Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Musiek oorskry alle grense
Schalk Joubert en Malako Wekuna Soba. Foto: Jaco Marais

Laurinda Hofmeyr en die ensemble laat lig toe Maandagaand byna die Absa Burgersentrum se dak inAfrika my verlange/Afrique mon désir.

’n Mens kon seker voorspel het dat dit ’n voete-tik-loslyf-ervaring vir die gehoor sou wees, want met David Kramer as regisseur is daar gewoonlik ’n ritme wat in jou bene kom sit.

Tesame met ’n wêreldklas-ensemble bestaande uit Wes-Afrikaanse sangers en musikante, ontdek hulle ’n skatkis van Afrika-poësie vanuit Franssprekende lande soos Madagaskar, die Ivoorkus, Kameroen en Tsjad, asook terug op eie bodem in die werke van Breyten Breytenbach en W.E.G. Louw.

In hierdie veeltalige produksie word Frans en Afrikaans, asook ander Afrikatale gehoor.

Afrique mon désir ondersoek temas van verplasing en ver­lange, asook ’n diep gedeelde konneksie tussen die Afrikakontinent en sy bewoners.

Schalk Joubert is die musikale regisseur en animasie is deur Diek Grobler, met grafiese beelde deur David Kramer. Op die verhoog is Hofmeyr, Schalk Joubert, Kevin Gibson, Malako Wekuna Soba, Yamamoto Bonkuta Loyeke, Kayembe Ilunga, Deodata (Dea) Kinzunga-Walo en Dylan Roman.

Die produksie is in Junie ook in Frankryk op die verhoog.

Maryke: Stel jou voor, ’n groep musikante beland iewers in die middel van Afrika. Hulle is geklee in veelkleurige uitrustings wat hul land en sy kultuur verteenwoordig. Hul tale is vir mekaar vreemd, maar hul vingers vind instinktief die note van hul instrumente en almal word een in musiek.

Daar is vlugvoetige danspassies deur Malako en Yamamoto met die nagtegaalstem van Dea, wat grense laat verdwyn. Die gryskoppe in die gehoor se knieë wieg ritmies saam en die wolwefluite ná elke liedjie laat klop jou hart warm vir ’n verenigde kontinent – al is dit aanvanklik net verenig in musiek.

Natuurlik moet “Die dans van die reën” deur Eugène N. Marais ook daar wees.

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm, en haar oge is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans en nooi hulle uit . . .

So nooi die klanke uit Afrika ons almal uit. Dis ’n bont, malle fees van kleur en klank wat al die spanning uit jou lyf neem en die kwaadheid oor kleingeestelike politiek laat wegsmelt.

Clifford: As gesprekke en toneel die enjin van ons kulturele evolusie verteenwoordig, dan moet musiekvertonings soos Afrika my verlange/Afrique mon désir ’n droom van die hoogtes van ons toekoms verteenwoordig. Hoe lank dit ons neem om by hierdie toekoms uit te kom, hang net van ons af.

Die show het sy ontstaan in poësie uit Afrika gehad en is ’n wonderlike samevloeiing van werk. Die resultaat: ’n lewendige en magiese vertoning deur talentvolle kunstenaars.

Dit spreek van optimisme en hoop soos net die ritmes van Afrika se musiek en digkuns – Afrikaans inkluis – kan. Maar moenie ’n fout maak nie: dit gaan hier nie net oor mooi liedjies en ’n warm gevoel nie.

“Ons is almal op ons eie reise – binne ons eie grense – maar met verbeelding kan ons grense laat wegval,” nooi Hofmeyr uit.

Of die boodskap ontvang is, kan ons net hoop.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.