Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Resensie: ‘Verlate’ Kellermann ontroer
Antoinette Kellermann. Foto: Nardus Engelbrecht

Uiteraard het Antoinette Kellermann geen bekendstelling nodig by enige fees of aan enige toneelkierige of selfs televisiekyker nie. Haar loopbaan en lys van toekennings spreek boekdele.

In hierdie geval het Saartjie Botha vir die US Woordfees as huldeblyk aan Karel Schoeman sy roman Hierdie lewe vir die verhoog verkort en verwerk. Sy het onmiddellik Kellermann as die vrou en Wolf Britz as regisseur in gedagte gehad.

Ten tyde van haar dood oorspoel herinneringe ’n ou (naamlose) vrou. Al die ander karakters na wie sy verwys en van wie sy vertel, het name en word sterk teenwoordighede wat die gehoorlid kan aanvoel en selfs sien. Hoewel dit vertelling is – anders as met die meeste van Kellermann se ander eenpersoonvertonings soos byvoorbeeld As Die Broek Pas waar die karakter ander karakters konfronteer – en die vrou dus feitlik buitestander bly, is dit aangrypende teater. Haar eensaamheid, verlatenheid en onvervulde drome, asook talle onbeantwoorde vrae, spreek juis as gevolg hiervan sterker. Haar pa, ma, twee broers en skoonsuster, broerskind en dan al die arbeiders, kry gestalte terwyl sy as mens al hoe meer met die skaduwees versmelt. Hierdie onvervulde lewe.

Kellermann se vertolking is ontroerend, eerlik, onopgesmuk. Onder die stewige, kundige hand van jong regisseur oorskry sy nooit die perke van ingetoënheid maar ook opregtheid nie. Self die fyn kwinkslae word nie uitgespel of uitgestal nie. Dis fyn, gevoelvolle, deerniswekkende spel wat getuig van die aktrise se tegniese vaardigheid maar ook haar ongekende talent.

Kellermann se vertolking is ontroerend, eerlik, onopgesmuk.

Britz is boonop verantwoordelik vir die ontwerp (of soos aangedui in die program “scenografie”) en dit ondersteun die atmosfeer, spel en verhaal deurentyd. Hy is nie verniet bekend as een van die land se heel beste beligtingsontwerpers nie. As regisseur bewys hy homself weer eens.

Voeg hierby Braam du Toit se subtiele en by tye bykans onhoorbare agtergrondmusiek en die geheel is ’n stille belewenis. Om enige gehoorlid in te lig oor die skitterende aanvang van die aanbieding, sal heiligskennis wees.

  • Hierdie Lewe. Toneel. Laerskool Van Reede. Saterdag om 13:00, 2 April om 15:30 en 3 April om 09:00.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.