Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Resensie: Jeugdiges wil mishandeling stuit
Alex-Zay Leonards en Tiffany Saterdacht worstel met letsels van mishandeling in Bid of baklei. Foto: Natalie Gabriels

‘My kragte verlaat my nou hier soos ek aanskou hoe haat die vrou uitklou. Verlos my van al my grief. Die man spoeg en hy bedrieg; die man vertrap en hy verniel; hy vermoor en hy verkrag, en hy versmoor haar siel. Ek is moeg. Ek smag na verlossing.”

Toe die twee plaaslike aktrises Alex-Zay Leonards en Tiffany Saterdacht ná die vertoning vra of daar vrae is, moes die gehoor eers ophou huil voor enig­iemand kon praat.

Dié treffende tweevrouvertoning het soveel aspekte wat haar (só ’n toneelstuk is definitief vroulik) merkwaardig maak. Die spel is so boeiend dat jy bang is om ’n oog te knip, en daar is soveel kragtige stukke dialoog dat jy wens jy kon dit neerskryf.

Dit handel oor twee vroue wat worstel met die letsels van mishandeling: gaan ons daaroor bid, of gaan ons terugbaklei? Hoekom kan ons mans ons nie help om daarteen te veg nie?

Die heel merkwaardigste is egter dat dié twee aktrises, wat hoegenaamd geen opleiding in toneelspel of skryf het nie, slegs vier dae gehad het om die toneelstuk op die been te bring.

Die spel is so boeiend dat jy bang is om ’n oog te knip, en daar is soveel kragtige stukke dialoog dat jy wens jy kon dit neerskryf.

“Ons het verlede Maandag begin skryf en Dinsdag klaargemaak. Toe het ons Woensdag begin oefen,” sê Tiffany, wat die aanvanklike gedig geskryf het waarby die idee vir die teks begin het.

Saam met Alex-Zay, wat al voorheen gedigte geskryf het, het sy toe die gedig in ’n teks begin ontwikkel.

“Ek praat van ons mense: ons pa’s, ons broers – hoe hulle net sit en kyk en praat daaroor, en dis dit. Niemand is bereid om op te staan en te rally vir ons nie. Ons moes vir hoe lank bid en baklei vir ons mans, hoekom kan hulle nie dieselfde vir ons doen nie?” sê Tiffany. “Die stuk is vir ons baie persoonlik. Ons albei het ’n agtergrond wat ons aan abuse blootgestel het.”

Tiffany vertolk die rol van “Baklei”, terwyl Alex-Zay die rol van “Bid” inneem.

Tiffany sê dat haar ma ’n vrou is wat teen mishandeling baklei het, sy het nie net stilgebly nie.

“My pa het vir ’n lang tyd, voor ons, aan my ma geslaan en sy het terugbaklei.

“Dit was meeste van die tyd ’n losing battle, maar sy het opgestaan vir haarself. Dis die tipe vrou wat ek wil wees. Ek wil nie net stilbly nie.”

Alex-Zay se ouma is egter jare lank mishandel, terwyl niemand daarvan geweet het nie.

“Sy het geglo ’n vrou moet op haar plek bly en stilbly. Dit is jou keuse om in ’n huwelik in te gaan, en jy moet dan daar bly. Só het sy gedink. Dis hoe sy haar kinders ook grootgemaak het. Dis hoe ek grootgeraak het, as ’n vrou wat stilbly.”

Shihaam Domingo, wat saam met kykNET hierdie meisies onder haar vlerk geneem het, sê haar doel is om ’n blywende verskil in mense se lewe te maak.

“Ons wil hulle leer om professioneel te wees, en ook onafhanklik, sodat hulle later sonder ons kan aangaan.”

Saam met haar span neem Shihaam jongmense wat belowend lyk, en probeer hulle binne ’n paar dae meer bewus maak van teater en toneel, en leer hulle hoe om hul tekste te ontwikkel.

“Hierdie kinders se commitment is ongelooflik. In die kort tydjie het hulle wonderwerke reggekry.”

Bid of baklei wys vandag en môre by die Uitkampteater in die vraghouer as een van die “Lappieskombers”-produksies. Die ander produksies wat ook deur Shihaam op die been gebring is, is As die skoen jou pas en Stoepstories.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.