Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kuns: Skei die kitsch van die kaf
Chrisel van der Merwe, een van die kunstenaars, by haar werk Architectus Konstruksie.

Van al die kunsvorme is beoordeling van die visuele kunste waarskynlik die mees subjektiewe.

Vir elke waarnemer beteken elke skildery, ets, beeld en so meer sekerlik iets anders. Des te meer wanneer die onderwerp wat aangebied word, nie slegs doodgewone werklikheid is nie. Elkeen sal dus ’n eie vertolking van ’n werk hê. Daar is egter, soos by al die ander kunste, sekere maatstawwe wat geld ten einde die kuns van die kitsch en die kaf te onderskei.

By ’n nasionale kunstefees verwag die kyker of kunsliefhebber dus ’n uitstalling wat verteenwoordigend is van die beste gevestigde en opkomende kunstenaars van reg oor die land. Hul werk moet dienooreenkomstig van nasionale en selfs internasionale gehalte wees.

Die KKNK 2018 se amptelike uitstalling is Woensdagaand om 18:00 in die Prince Vintcent-gebou, op die hoek van Baron van Reede- en Kerkstraat, geopen. Die alombekende en -beminde Lizz Meiring was die seremoniemeester en verskeie toesprake deur BBP’s is gelewer. Hiervan was die interessantste – en ook die kortste en kragtigste – die rede van die feeskunstenaar, Johannes Maswanganyi, in Tsonga wat deur sy seun en medebeeldhouer Collen getolk is.

Hul skeppings word afsonderlik in die onderste ruimte van die gebou uitgestal. Die kerfwerk is kunssinnige weergawes en vertolkings van straatkunstenaars se ware, die menslike figuur in al sy gedaantes, baie veelkleurig aangebied, asook diere en voorwerpe. Dis egter veel fyner afgerond as die beeldjies wat op straat te koop is en dikwels ook met die tong stewig in die kies. Baie opvallend is die boom vol tarentale.

Collen Maswanganyi (links) stal saam met sy pa, Johannes, uit. Hul uitstalling heet Dance and Carve with my Father. Hier is hy by Anet Pienaar-Vosloo en Hugo Theart.

Wat die res van die uitstalling betref, is dit myns insiens effe onsamehangend en ook van wisselende gehalte.

’n Besonder treffende skets van Diane Victor – A Hyena Skin of Doctor – hang byvoorbeeld omring van ander werke wat hoegenaamd nie van dieselfde standaard is nie. Daar ís prikkelende skilderye en beelde, maar weer eens niks wat werklik (vir my) intellektueel of emosioneel uitdagend is nie. Gelukkig hang die Walter Battiss- digitale afdrukke (kurators Eduard en Susan du Plessis) in ’n afsonderlike ruimte. Al hierdie afdrukke getuig steeds, 36 jaar ná sy dood, van ’n kunstenaar wat sy medium en sy doelstellings deeglik onder beheer gehad en met geweldige insig na die mens en sy omstandighede gekyk het. Groot kuns bly voortleef.

Net terloops, dis jammer dat, hetsy die drukkersduiwel of die redakteur van die Feesgids, in Lucia Boer se artikel “Krap waar dit jeuk” (bl. 96) verwys word na “spreukwoord” in plaas van “spreekwoord”. Hoe dit ook al sy, ek vertrou dat talle feesgangers die uitstallings sal bywoon en hul eie menings daaroor vorm. Maak gerus ook langsaan by nr. 46 ’n draai waar vier kunstenaars onafhanklik hul werk uitstal. Roger Young, Susqya Williams, Sheena Ridley en Robert Plotz het byeengekom om die ruimte waar die wolwinkel tot enkele weke gelede was, te vul met hul werke. Dit is regtig ’n besoek werd.

Al die uitstallings kan besigtig word vir die duur van die fees.

Meer oor:  Kknk 2018  |  Oudtshoorn  |  Kunstefees  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.