Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Op dié trein moet jy rý!
De Klerk Oelofse as Bal-Oog en Richard September as sy beste vriend, Brommel, probeer die moord in Ixia­straat in Milnerton oplos. Foto: Nardus Engelbrecht

Sjaka Septembir se grafiese roman Die Avonture van Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat is verlede jaar bekend gestel en is nou ’n prettige teaterproduksie met Richard September (Rooivalk, Rondomskrik, Marat/Sade) as Brommel en De Klerk Oelofse (Liewe Heksie: Flower Power, Na-aap, Balbesit, Nêrens, Noord-Kaap) as Bal-Oog.

Die grafiese roman verkoop flink en die strokiesverhaal beskryf die avonture van twee tienermaats, Bal-Oog en sy beste vriend, Brommel. Willem Samuel het die illustrasies gedoen en die kleur is deur Swart Streep behartig.

Vir die verhoogproduksie is die teks deur Sjaka aangepas en die regie word behartig deur die bekroonde Gideon Lombard (Die reuk van appels, . . .miskien, The View, Suidooster).

Musiek en byklanke word deur Gertjie Besselsen (Slegs vir almal, Die vlammende fez, Die storm) hanteer.

Sjaka sê: “Ek is baie opgewonde oor die teaterspan wat die storie lewe gee. Hulle maak dit ’n visuele en teatrale fees!”

Dis ’n skreeusnaakse speurverhaal wat in ’n strokiesprent-teaterstyl vertel word. Dit gee jou kans om vir ’n wyle net agteroor te sit en lekker te lag vir hul lawwighede, wat met meesterlike teatertegnieke vertel word.

1. Wie het Kobus vermoor? Wat lê agter die moord?

Bal-Oog en Brommel besluit om ondersoek in te stel. Wanneer Boltjie, Bal-Oog se hond, snuf in die neus kry, bevind Bal-Oog en Brommel hulself meteens in ’n avontuur vol spanning en humor, wat hulle in die donker onderwêreld van Milnerton inlei.

Om sake te kompliseer is Bal-Oog verlief op Anja, die vermoorde Kobus se meisie.

2. Dis ’n lang vertoning om kop te hou oor al die bewegings om die storie lyf te gee. Raak julle ooit deurmekaar?

De Klerk:Ek raak die heeltyd deurmekaar! Gelukkig is Richard daar om my soms letterlik in die regte posisie of plek in te stoot. Daar was al ’n keer of wat waar ons ook grootoog na mekaar gestaar het sonder dat een van ons weet wat volgende moet gebeur, maar gelukkig sit Gertjie ons dan musikaal terug op die regte pad.

Richard:Daar was oomblikke gedurende die repetisies waar ons tonge bietjie vasgeknoop het oor wie praat volgende, maar dit is al nou so in ons liggame ingeoefen, dat ons nie rêrig te veel daaroor hoef te dink nie.

3. Dis jul eerste toneelstuk wat in strokiesverhaal-teaterstyl gedoen word. Waar kom die idees vandaan en hoe ervaar julle dit?

De Klerk: Dit is vir my nogal ’n uitdaging. Ek het nie veel ervaring in die styl of mimiekspel nie. Richard is weer baie sterk daarmee, so hy en Sjaka het my met baie geduld ’n bietjie touwys gemaak. Die idees kom maar van trial anderror, ons het goed op verskeie maniere probeer tot ons iets gevind het wat vir ons pretty cool is en dit dan probeer afrond en opskerp so goed ons kan.

Richard: In die begin was dit baie uitdagend, maar hoe meer ons ons verbeelding begin vertrou het en ook vertroud geraak het met die essensie van die storie, hoe makliker het dit geword. Ons moes alles voluit probeer tot ons gevind het wat werk.

4. Improviseer julle soms, of is die stuk so goed ingeoefen dat elke vertoning streng by die teks hou?

De Klerk: Ek dink in terme van die struktuur weet ons waarby ons moet uitkom, maar die aard van die styl waarin dit aangebied word, gee altyd die geleentheid om so ’n rapsie eie inisiatief te neem.

Richard: Ons hou 95% by die teks. Daar is altyd plek vir ’n klein bietjie improvisasie.

5. Wat geniet julle van hierdie tipe teaterstyl en sal julle dit voortaan weer wil probeer?

De Klerk: Ek geniet die pas en die energie waarmee dit aangebied word. Die trein rý, Pappa; jy’s op hom of nie!

Richard: Ek geniet hoe ons wissel tussen vertellers, akteurs en karakters. Dis plesierig om reëls te maak en dan te breek vir komiese effek. Definitief, daar is altyd meer om te ontdek.

6. Wat was die grootste uitdaging aan hierdie styl?

De Klerk: Die grootste uitdaging is dan juis om hierdie energie en pas vol te hou. Sodra die gehoor die kans kry om vooruit te dink, is jy in die moeilikheid.

Richard: Dit eis ’n hoë vlak van fiksheid om die ritme en energie van elke toneel te behou, terwyl jy ook presies moet wees met die bewegings en klanke as ’n ensemble.

7. Is julle fans van grafiese romans?

De Klerk: Nogal nie. Bal-Oog en Brommel is die eerste een wat ek besit.

Richard: Nie ek nie, maar my ouer broer, Jeremy, is. Hy is mal oor Marvel s’n en baie ander.

8. Watter shows kyk julle by die fees waaroor julle opgewonde is?

De Klerk: Ons is almal freaks hier, Hierdie lewe, You Suck (en ander afgryslike waarhede).

Richard: Ek sien uit na Babbelagtig, Gif en Half-leeg.

9. Wat is die een ding van die KKNK wat julle die meeste geniet?

De Klerk: Dat kunstenaars verniet na mekaar se produksies kan gaan kyk.

Richard: Om te ontsnap na die Karoo; ek hou van die klimaat.

10. Wat was die coolste ding wat jy al gelees/gesien/gehoor het by die fees?

De Klerk: Bal-Oog en Brommel!

Richard: Ek is mal oor die ewig-ontwikkelende hip-hop-program as deel van Afrikaanse musiek en digkuns.

  • De Klerk Oelofse is ook te sien in Babbelagtig en Nêrens, Noord-Kaap.
  • Richard September kan ook nog gesien word in Swerfgoed.
Meer oor:  De Klerk Oelofse  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.