Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Misdaadskrywers sê: ‘Die hof se waarheid seëvier’
Die drie spanningsverhaalskrywers in die Boekgespreksreeks was Rudie van Rensburg (Ys), Irna van Zyl (Gifbeker) en Chris Marnewick (Redelike twyfel), met Johannes de Villiers (gespreksleier). Foto: Marlene Malan

Op sosiale media en in hul gesprekke het die publiek baie menings oor misdaad en hofsake. Die leunstoelregters, met uitgesproke menings oor skuld en onskuld, waarheid en onwaarheid.

Dís die kern van Chris Marnewick se spanningsverhaal Redelike twyfel, om vrae te vra oor die soeke in hofsake na “wat die waarheid” is. “Eintlik wou ek maar net ’n liefdesverhaal skryf; toe plaas ek dit in ’n hofomgewing, want dis my werklikheid. Gewone mense raak ontsteld daaroor dat die waarheid wat húlle ken, nie noodwendig die hof se waarheid is nie. Daar is iets soos ’n kosmiese waarheid. Wat my betref, is die waarheid dít wat in die hof beslis word.”

Marnewick is ’n regsgeleerde wat al as staatsaanklaer, verdedigingsadvokaat en regter opgetree het. Hy woon deesdae in Nieu-Seeland.

In die Boekgesprekreeks het Marnewick opgetree saam met Rudie van Rensburg wie se vyfde spanningsroman,Ys, pas verskyn het, en Irna van Zyl, wie se tweede, Gifbeker, onlangs gepubliseer is.

Van Zyl, voorheen joernalis, redakteur en mediahoof, het vertel dat sy ook ’n bekende omgewing as agtergrond gebruik het vir Gifbeker – sy het die verhaal in ’n kosomgewing geplaas omdat sy voorheen die tydskrif Eat Out uitgegee het en ’n rubriek, “The Accidental Foodie”, geskryf het. “So het ek in die koswêreld beland.”

Suid-Afrikaanse misdaadskrywers het ’n ongelooflike voordeel omdat ons gereeld hieraan blootgestel word, in die nuus en in literatuur.

Maar Van Rensburg, wie se verhale gereeld op ’n internasionale misdaadvlak afspeel, “lees altyd iets raak wat my interesseer, en dan het ek daardie aha-oomblik.

“Ys het ontstaan toe ek ’n artikel in Newsweek met die titel “The New Cold War” op die vliegtuig gelees het. Ek doen geweldig baie navorsing, maar gebruik dié inligting dan spaarsamig; seker so tien persent daarvan.”

Van Zyl het weer navorsing gedoen oor sampioene en met kliniese sielkundiges gepraat oor karakterontwikkeling.

Volgens Marnewick “is navorsing soos ’n ontdekkingsreis”. “Jy vertel vir ander wat jy gesien en gehoor het. Ek het geskryf oor die dinge waarvan ek weet, soos seehandel. En toe vat ek doodgewone mense die hofsaal binne. Die hofomgewing is koud, klinies en onpersoonlik. Ek wou lesers laat konsentreer op hoe ’n moord opgelos word.”

Spanningsfiksie is ’n gewilde genre, “wat mense vir ontspanning lees,” volgens Van Rensburg.

“Suid-Afrikaanse misdaadskrywers het ’n ongelooflike voordeel omdat ons gereeld hieraan blootgestel word, in die nuus en in literatuur. Lesers ontspan, omdat die goeie gewoonlik die bose in dié verhale oorwin. Volgens Marnewick “is oorsese spanningsverhale meer karaktergedrewe, terwyl die detail van misdaad in Suid-Afrikaners se boeke dikwels grusaam is”.

Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Irna Van Zyl  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Boekgesprekke  |  Vermaak  |  Boeke  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.