Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ramaphosa gaan nie alles alleen kan regmaak nie’
Phillip de Wet en prof. Mohammad Karaan luister aandagtig na opmerkings uit die gehoor tydens hul gesprek oor die Ramaphosa-era gister in Die Burger se Praat Saam-reeks. Foto: Jaco Marais

Die Netwerk24-Feeskafee was Saterdagoggend vol nuuskierige ore, honger vir goeie nuus oor die Rama­phosa-era. Dit is die derde Die Burger Praat Saam-gesprek met Ivor Price as aanbieder en Phillip de Wet van Business Insider SA en prof. Mohammad Karaan, lid van die nasionale beplanningskommissie, op die paneel.

Dit was moeilik om die kundiges te hoor in die besige feeskafee. Die geblaas van koffiemasjiene, gekuier van feesgangers en selfs ’n skreeuende kind het vir my die trefkrag beïnvloed.

Die gesprek het gehandel oor die “nuwe begin” met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur.

Prof. Mohammad Karaan. Foto: Jaco Marais

“Ramaphosa is ’n prosesmens,” vertel Karaan. “Hy is ’n man met ’n langtermynvisie, vir wie die proses baie belangriker as die produk is.”

Mense verwys na Ramaphosa as die groot leier waarop SA gewag het. De Wet is van mening dat ons versigtig moet wees om al ons hoop op ’n enkele individu te sit om alles reg te maak.

“Geloof is baie belangrik, veral as dit kom by politiek en die ekonomie. Ons het ’n leier nodig. Wanneer mense geld in die ekonomie instoot, is dit omdat hulle geloof het. Dit is fantasties om so ’n leier te hê. Maar, asseblief, ons moet net nie glo dat Ramaphosa dit alles eiehandig kan regmaak nie.”

Karaan het na Ramaphosa verwys as staatsman en nie as politikus soos sy twee voorgangers nie. “Die verskil tussen die twee is: ’n politikus dink net aan die volgende verkiesing; ’n staatsman dink aan die volgende generasie, en dit is wat Mandela gedoen het. Dit is wat Cyril ook sal doen.”

“Presies hoeveel rand het Zuma ons gekos?” wil Price weet.

“Ons probeer al so lank daai som maak, maar ek dink nie daar is ’n nommer groot genoeg daarvoor nie,” het De Wet gesê. “Ons weet wat hy persoonlik bestee het as jy kyk na Nkandla en die bedrag waarvoor hy nou in die hof gaan verskyn. Dit is omtrent ’n miljard rand.

Phillip de Wet. Foto: Jaco Marais

“Maar dit is nie naastenby die getal wat hy die land gekos het in terme van mense wat nie belasting betaal nie. Geloof in ’n land beteken dat meer mense belasting betaal. Zuma het ons land verskriklik baie gekos en die probleem is om dit om te draai.”

“Iewers in die wêreld gaan daar groter leierskap moet kom,” sê Karaan terwyl hy praat oor die wêreldresessie. “Nêrens in die wêreld is die leiers politici nie. Ons het ’n groot leemte aan goeie leiers.”

Later sê hy: “Dit gaan nie oor een man se werk nie; dit gaan oor elke individu in hierdie land wat meer verantwoordelikheid moet dra.

“Meeste mense het nog nooit eens die Nasionale Ontwikkelingsplan gelees nie.”

Die gesprek het later gedraai na mense se kommer oor die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding.

“Ek dink nie dat dit ’n Ramaphosa-standpunt of -keuse is nie. Dit is op hom afgedwing. Op die oomblik is dit ’n te groot risiko om op te staan en nee te sê. Hy kan sy leierskapsposisie in gedrang bring deur dit te doen.

“Omdat hy ’n prosesmens is, kon hy sê: ‘Ek gaan dit toelaat, solank daar ’n proses is.’ Hy maak ’n gesprek oop wat baie meer rasioneel is. Die slotsom is, ons moet bepaal wat die omstandighede is waaronder ons die grond gaan onteien,” het Karaan betoog.

Die Netwerk24-feeskafee was stampvol vir Die Burger Praat Saam-gesprekreeks. Foto: Jaco Marais

Hy meen dat grondonteiening gaan gebeur, maar dat dit in ’n sagte vorm sal wees.

“Ramaphosa besef dat daar beleggingskade en afgradering gaan wees as dit verkeerd gedoen word. Die landbou gaan ook kwyn en die wêreld gaan hul vertroue in ons verloor. Die hele regering weet dat ons dit nie kan bekostig nie, maar hulle weet ook dat grondonteiening moet gebeur.

“Kom ons kyk na grond waar daar afwesige eienaars is. Kom ons kyk na grond wat nie produktief gebruik word nie,” is volgens Karaan hoe die gesprek op die oomblik gaan.

“Teen die einde van die proses gaan die regering soek na maniere om dit te doen en steeds die landbou laat groei.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Oudtshoorn  |  Politiek  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.