Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
KYK: Applous vir Laurika en Loki by die KKNK
Die samespel tussen Loki Rothman en Laurika Rauch sorg vir ’n ander dimensie aan haar tydlose treffers. Foto: Jaco Marais

Laurika Rauch en Loki Rothman se Blou het net twee vertonings by die KKNK, maar te oordeel aan die 15 mense wat bereid was om deur die hele 90 minute te staan, kon daar maar nog vertonings wees.

Die ligte doof uit; daar hang ’n opgewondenheid in die lug: Laurika het kom kuier! Vir baie is Loki ’n minder bekende kunstenaar, maar dat hierdie ’n vertoning gaan wees om te onthou, is gewis.

Toe die eerste kitaarklanke opklink van David Kramer se liedjie ’n Man stap, oor ’n man wat na Toronto verhuis het en nie daar hoort nie, trek die eerste lang fluit uit die gehoor. Die hande begin sommer spontaan klap en natuurlik is daar ’n ligte histerie toe Laurika minute ná Loki op die verhoog verskyn.

’n Tydlose Laurika dwing gehore steeds op hul voete. Foto: Jaco Marais
Loki word deur Laurika as “ ’n ongelooflike” kunstenaar beskryf. Foto: Jaco Marais

Ek besef dat hierdie liedjie van haar Vier Seisoene Kind-album nie vir my vreemd is nie, maar dat ek nou – agt maande nadat ons vriende geëmigreer het –vir die eerste maal daar in die donker stilte, regtig na die lirieke luister. Dat ek hoop die verwarring wat daardie man ervaar, my vriende nie toeval nie.

Loki se spel, wat twee kitare en ’n skoptrom insluit, het gou die gehoor ingetrek. Soos een ná die ander van Laurika se gewilde, bekende liedjies op mekaar volg, so raak die atmosfeer in die Absa Burgersentrum al meer soos statiese elektrisiteit. By sommige liedjies klap die gehoor spontaan op die ritme van die trom saam, wolwefluite en dawerende applous volg ná ’n ander nommer.

Die beligting vir elke liedjie verander: soms is die twee kuns­tenaars in silwer strale verlig met die res van die verhoog in pikswart donkerte; soms is die verhoog ’n diep, smaraggroen kokon waarin hulle staan.

Laurika gesels tussen liedjies deur, vertel staaltjies en deel stukkies van haar lewe. Daar is ’n selfvertroue en gemaklikheid by haar. Jy kan sien dat sy veiligheid vind in die kunstenaar neffens haar; nie net in sy teenwoordigheid nie, maar ook in sy ongelooflike musikale talent. Dis asof daar ’n nuwe vuur in haar werk brand en Loki se aanvoeling vir haar lirieke daardie vonkie laat ontstaan het.

Sy vertel vir die gehoor dat hy nie net ’n ongelooflike sanger, liedjieskrywer en musikant is nie, maar ook ’n merkwaardige begeleier. Sy tree terug in die skaduwee en Loki is alleen in die lig.

Hy demonstreer sy one man band, soos hy dit noem en doen later ook ’n keurspel uit August Rush, waar hy sy behendigheid as musikant demonstreer met sy perkussiewe kitaartegnieke.

Laurika en Loki op die verhoog. Foto: Jaco Marais

Laurika merk op dat as dit die eerste maal is wat mense vir Loki in aksie sien, jy altyd hierdie dag sal onthou – waar dit was, saam met wie jy was en wat Loki gespeel het.

Die een ding van Laurika se liedjies wat die afgelope 40 jaar onlosmaaklik deel geword het van ons samelewing – van 1978 se “Kinders van die wind” regdeur “Op Blouberg se strand”, “Mannetjies Roux” en “Blou” – is die nostalgie wat in die woorde skuil, maar ook die bekendheid daarvan. Dis die raak beskrywings van gevoelens wat een en elkeen in sy hart saamdra en daarby gevoeg, natuurlik, haar stem, wat van haar die koningin van die verhoog en ons harte maak.

Die voete tik ritmies saam en koppies wieg toe Loki met nog ’n David Kramer-liedjie, “Krisjan Swart”, wegtrek.

By tye is sy musiek hard en dalk vir sommige té hard teenoor die intieme stem van Laurika, maar die vertoning is kontemporêr en in pas met die tyd en lui dalk nog nuwe dekades vir Laurika op die verhoog in.

Die verhoog verander in ’n middernagblou grot. Loki en Laurika sing sy verwerking van “Blou”, só in murg en been bekend, maar só verrassend anders. Hul samewerking het juis met die herskepping van dié lied as ’n duet vir haar album Die reis begin. Loki het die nuwe verwerking gedoen en natuurlik ook saamgesing. Dié nuwe weergawe van “Blou” het reeds opslae gemaak. Hulle het onder meer die Ghoema-prys gekry vir die luitoon van die jaar.

Die gejuig word ná elke liedjie so ’n bietjie harder en die applous ook.

Met “Stille waters”se Engelse verse wat Loki sielvol sing, daal daar ’n gewyde stilte oor die saal neer. Tot die applous ontplof.

Laurika Rauch dans tydens haar vertoning. Foto: Jaco Marais

In die Engelse liedjie “Blue Skies” het Clinton Waring altyd saam met Laurika gesing en nou is die twee liedjies gekombineer – Laurika sing die Afrikaanse verse van “Stille waters” en Loki die Engelse verse uit “Blue Skies”.

Ek gesels ná afloop van die konsert met Laurika. Sy het die konsert net so baie soos haar gehoor geniet. Sy sê dit is so lekker om saam met Loki op te tree; dis iets wat oor haar pad gekom het, iets waarvoor sy nie gevra het nie, maar waaroor sy só dankbaar is.

“ ’n Kunstenaar wil nie vervelig raak nie en ’n nuwe aanslag is vir gehore én kunstenaars lekker,” vertel sy.

Dit was die eerste keer in twee jaar wat sy op die KKNK was, maar sy geniet die Karoo en die mense van Oudtshoorn en is so bly sy het gekom. As sy vinnig terugdink, was 1996 haar eerste fees hier en sy het hier en daar een gemis, maar reken sy het al 20 feeste meegemaak – heelwat solovertonings, maar ook heelwat as deel van ander, groter produksies.

Ek merk op oor die beligting en sy glimlag. “Ja, Kappie (Pieter-Jan Kapp) verstaan die noodsaaklikheid van beligting: hoe die lig die skakel tussen sang en teks is; hoe dit atmosfeer skep. Dis ’n fyn kuns daardie. Die gehoor geniet iets, maar hulle kan nie regtig hul vinger daarop lê nie. Dis subliminaal en ek is altyd spyt ek kan nie agter my sien wat hy doen nie, want dit moet pragtig wees.”

Ek stap weg. Die woorde: “as die liefde jou geraak het, is vryheid soos ’n tronk” bly nog lank by my nadat ek al ’n pannekoek in Baron van Reedestraat geniet het. Jy kan nie onaangeraak staan ná ’n vertoning van Laurika, en nou ook Loki, nie. Haar lirieke het ons deur puberteit en eerste liefdes en afskeid en verlange deur, bygestaan. Ja, “ons gee ons oor aan die nostalgie!”

Meer oor:  Laurika Rauch  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.