Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
KKNK: Ontdek ook die res van Oudtshoorn
Die Cango Caves Zipline is ’n ongewone buitelugaktiwiteit wat grens aan die wêreldbekende grotte.

Kuns is gewoonlik eerste op die spyskaart van ’n besoek aan Oudtshoorn wanneer die jaarlikse fees in volle swang is, maar ou KKNK-ers weet ook dis die geleentheid om die dorp en omgewing te ontdek. Die goeie nuus is baie van hulle sal jou ook nie te veel geld uit die sak jaag nie.

’n Goeie beginpunt lê in die middedorp, by die C.P. Nel-museum. Hier kry jy konteks van die streek en sy geskiedenis, wat net nog ryker word met ’n besoek aan Arbeidsgenot, die voormalige tuiste van C.J. Langenhoven. Wyk dan uit. Oudtshoorn is omring deur natuurreservate, insluitend Gamkaberg, Kammanassie, Swartberg, Ruiterbos en Witfontein.

Gaan besoek die Rust-en-Vrede-waterval, wat in die Swartberge lê sowat 35 km buite die dorp. Dit was lank gesluit, maar is onlangs weer vir besoekers oopgestel nadat dit deur die munisipaliteit opgeknap is. Om daar te kom, ry uit op die R328 en volg die aanwysings verby die Koos Raubenheimerdam.

Die dam, wat in 1971 gebou is, is self ’n besoek werd en is ’n hengelaarsparadys. En as jy nog nie die asemrowende Swartbergpas beleef het nie, nou is die geleentheid, aangesien dit ook in die omgewing is.

Nie ver daarvandaan nie is die Cango Caves Zipline, ’n ongewone buitelugaktiwiteit wat grens aan die wêreldbekende grotte. Die 680 m lange lyn sal jou vir ’n uur of twee besig hou, waarna jy vir ’n rukkie by hul restaurant kan vertoef.

Vermaak die kleinspan by Wilgewandel, waar daar kamele en ’n donkiekarretjie onder die trekpleisters is. Ontspan in die teekamer terwyl jy ’n ogie oor die kinders hou.

By Meerkat Adventures kan hierdie koddige familie-diertjies van ander beskou word.

Vir grootmense is daar natuurlik die welbekende wynplase van die omgewing, met juwele soos Grundheim en Mons Ruber, wat albei stokers van formaat is.

Die Cango Wildlife Ranch-wildbesigtigingsentrum met sy groot kamma-krokodilkake as ingang, is die tuiste van meer as 90 spesies, insluitend cheetahs, seekoeie en kleurryke voëls. Hier kan jy selfs die water met krokodille deel – veilig agter die tralies van ’n spesiale hok.

Kry nog ongewone ervarings by Buffelsdrift, met onder meer olifante, buffels en sebras; en Meerkat Adventures, waar jy hierdie diertjies van naby kan aanskou. Maar moenie die volstruise vergeet nie: maak ’n draai by plekke soos die Safari-, Cango- en Highgate-volstruisplase.

Vir inligting oor stap-, bergfiets- en 4x4-roetes, besoek die Oudtshoorn-en-De Rust-toerismekantoor in Voortrekkerstraat. 

Meer oor:  Rust En Vrede  |  Oudtshoorn  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.