Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Resensie: ‘Dit was malste, beste ding ooit!’
Richard September en De Klerk Oelofse. Foto: Nardus Engelbrecht

Strokiesverhale het ’n onregverdige reputasie onder sekere lesers. Sommige dink omdat daar prentjies is, is dit net vir kinders – heeltemal ongegrond, natuurlik. Strokiesprente in koerante, spotprente, fotoverhale en strokiesboeke het ’n ryk geskiedenis van inhoud wat tot volwasse gehore spreek. In die 1990’s het baanbrekers soos Anton Kannemeyer en Conrad Botes met Bitterkomix ’n fel aanslag gelewer op die wanpersepsie van strokiesprente. Hul gehoor was definitief volwasse. Baie volwasse. Geen onderwerp is taboe nie, dit lewer snydende kommentaar en heilige koeie word voor die voet geslag.

Soos met alle persepsies gaan dit lank vat vir strokiesprente om daardie etiket te verloor. In my opinie is die konnotasie aan die woord strokiesprent soos met die Engelse comic ligsinnig en beuselagtig.

Met die verskyning van Sjaka Septembir, Swart Streep en Willem Samuel se nuwe boek Die avonture van Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat beskryf hulle dit as “ ’n grafiese roman”. Hulle het al ’n tweede oplaag van die boek gedruk, wat in September 2017 verskyn het. Dis die avonture van twee tienerseuns, Bal-Oog en Brommel, wat in Milnerton bly. Hulle ry skaatsplank, hou meisies dop en kom in die moeilikheid. Dus – hulle is maar net gewone tieners. Tot hulle vermoed iemand in hul woonstelblok is vermoor. En dan begin die poppe dans.

Septembir kom uit ’n agtergrond van fisieke teater en clowning. Dis sy kos. Dit is dus glad nie snaaks toe hy besluit het om van die boek ’n teaterproduksie te maak nie. Maar, meen hy, in dié geval was dit vir hom duidelik dat hy nie die regisseur van die produksie ook kon wees nie, want hy is te “na aan die materiaal”. En dis toe dat hy die bekroonde Gideon Lombard (Reuk van appels) by die projek betrek het om die regie te behartig. De Klerk Oelofse (Babbelagtig, Nêrens, Noord-Kaap) speel die rol van Bal-Oog en Richard September (Rooivalk, Rondomskrik) die rol van Brommel. Gertjie Besselsen van die groep Mr. Cat & The Jackal (ook te sien in Besselsen) behartig die musiek en byklanke en het selfs ’n klein rolletjie in die stuk.

Nou mag jy dalk vra, hoe op dees aarde “vertaal” jy ’n strokiesverhaal en verplaas jy dit na die verhoog? “Wel, ek het die eerste dag van repetisie vir De Klerk en Richard elk ’n kopie van die boek gegee en gesê: ‘Hier is jul teks’.”

Moord in Ixiastraat is ’n uitmuntende stuk fisieke teater met ’n talentvolle span wat jou uitasem en verstom op die straat uitspoeg.

Die produksie is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n hele stel geskep kan word sonder die gebruik van een enkele objek. Dis net die kaal verhoog en die twee akteurs met Besselsenin die hoek met sy instrumente. Die twee vriende maak gebruik van kamma-spuitkannetjies en “spuitverf” die denkbeeldige stel van elke toneel. Dit beteken egter die gehoor moet wakker wees. As jy indut, gaan jy die storielyn verloor.

Die spel is energiek. Baie energiek. Soos in drie Comrades-marathons in 75 minute energiek. Dis fisiek uitdagend. Oelofse en September speel die rolle van meeste van die karakters. Hulle transformeer meesterlik van een karakter na die ander sonder enige konstuumveranderinge of met die hulp van enige rekwisiete. Dis karakterisering uit die boonste rakke ondersteun deur baie sterk regie. Die verhaal het baie intriges, speel in verskillende ruimtes in ’n buurt af met baie karakters wat in en uit die storie weef. Daar word geduik en gerol en gespoeg en gefluit. Al die bewegings word afgerond deur byklanke. Selfs die persepsie van plek en tyd word vernuftig uitgevoer deur tonele wat in- en uitgezoom word.

In die produksie is die gehoor deel van die skeppingsproses. Die stel is in jou kop. Hulle skets die omgewing, maar jy as gehoorlid moet die detail inkleur. En jy kan dit in jou geestesoog sien. Hulle lei jou vernuftig met byklanke, sketse, beweging en dialoog.

Moord in Ixiastraat is ’n uitmuntende stuk fisieke teater met ’n talentvolle span wat jou uitasem en verstom op die straat uitspoeg. Dis wack. Dis vinnig. Dis skerp. Dis sweterig. Dis nat. Dis in jou kop. Dis in hul lywe. Soos ’n meisie vir haar vriendin ná die tyd uitasem meedeel: “That was the craziest best thing I’ve ever seen.”

  • Moord in Ixiastraat - 'n Bal-Oog-en-Brommel-avontuur. Drama. Griesselsaal. Saterdag om 20:00.
Meer oor:  De Klerk Oelofse  |  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.