

11. Gaan jy vanjaar enige shows kyk?

Ook soveel as wat ek kan! Ek wil beslis Babbelagtig, Ons is almal freaks hier, Valencia, Nêrens Noord-Kaap, Bal-oog en Brommel, en alles in die Uitkamp-teater probeer bywoon.

12. Waarheen toer Gif ná die KKNK?

In hierdie stadium hou ons duim vas dat ons ’n speelvak in ’n teater kan geniet. Dit voel soos ’n soort stuk wat so baie mense kan raak, nie net omdat dit menslik is nie, maar omdat dit in Suid-Afrika is. Dit voel asof dit na ’n dieper betekenis van versoening en vrede met die pyn van die verlede uitkring.

13. Waaraan werk jy ná die KKNK – het jy kans om te rus of is dit volstoom aan die werk as jy tuis kom?

Geen rus nie! Ek begin weer op 5 April met ’n reeks vir SABC2, Onder die Suiderkruis, en daarna spring ek aan die werk met Fynskrif vir kykNET.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.