Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Resensie: ‘Anders wees’ slaag nie dié keer
Op die verhoog in Fotostaatmasjien is Len-Barry Simons, Anna-Mart van der Merwe, Emma Kotze, Schalk Bezuidenhout en Kathleen Stephens. Foto: Jaco Marais

In 1977 het die wêreld die Duitser Heiner Müller se postmodernistiese Hamletmasjien oftewel Die Hamletmaschine ontvang. Die werk waarmee dit omgaan is vanselfsprekend. Veel meer onlangs (2008) kry ons land Rachelle Greeff se neorealistiese Die Naaimasjien met Hennie van Greunen as regisseur en Sandra Prinsloo wat skitter in haar enigheid. Die werk skakel nie met ander reeds geskrewe werke nie. Dit is dus nie nabootsing, plagiaat of vervalsing nie.

’n Klompie jare later word ons toe onderwerp aan Jaco Bouwer se konseptuele produksie van Willem Anker se Samsa-masjien, wat volgens berigte in gesprek tree met Franz Kafka se Die Verwandlung (Metamorfose).

Emma Kotze in een van die rolle in die Fotostaatmaasjien. Foto: Jaco Marais

In 2018 word ons bekend gestel aan Bibi Slippers se Fotostaatmasjien. Die digter maak opslae en ontvang lof en pryse met haar post-postmodernistiese gedigte. Daar is talle intertekstuele verwysings na ander skrywers/digters en gedigte. Sy is self op die verhoog waar die gehoorlid kwansuis vier Bibi’s en die afskrif van ’n man ontdek. Wessel Pretorius is een van ons kragdadigste jong stemme in die (Suid-)Afrikaanse toneelwêreld. Hy blink uit as speler, regisseur en ook as ontluikende dramaturg. Sy aandeel aan die produksie van Fotostaatmasjien is onmiskenbaar en visueel is dit baie aantreklik. Soms is die choreografie en die bewegings wat elke begrip wil oordra of elke woord wil beklemtoon egter studentikoos. Ons het dit boonop al hoevele kere gesien. Die vyf spelers, te wete Anna-Mart van der Merwe, Emma Kotze, Kathleen Stephens, Schalk Bezuidenhout en Len-Barry Simons, gooi hart en siel in wat hulle moet oordra, uitvoer of dra (soos in aantrek).

As die onsigbare lektrise praat die stem van Nicole Holm om ’n soort van balans aan die verloop te gee. Niks hiervan maak egter van die teks, die gegewe en die geheel ’n werklik geslaagde toneelaanbieding nie. Dat dit genreloos is (dit wil sê nóg kabaret, komedie, klug, drama, tragedie, fisieke teater nóg dansdrama of dalk alles inkluis), is nie ter sake nie. Die geykte sêding is don’t shoot the messenger, maar in hierdie geval skiet die boodskapper en die boodskap mekaar oor en weer in die voet.

Bibi Slippers beweer dat alle letterkunde nageboots is, niks is oorspronklik nie en selfs die Skepping is ’n fotostatiese afdruk (uiteraard satiries bedoel).

Dis juis hier waar die perd die stang stukkend byt. In haar oorspronklikheid om te bewys alles is onoorspronklik raak sy eweneens onoorspronklik. Dis ’n te doelbewuste poging om anders te wees. Die dae van duister poësie is ook lank reeds getel. Slim vang sy eie baas. Annesu de Vos se Gebed van ’n groen perske het in 1980 reeds die meeste hiervan gedig – wat waarskynlik gewig verleen aan Slippers se redenasie. Maar talle holruggeryde, onoorspronklike uitdrukkings kan ingeryg word. Daarbenewens poog sy en die span, selfs die onsigbare lektrise/akademikus, om hiper-eietyds te wees, maar haak nog vas in oerverouderde uitsprake soos “poëzie” en “wyze”.

Volgens ’n kenner met ’n doktorsgraad van die een of ander prestige buitelandse universiteit kom die intertekstualiteit van die oorspronklike gedigte hier heeltemal tot hul reg. Werklik? Eerstens kan geen kyker rewind of terugblaai na vorige verwysings nie en word dit al gou ’n string krale of eintlik worry
beads
. Almal lyk en klink naderhand dieselfde. Te veel weefwerk bederf die tapisserie. Te veel dinge word in die teks en in die aanbieding as sulks van buite aangestryk. Doelbewuste simboliek soos Bezuidenhout as wit gesig dra nie by tot verheldering of uitbouing van die teks nie.

Dis flertse wat aanmekaar gestik word en nie werklik saamhang nie. Die slippers is nie van satyn nie, al die pryse en pryssange ten spyt.

Daar is baie snaakse oomblikke, soos die drie verse oor voëls wat Simons belig met Michelangelo se Dawid, Adam en nog wie se geslagsdele. Aanvanklik het die gehoor gelag as Bezuidenhout net sy vinger lig, maar dit het gou getaan. Elke speler het ’n hoogtepunt, maar of hierdie aanbieding werklik nuwe asem blaas in die voordragprogram-genre, is intellektueel te debatteer. Dikwels is dit meer die geval van intellektueel masturbeer. Boonop is die meeste van Slippers se geskrifte dalk gedigte, maar dis nog nie dig genoeg nie. Dis flertse wat aanmekaar gestik word en nie werklik saamhang nie. Die slippers is nie van satyn nie, al die pryse en pryssange ten spyt.

Desnieteenstaande is die produksie toegejuig, maar vir my is die keiser kaal, en ek sê dit want ek weet ek is nie Einstein nie, maar ek is ook nie ’n roomys nie. Die aanbieding is HamletSamsaFotostaatNaaimasjien met sommer nog tikmasjien en omkapmasjien alles saamgeklits in postnihilistiese roereiers.

Meer oor:  Anna-Mart Van Der Merwe  |  Bibi Slippers  |  Schalk Bezuidenhout  |  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.