
Die akteurs kwyt hulle goed van hul taak, hoewel die humor soms gedwonge voel. Foto: Jaco Marais
Dinge sou dalk beter gelyk het as die baba maar wél saam met die badwater uitgegooi was.
In ’n klomp verskillende episodes vertel Die baba met die badwater die storie van ouers wat by geboorte nie die geslag van hul baba weet nie – omdat die ma die baba se privaatheid wou beskerm.
John (Wynand van Vollenstee) en Helen (Liezl de Kock) maak die baba groot as ’n dogter, Daisy (Kaz McFadden), wat later katatonies depressief is – deels omdat sy eintlik ’n hy is.
Die storie handel verder oor die uitdagings wat hiermee saamgaan.

Liezl de Kock, Wynand van Vollenstee en Karin van der Laag kwyt hulle uitstekend van hul taak in hierdie komedie. Foto: Jaco Marais
Die toneelstuk is deurtrek van die kenmerkende onder-die-belt-slapstick-komedie wat sommige mense skreeusnaaks sal vind, maar ander koud sal laat. Die akteurs het hulle goed van hul taak gekwyt, hoewel komiese oomblikke soms gedwonge voel. Lizz Meiring vertolk die rol van drie verskillende vroue in een toneelstuk uitstekend.
’n Toneel wat uitstaan, is wanneer die drie vroue op ’n bankie in ’n parkie sit en oor hul kinders praat. Karin van der Laag vertolk die rol van ’n Afrikaanse Engelse vrou uitstekend, en kry dit reg om selfs diegene wat nie van slapstick hou nie, te laat lag.
Die dekor van die stel is interessant. Die meubels en die kleure spreek van ’n kitschgeit wat soms net so deel van die Afrikaanse kultuur is soos onder-die-belt-komedie. Die stelveranderings is wel uitstekend gedoen, met die agtergrond wat met die spreekwoordelike vingerklap die omgewing verander.