Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
'Om gedigte te toonset, kan nogal cool wees'

Musiek interpreteer gedigte buite die woorde wat op papier staan. Dit dra ander nuanses óm en agter ’n gedig oor – weerspieël ook ’n komponis se begrip van en gevoel oor daardie gedig.

Twee van Suid-Afrika se voorste toonsetters van Afrikaanse gedigte, Laurinda Hofmeyr en Hendrik Hofmeyr, het saamgestem in hul gesprek met Daniel Hugo (in die Boekgesprekreeks) oor die toonsetting van gedigte: As musiek en gedigte bymekaar kom, is daar ’n noue band tussen woorde en note, ’n interaksie tussen digter en komponis.

Laurinda Hofmeyr en Hendrik Hofmeyr. Foto: Verskaf

“Musiek kan fyner nuanses aan die betekenis van ’n gedig gee,” het Laurinda gesê. “Ek het besef om gedigte te toonset, kan nogal cool wees.”

Albei Hofmeyrs – wat verlangs familie is – het op skool gedigte begin toonset, het hulle vertel.

Volgens Hendrik het een van sy onderwysers, Sarie Jacobs, aan hom vertel “dat ek ’n lewe uit musiek kan maak, maar eers my graad as musikoloog moet kry. My ma was hartstogtelik lief vir klassieke musiek, spesifiek die kunslied. Sy het ook ’n klomp digbundels gehad. My eerste toonsetting van ’n gedig was in standerd nege. In my eerste jaar op universiteit het ek Elisabeth Eybers se ‘Herfs’ getoonset. Ek het sedertdien nog altyd gekyk wat is toonsetbaar.”

Nou, waar hy klasgee aan die Universiteit Stellenbosch, laat hy sy studente met die toonsetting van gedigte eksperimenteer. “Ons kyk na die style van verskillende komponiste – hoe elkeen van hulle ’n bepaalde gedig sou toonset.”

Laurinda het gesê sy dink aan haar toonsettings as “ligte musiek”. Hendrik dink egter aan sy toonsettings as “liedere”. “Tussen ’n ‘kunslied’ en ’n ‘liedjie’ lê daar ’n lied,” volgens hom.

Hoe besluit Laurinda watter gedig sy wil toonset? “Dis die moeilikste, om daardie besluit te neem. Daarom is ’n opdrag vir my eintlik makliker. Maar as ek self kies, is daar gewoonlik iets in ’n gedig wat my tref, wat met my resoneer. En dan dink ek watter musiek daarby sou pas. Ek beskou myself as ’n singer-songwriter.”

Volgens Hendrik is sy toonsettings “dikwels uitdagend, dikwels vir kore – maar ook vir solostemme, vir fluit, tjello en klavier. Steeds skryf ek musiek wat toeganklik is, dat gewone mense daarna wil luister – ek skryf nie vir ander komponiste nie. Baie mense dink mos as iets nie sin maak nie, of nie toeganklik is nie, dat dit verhewe kuns is. Eenvoud beteken nie ‘sleg’ en moeilik ‘goed’ nie. Vir my moet musiek direk tot mense spreek, dalk wel met effens meer kompleksiteit. Die uitdrukking van emosie, harmonie en emosie is die belangrikste. En ’n gedig moet ’n liriese kwaliteit hê. Daar is inderdaad gedigte wat ontoonsetbaar is.”

Laurinda toonset graag die gedigte van Breyten Breytenbach. “Ek skryf om die gedigte self te sing.”

Soos nou met die treffende Afrika my verlange/Afrique mon désir. “Elke woord het bloed, kleur en tekstuur”.

Albei Hofmeyrs dink aan die komposisie van ’n gedig as ’n kind. As hy eers gebore is, moet hy sy eie pad loop.

Meer oor:  Kknk 2018  |  Oudtshoorn  |  Gedigte  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.