Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Marion Holm: Glimlag én dink bietjie!
Marion Holm

Marion Holm is by die KKNK met haar nuwe eenvrouvertoning, Operasie Holm. Sy en Chris Vorster het nog ’n jaar oorleef en deel dankbaar en heel plesierig die lesse, lawwighede en lollerye wat die jaar meegebring het. Vorster is die regisseur vir hul negende vertoning saam.

Sy skryf vooraf dat sy steeds nie kan bekostig om twee of meer akteurs te gebruik nie, so sy speel weer eens al die rolle self. En in die verbygaan verwys sy ook na ander rolle . . . Armoede, padwoede, honde, Afrikaans en die gesukkel om daagliks te oorleef, is van die prettighede waaroor sy bespiegel.

“As jy graag iets ontstellend ernstig wil sien, is hierdie nie die vertoning vir jou nie. As jy egter wil glimlag en net ’n klein bietjie dink – kom kyk gerus!”

Sy het die afgelope dekade of wat haar merk gemaak in eenvrouvertonings, eers as Sussie, wat in elke vertoning die spyker oor die lewe op die kop geslaan het, nou in verskeie verbuigings van Holm: Met die Holm gebore; holm@iafrika.com; Holmakiesie; Holm: Ge-Marionneer; HOL Marion! Die Kaap is weer Holms; Marion Holm vir beginners; Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis en nou Operasie Holm.

Maar sy is al meer as drie dekades op ons verhoë en televisieskerms. Sy het selfs ’n ATKV Mediaveertjie vir beste aktrise in ’n TV-reeks vir haar rol as Dot in Vlug na Egipte en Terug na Egipte gewen en ’n Fiesta-benoeming vir dieselfde rol verwerf.

1. Vertel bietjie meer oor waar die idee vir die nuwe vertoning vandaan kom?

Ek neem deur die loop van die jaar goed waar, maak notas, skryf neer of probeer bloot onthou en dan vleg ek dit saam rondom ’n tema. Ek gaan dink oor wat ek wil sê en dan help Chris my om deur middel van die stories daarby uit te kom. Die idee vir hierdie jaar se konsert het ek gekry na aanleiding van my persoonlike ervarings van dag tot dag – hoe onbeskof mense geraak het. So, dit was wat ek die graagste wou kommunikeer en Chris het báie hard gewerk om dit moontlik te maak, op ’n prettige manier.

2. Operasie Holm klink of daar ’n militaristiese klankie kan wees? Wie speel die hoofrol in die vertoning en hoekom juis hy?

Daar is ’n korporaal in hierdie jaar se konsert. Siestog, nie die hoofrol gemaak nie nadat ons snitte moes aanbring om die vertoning in sy tydgleuf te laat inpas. Maar steeds ’n heerlike karakter. Hy is die een wat bevele skree en my graag wil help. Ek moet hom egter gereeld wegstuur, want mens moet sommige dinge in die lewe sélf doen. Maar hy is ook die karakter wat ek gebruik om te wys dat ’n mens kan verander as jy wíl.

3. Jou hoeveelste KKNK het jy nou op jou kerfstok?

Ek dink dis die 20ste een.

4. Wat geniet jy van Oudtshoorn en die KKNK?

Ek is van die geloof dat ek feeste toe gaan om te werk en nie te partytjie nie, so ek gaan venue toe en terug na my verblyf.

Maar aan die einde van die fees geniet ek ’n ete by my gunsteling-restaurant en om by my vriend Jako Voges se gastehuis op Calitzdorp ’n aand te bly – hy is ’n bederwer van formaat!!

5. Hoe lank voor ’n vertoning begin, arriveer jy en wat is jou roetine vir opwarming?

As gevolg van die koste van verblyf, kom ek nie so vroeg aan op Oudtshoorn as wat mens sou wou nie. Vanjaar het ek die 28ste gearriveer en daai middag my tegniese intrek gedoen.

Ek doen my standaard stem-en lyfopwarming wat ek so oor die jare vir myself ’n roetine gemaak het. Meeste van die roetine vind egter by die verblyf plaas, want daar is nie noodwendig genoeg tyd ná die vorige produksie klaargemaak het om lank genoeg op te warm nie.


6. Hoe gemaak as iemand op die verkeerde tyd lag of ’n selfoon afgaan? Improviseer jy?

Ek bid eerstens tog net vir geduld, want liewe genade . . . hoe lank weet ons nou al selfone moet af? En steeds . . . en steeds . . . so nadat ek dan nou wel geduld ontvang het, improviseer ek maar. Wat anders kan mens dan nou ook doen?

7. Watter KKNK-tradisies het jy? 
Eet iewers elke jaar koek; koop iets; sit op die Queens Hotel se stoep of iets anders?

Ek bly al ’n paar jaar by dieselfde verblyf. Dis skóón daar! Ek probeer om elke jaar by Jemima’s ’n draai te maak. Reg aan die einde, as ek klaar gewerk het, voel ek ek mag myself bederf met ’n goeie bord kos en wyn.


8. Waar bly jy gewoonlik oor as jy by die KKNK is – koshuis, gastehuis of hotel, en wat geniet jy daaraan?

Ek bly altyd in ’n gehuurde huisie. Ek het ’n wasmasjien nodig om my kostuums te was, want oor ek so uitbundig konsert hou, sweet ek ook net so uitbundig! So ’n hotel of gastehuis sal nie werk nie.

9. Is die KKNK vir jou net werk, of fees jy ook bietjie?

Werk. Ek “fees” tuis as ek produksies buite feesverband gaan kyk.

10. Wie is jou gunsteling-feesmaats?

Wel, Marietjie Rossouw het vir jare saam met my gewerk, maar nou is sy terug in haar eertydse beroep en kan dus nie meer saam reis na al die feeste nie. Dit was ’n bitter groot aanpassing vir my. Maar my vriendin Henki de Villiers kom nog steeds saam KKNK toe en sy is ’n geweldige belangrike pilaar van ondersteuning vir my. My ander feesmater is Jako Voges, want hy bly op Calitzdorp. Ons is ook al jare lank vriende.

11. Wat staan sover vir jou uit by vanjaar se fees?

Elke jaar as ek daai briefie kry dat my aansoek geslaag was, is vir my ’n hoogtepunt.

12. Is jy van nature snaaks en is jy die grapjas by elke braai?

Ek dink ek is bietjie van nature snaaks, maar ek is ook van nature stil. So ek is nie die hele tyd snaaks nie, want soms is ek net stil. Of op my eie. Of besig om waar te neem. Maar soms as ek lus het vir kuier en gesels, dan kom die nar in my dadelik na vore.

13. Waar kom al die idees vir jou vertonings vandaan – het jy ’n boekie en potlood op jou bedkassie om in die middel van die nag idees neer te skryf?

Ek het inderdaad ’n boekie in my handsak! Of ek maak ’n vinnige stemnota op my foon. Of SMS myself. Watter manier ook al – ek probeer notas maak, want eintlik gebeur die stories elke dag rondom my. Al wat ek hoef te doen, is om dit raak te sien. En te onthou.

14. Wat geniet jy daarvan om met Chris Vorster saam te werk? Hy het in die begin jou stukke geskryf, maar nou skryf jy self; hy is net ’n objektiewe klankbord en dan regisseur?

Ek en Chris skryf saam my stukke. Ek skryf die stories en dan vat hy dit en vleg dit op ’n manier aaneen om ’n vertoning te maak. Hy stuur my ook terug rekenaar toe om stories aan te pas of oor te skryf of weg te laat en ander in te voeg.

15. Wat vir my die heel lekkerste is van met Chris werk?

He gets me! En daar is min van hulle. Bitter min. Ek het ook respek vir hom oor hy ’n flukse, harde werker is.

16. Watter van al jou rolle geniet jy die meeste en hoekom?

Ek het dit verskriklik geniet om Dot te speel in Vlug na Egipte en Terug na Egipte. Ek was mal oor haar. Die regisseur was ook ’n mens wat dankie en asseblief sê en dit maak my onbeskryflik gelukkig!

17. Jy het die afgelope jare ’n paar gesondheidsterugslae gehad, waaronder fibromialgie, borskanker, ’n breintumor en geskeurde heupligament. Hoe verander dit jou as mens en jou gesindheid jeens die lewe?

Ek dink by elke mens sal dit anders wees, maar die feit is dat jy nie onveranderd deur so iets gaan nie. In my geval het ek geleer om bietjie minder hard op myself te wees. Ek maak foute – dis hoe dit is – hou op gil op jouself daaroor. Nou moet ek nog net kry dat ander mense óók ophou gil op my daaroor!

18. Het jy ’n prettige lewensleuse?

Bo en behalwe my motto van “vet, dog fiks”, glo ek ook dat as dit vir jou te moeilik is om “jou naaste lief te hê” – wees dan net ten minste gááf met hom.

19. Wat inspireer jou in ander mense?


Kindness of spirit
.

20. Jy kry ’n pap wiel langs die pad. Ruil jy self die band om of wag jy vir ’n ridder op ’n wit perd?


My pa het my geleer om ’n band om te ruil, maar ek vermoed ek gaan nie meer die boute loskry met die fibromialgie nie! Gelukkig bestaan daar nou so ’n tipe van ’n skuim in ’n blikkie wat mens in jou wiel spuit en dan kan jy ry tot by die naaste garage. Ek sal op ’n manier wel self ’n plan maak.

21. Wat was jou grootste verleentheid – op of af van die verhoog?


Dis hoekom ek hoegenaamd ’n loopbaan het, ek vertel van al my eie verleenthede in elke vertoning! Ek lag nou hardop, want dis die heilige waarheid – elke dag bring sy eie verleenthede. Ek moet nou eers dink oor wat die grootste was . . .

22. Vir watter kos sal jy jou siel verkoop?


Enige kos wat langsaam en met vars en heilsame bestanddele (bedoelende goed uit die grond en nie uit ’n blik of ’n pakkie nie) gemaak is.

  • Waar kan feesgangers die vertoning hierna sien?

Ons speel op 5 April om 20:30 en Sondag 8 April om 13:30 by Die Boer-restaurantteater in Durbanville. Op 20 April is ek by Die Blou Hond in Pretoria.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kunstefeeste  |  Kknk  |  Vermaak  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.