Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
KYK: Lizz deel die liefde vir stories

Lizz Meiring. Foto: Jaco Marais
Lizz Meiring. Foto: Jaco Marais
Lizz Meiring. Foto: Jaco Marais
Lizz Meiring. Foto: Jaco Marais
Lizz Meiring. Foto: Jaco Marais
Lizz Meiring bly immergewild en bewys haarself weer met hierdie vertoning oor die snaakse en die ernstige kwessies waardeur die lewe gekenmerk word. Foto: Jaco Marais

Clifford: Lizz Meiring wys weer hoekom sy so gewild is met hierdie intieme, ligte stuk in die vorm van ’n vertelling oor haar liefde vir stories.

Die ervaring is so eg, jy moet jouself naderhand herinner dat sy eintlik besig is met ’n teateroptrede. Dís nou agteroorsit-vermaak wat jou vasgenael hou. Meiring skep wyd deur die eeue en uit haar ervaringsveld. Sy wissel die onderwerpe van hedendaagse koerantopskrifte tot vertellings van eeue oue, maar minder bekende fabels.

Daar is selfs ’n skreeusnaakse insident met Facebook, wat o so herkenbaar vir teatergangers sal wees.

Maar aaneen lag is dit nie. Soos die lewe is, is daar nare draaie en baie hartseer ook. Meiring wys hoe belangrik dit is om hier ook die stories te soek en hoe belangrik dit is om ons liefde daarvoor te bewaar.

Maryke: Die program beskryf dit as ’n tragikomedie, maar eintlik is dit net ’n trek-jou-stoel-nader-en-skop-jou-skoene-uit-storievertelling, soos waarvoor ons destyds as kinders laas behoorlik tyd gehad het.

Sy lees wyd, haar liefde vir woorde, geskiedenis en staaltjies word goed vervleg in verskeie sketse en natuurlik is die gelag harder by dele waarmee jy kan identifiseer, want haar stories gaan nie net oor gode en muses nie; dit gaan oor gewone mense wie se auto correct verkeerde boodskappe tik en vir groot konsternasie sorg – ja, jy weet waarvan ek praat.

Ek moes my proes bedwing toe sy praat van die gewroeg van die skrywers en joernaliste; “die skoon skerm wat koggel”; die herkou en herskryf en twyfel wanneer die woorde wel kom.

Die lekker van hierdie vertoning is hoe skerp sy die lewe waarneem, hoe sy kan spot met mense wat sy “woordspaarders” noem, daardie wat bitter min sê; of die “taaltsoenami’s” wat glo hulle moet oor elke denkbare onderwerp ’n vloedgolf opinies op jou loslaat.

Toe sy raad gee oor die goue reëls om ’n goeie toiletspreuk te skryf, kraai die gehoor behoorlik van die lag.

Die enigste (bitter klein) klippie in my skoen is dat Lizz ook die regie waargeneem het. Ek vermoed ’n ander regisseur sou dalk ’n goeie klankbord wees, want vir my het een of twee kort sketse nie so lekker by die res ingepas nie.

Maar dié opmerking ter syde, dis sorgvrye, geen-ego-hier-betrokke-nie-vermaak hierdie. Koop jou kaartjie!


Met ander woorde. Debuut tragikomedie. Laerskool Van Reede. Vandag om 16:30.

Meer oor:  Lizz Meiring  |  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.