Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oud-joerrnalis: Wees bedag vir rooi ligte oor narsis

Moenie die rooi liggie in jou kop ignoreer oor die man of vrou wie se gedrag jou soms intens pla nie. Dit kan jou geliefde of jou baas wees. Die een oomblik vriendelik en innemend, die volgende donker, aggressief, agteraf, gewetenloos.

André le Roux, skrywer van Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, het ’n jare lange studie van die gedragspatrone gedoen van mense wat in dié kategorieë sou kon val. Hy is nie bang om bekendes, veral dié wat weens moord of geweld aangekla is, in sy boek by die naam te noem nie.

“Ek vermy laster, want ek was nie verniet 30 jaar ’n joernalis nie – ek weet hoe dit werk. Solank jou storie in openbare belang is.”

Daniel Hugo (voor) en André le Roux het gesels oor psigopate, stalkers en skisofrene na aanleiding van Le Roux se boek Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste. Foto: Marlene Malan

Narsiste is gewoonlik vleiers en manipuleerders: sjarmant, met ’n patroon van grandiose gedrag of praatjies, en met ’n sin vir aanspraak. Voeg daarby bestanddele soos ’n gebrek aan empatie, gewetenloosheid, iemand wat geen berou toon nie, die blaam verplaas en wat daarop uit is om lewens te ruïneer, en jy het te doen met ’n psigopaat.

Sadiste is mense wat genot put uit lyding, seermaak en doodmaak. Stalkers is mense wat jou volg, fisiek of elektronies.

Die gedrag van dié vier kategorieë oorvleuel dikwels, maar al vier se aanvanklike lokaas om jou te betrek, is sjarme, vriendelikheid en hoflikheid.

“Daarom raak vroue so maklik op sulke ouens verlief. Dis die lokfase. Dan begin die afkraakfase, wanneer sy gedrag teenoor jou begin verander. Hy raak lelik met jou.

“Dis belangrik dat jy reg van die begin af kyk hoe jou geliefde ander mense behandel.”

Die Amerikaanse psigiater Robert Hare het ’n klassifikasieskaal (van nul tot 40 punte) vir psigopatie ontwerp. Ons almal lê iewers tussen twee en vyf, volgens Le Roux. Op 25 kan jy as ’n psigopaat geklassifiseer word. As jou skaal 38 tot 40 sê, sal jy reeds in die tronk wees. “Dit beteken egter nie alle mense wat in die tronk is, is psigopate nie.”

Dis belangrik dat daar tussen psigopatie en skisofrenie onderskei word: Psigopatie is ’n persoonlikheidsteuring; skisofrenie is ’n geestesiekte wat sertifiseerbaar is.

Daar is geen rede om hulle jammer te kry nie. Maak dat jy wegkom.

Daar is verskeie redes waarom mense psigopate is, het Le Roux gesê. “Die oorsprong kan geneties wees, ’n probleem wat in die baarmoeder met die baba ontstaan, of weens omstandighede. Of ’n kombinasie van twee of drie hiervan. Die ongeluk is dat geen terapie of medikasie ooit ’n psigopaat kan genees nie. Terapie kan bloot help om so iemand uit te vang.”

Psigopate is mense wat graag aanvaar wil word en verwerping vrees.

“Hulle sal enigiets doen om te keer dat hulle uitgestoot word. Hulle lees hul omstandighede of die groepe waarin hulle is baie goed, sodat hulle kan aanpas.”

Die een of ander tyd kom hul negatiewe gedrag egter na vore en dan gebeur dit wat hulle die meeste vrees – hulle word verstoot.”

Le Roux sê hy het nie dié boek geskryf “sodat mense hulself kan diagnoseer nie, maar sodat hulle op die uitkyk kan wees vir sulke gedrag. Daar is geen rede om hulle jammer te kry nie. Maak dat jy wegkom.”

Meer oor:  Kknk 2018  |  Oudtshoorn  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.