Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lepels vol talent agter dié snare!

Die openingsvertoning van dié jaar se KKNK, Lepeltjie vol snare, het soos die Karoo-reënwolke wat op die openingsdag rondom die dorp laer getrek het, oor die gehoor saamgepak en ’n seënreën van klank oor die gehoor uitgestort.

Vergun my dié sentiment wanneer ek oom Hannes Coetzee, die man met die lepel, aan u voorstel. Eintlik het hy geen bekendstelling nodig nie. Oom Hannes het so 20 jaar gelede bekendheid verwerf toe hy saam met David Kramer in Karoo kitaar blues opgetree het. Hy is hierdie jaar ook een van die KKNK se vereerdes vir sy bydrae tot die kunste.

Sy kitaartegniek en die byvoeging van ’n lepel as ’n “derde” hand wat met die mond oor die snare gesleep word, het die wêreld se mond laat oophang. Selfs die Amerikaners het hom laat kom om te sien of hulle sy tegniek kon aanleer. Dit sal dalk makliker wees vir die Amerikaners om ’n muur om Mexiko te bou as om oom Hannes se tegniek te bemeester.

Maar iemand moet dit leer, en die tegniek moet aangegee word na ’n volgende geslag.

En dis hier waar Frazer Barry, sanger, komponis en hoofsanger van Tribal Echo, inkom. Oom Hannes het een aand saam met Frazer opgetree en hom ná die vertoning trompop geloop en as “erfgenaam” en leerling geïdentifiseer. Ná baie lepel voer, is Lepeltjie vol snare die produk van dié samewerking – ’n viering van oom Hannes se werk en ’n aangee na die volgende generasie.

Frazer maak dit gou duidelik dat oom Hannie, soos hy hom noem, se musiek baie meer kompleks is as wat ’n mens aanvanklik dink. “Tien vingers is te min om te doen wat hy in sy kop hoor,” sê Frazer.

Oom Hannes het grootgeword in die Herbertsdale-omgewing waar hy as jong seun soms bokke en skape opgepas het. Hy het ’n bokskitaar saamgeneem veld toe en dis daar waar hy begin tokkel het en homself geleer het om alleen ’n hele orkes se klank voort te bring.

“Kyk,” sê oom Hannes, “daar moet mos altyd twee mense wees om musiek te maak. Een moet slaan en die ander een tel op. Toe vind ek uit, jong jy sal iets moet doen as jy iets wil regkry. Toe gryp ek sommer die lepeltjie. Toe was ek so 12 en toe ek nou so 13 is, toe is ek op my beste. Van daar af het ek die lepeltjie begin speel. En van toe af speel ek net lepel. En dis nogal lekka,” verduidelik oom Hannes aan die gehoor.

Oom Hannes het grootgeword in die Herbertsdale-omgewing waar hy as jong seun soms bokke en skape opgepas het.

Frazer het egter nog nie oom Hannes se meer as 60 jaar ondervinding nie, so hy het ’n paar vriende saamgenooi na die vertoning om hom te ondersteun: Earl Witbooi (baskitaar), Deniel Barry (perkussie), Loit Sols (Boesman-boog, banjo en perkussie).

Frazer verduidelik dat hy en die res van die Lepeltjie-orkes eintlik oorbodig is om saam met oom Hannes te speel. “Dis ’n eenvoudige aksie wat oom Hannie doen, maar die klank wat oom Hannie daar uitbring . . . Eintlik het oom Hannie ons nie nodig nie. Mense moet dit weet. Ons word gevoer hierso deur ’n man wat ’n simfonie voortbring,” sê Frazer.

En hy is reg. Om oom Hannes dop te hou, is hipnotiserend. Wat jy sien en wat jy hoor, maak net glad nie sin nie. Daar is baskitaar, perkussie, strumming en wysie en alles kom uit één instrument.

Maar Frazer en die Lepeltjie-orkes kan maar breëbors stap, want hul ondersteuning en toevoeging tot oom Hannes se musiek is komplementerend en aanvullend. Hulle verstaan die huil van die kitaar en kan daardie verlange wat jy voel as oom Hannes se hande oor die snare dans, in woorde uitdruk.

Ek verlang na my bokskitaar wat so teen my borskas leun

Die trane en die snare wat hier onder my vingers kreun

Skink ’n glas vol verlange, maar drink nooit meer as een.

En die Lepeltjie-orkes kan die heupe gooi en die voete roer. Selfs oom Hannes het sy stoel verruil om soos ’n jongman rond te riel. Dit was beenlig en heupswaai. Dié Karoo-Santana hoort op al wat verhoog is en verdien gróót gehore.

“Oom Hannie het baie bloed in die bene, en die bloed loop nog lekker,” spot Frazer.

Soos hy dit stel: “Oom Hannie het vir ons regtig iets moois gegee. Daar in die Herbertsdale-omgewing agter die skape en bokke het oom Hannie iets buite sy beperkinge geskep wat oor die wêreld heen bewonder word. Daar is niemand in die wêreld soos oom Hannie nie; niemand wat oor die 60 jaar ervaring het van ’n lepel wat op snare gly nie. Ons wil dankie sê dat oom Hannie ons geïnspireer het om nie net die lepel in die mond te hou nie, maar om die lepel te slaan en sake aan te roer, klanke aan te roer, nuwe wêrelde van musiek te ontdek.” En toe sing hulle vir oom Hannes:

Mag jou oomblik ’n kitaarsnaar wees

Mag die klanke uit jou borrel sonder vrees

Mag die dans van Gods vingers jou snaar versterk

Mag jou snaar soms huil, ’n stortreën van gebede

Want ná die chaos gewoed het, speel simfonieë van vrede.

Dankie, oom Hannie.

  • Lepeltjie vol snare wys Vrydag om 14:30 by Die Windpomp Restaurant Teater.
Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kunstefeeste  |  Kknk  |  Vermaak  |  Krit  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.