Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Kunste bind mense aan mekaar, lei tot besprekings’

Twee baie prominente vroue wat ’n onlosmaaklike deel van die KKNK was, is Saterdagaand tydens ’n ete by Buffelsdrift Game Lodge vereer.

Die Nederlandse ambassadeur Marisa Gerards en Rhodé Snyman, uittredende uitvoerende hoof van die KKNK.

Marisa Gerards, die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika, en Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, het altwee hul termyne voltooi: Marisa vier jaar as ambassadeur in die land en Rhodé 24 jaar van betrokkenheid in verskeie poste by die KKNK.

Crispin Sonn, Kunste Onbeperk se voorsitter, het almal verwelkom en ook welkom gesê aan een van sy voorgangers, Karen Meiring, “die moeder van die moederfees” en aan die gemeenskap van Oudtshoorn en Tommy Matthee van die Oudtshoorn-munisipaliteit.

“Oudtshoorn is die gasheer van die fees; ons beset net die dorp vir ’n wyle en ons is dankbaar vir die gul ontvangs.”

Hy het aan almal gesê hoe lekker dit is om deel van hierdie movement te wees. En veral in die jaar wat die fees sy 24ste jaar vier.

Oor Meiring se huidige rol as hoof van kykNET, het hy gesê kykNET, die snelgroeiendste kanaal vir Afrikaanse vermaak, is geweldig belangrik om die inklusiwiteit van die taal en kultuur te bevorder en dat dit mense van alle kultuurgroepe betrek.

Hy het Snyman bedank wat ná bykans ’n kwarteeu by die fees uittree om ’n ander, nuwe hoofstuk in haar lewe te begin en haar gelukgewens met haar persoonlike groei by die fees en ook die fees se groei onder haar leiding.

Hy het ander voorsitters van die ander kunstefeeste verwelkom, waaronder Ismail Mohamed van die Nasionale Kunstefees en Saartjie Botha van die US Woordfees, en gesê hy sien uit om saam met ander kunstefeeste te werk, omdat die feeste ’n nasionale projek is.

Oom Hannes Coetzee en Frazer Barry het twee liedjies gespeel en lekker saamgesing.

“Hierdie is moontlik ons laaste kans om die gemeenskap te skep wat ons graag wil hê. Kuns en kultuur het die potensiaal om moeilike onderwerpe in die diskoers te bring.”

Hy het bygevoeg dat kunstefeeste oor baie meer gaan as net sitplekke vul; die kunstefeeste bestaan in ’n ekostelsel en dat Gerards en die Nederlandse ambassade deurslaggewend was om dié ekostelsel lewendig te hou.

Die sangeres en liedjieskrywer Lize Beekman het twee liedjies vir die ambassadeur gesing, op versoek van Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van die KKNK, wat erken het dat hy nie goed is met woorde nie en sy wense dus aan musiek oorlaat. Beekman se twee liedjies het die wense oorgedra dat die ambassadeur se gedekte tafel altyd oorlopens vol sal wees en dat sy vir haar “dagbreek, ewewig en stilte, en die son wat op jou stoep kom dans” toewens.

Die ambassadeur het op haar beurt in haar afskeidstoespraak gesê haar vier jaar van betrokkenheid by die KKNK en die kunste was ’n spanpoging en sy weet dat sy die vriendskappe wat hier in die Klein-Karoo gesmee is, vir altyd sal saamdra en koester. “Die kunste is baie spesiaal. Dit verbind mense aan mekaar, maar dit verander ook moeilike kwessies in iets wat ’n mens kan bespreek.”

Sy het al die gaste verseker dat dit nie net ons land is wat sukkel met verskeie kwessies nie; haar land is ook midde-in verskeie probleme en daar is baie ooreenkomste tussen die kwessies.

“Humor is so belangrik hier, want dit laat ons vir onsself lag en die spanning verlig. Ek en my man het met ons aankoms in Suid-Afrika die DVD’s van Trevor Noah gekoop en soveel van jul land geleer. Hy dryf die spot met almal en ook homself en dit het ons geweldige insigte in jul land en sy mense gegee.”

Sy het ook in haar vierjaar-termyn met verskillende bevolkings- en kultuurgroepe gewerk en erken dat ons wêrelde só hemelsbreed verskil, maar dat praat en ontmoet die antwoord is.

Gerards het ook vir Snyman bedank vir hul pad saam. “Jy het my voorgestel aan die musiek van HemelBesem, Karen Zoid en aan roosterkoek.”

Sy het namens die ambassade ’n pragtige Delft-vaas aan Snyman oorhandig.

Die laaste toespraak voor aandete bedien is, is deur Snyman waargeneem. Sy het gesê – met apologie aan die mans in die vertrek – dat sy nog altyd deur indrukwekkende vroue geïnspireer is. “Karen, jy is eerste. Dankie vir die grondslag wat jy vir my gegee het; dankie vir die neerlê van daardie kunsliefde. Alles wat ek van die kunste weet, het jy my geleer.

“Eureka Barnard, wat destyds die kurator van die CP Nel-museum was en ook vanaand hier is, jy het my kultuur geleer.”

Eureka was een van die fees se stigterslede.

“Suzette Celliers, jy het my geleer om vas te byt. Laetitia van Dyk, die head honcho and terror van Absa, jy het my geleer van deursettingsvermoë en om dinge volgens die korrekte prosesse te vermag.

“En ten slotte, Marisa, jy was ’n ware inspirasie vir my. Jou egtheid en hulp was van onskatbare waarde. Ons skuld haar ’n groot dankie. Toe ons Suid-Afrikaanse fondse opdroog, het sy ingespring en gehelp. En hoewel die fondse minder was as voorheen, was daar fondse.”

Die amptelike verrigtinge is afgesluit deur die sterre van die aand: Lepeltjie vol snare, wat deel van die amptelike KKNK-program was, oom Hannes Coetzee en Frazer Barry, wat twee liedjies gespeel het en lekker saamgesing het.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.