Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Resensie: Woorde sny dieper as die vlees

Gaan gróót.

Ek dink dít was die benadering van Marina Albertyn (teks) en Marthinus Basson (regisseur en ontwerp) toe hulle aan Melk & vleis gewerk het.

Dis ’n Kanaänitiese produksie van oorvloed: ’n groot teks, ’n lang drama, ’n lewensgrootte plaaskombuis en ’n magdom temas wat binne 85 minute aangespreek word. Dis ’n netwerk van Albertyn-en-Basson-kompleksiteit wat jou nog vir dae ná die tyd gaan laat dink.

’n Sterk, onafhanklik vrou (Illse Roos) verruil haar lewe as beroepsvrou in die stad vir die plaas wanneer sy op ’n jonger man (Neels van Jaarsveld) verlief raak. Sy sukkel egter om aan te pas in die konserwatiewe gemeenskap. Hulle het een seun, maar wil graag nog ’n kind hê, wat blyk onmoontlik te wees.

Neels van Jaarsveld en Illse Roos. Foto: Nardus Engelbrecht

Melk & vleis speel af in 1996. Suid-Afrika het verander, maar sekere huishoudings het nog nie. Die verhouding met die huishulp (Nomkhita Bavuma) en haar dogter (Se­sethu Zamxaka) gee konteks aan die veranderende wêreld wat rondom hulle ontvou.

Dit is egter die verval van die verhouding tussen man en vrou wat voor jou oë op die verhoog afspeel wat kerf aan die gemoed. Die liefdevolle verhouding verander stelselmatig in ’n magstryd waarin geslagsrolle met argaïese benepenheid met mekaar bots. Die woordewisselings is snydend en ongemaklik. Melk & vleis as titel dui reeds vroeg op die konflik wat binne die verhouding aan’t kook is.

Die vrou het die plaas uit ’n finansiële verknorsing gered en nou wil die man die melkplaas in ’n slagplaas omskep, en hy kry dit reg. Op meer as een manier. Hy gebruik van hul laaste spaargeld om ’n slagpale te bou. Dit en ander faktore plaas druk op die verhouding en ondergrawe die vertroue tussen hulle.

Albertyn se digverweefde teks is gegrond op ’n bekende Griekse tragedie. Ter wille van die verrassende ontknoping gaan ek nie hier verwys na die grondteks nie. Die gehoor sal dit miskien in die teks optel, maar dit mag die verrassende wending aan die einde van die verhaal onnodig vir sommige kykers verraai.

Dit is een van daardie vertonings wat beslis ’n nabetragtende teatergesprek regverdig om al die subtekste en intertekstualiteit te bespreek. Maar nie voor die tyd nie. Vat dus iemand saam met jou sodat julle ná die vertoning dit kan oordink, bespreek en herkou.

Myns insiens is dit onnodig om die verhaal in 1996 te laat afspeel. Dit kon netsowel in 2018 afgespeel het, want meeste van die temas oor ras- en geslagsongelykheid wat in Melk & vleis aangespreek word, is steeds geldig in baie huise.

Dit sou na my mening die produksie meer treffend en relevant gemaak het. Mense kan maklik daar uitstap en die onreg wat hulle gesien het afmaak as iets van die verlede, maar dit is nie. Hierdie temas is ongelukkig steeds ’n realiteit in ons leefwêreld vandag, en soos wat teater telkemale vir ons wys, kan die kunste bewustheid skep en grense verskuif. Die gehoor, net soos die twee hoofkarakters op die verhoog, word dus nie aanspreeklik gehou nie.

Roos en Van Jaarsveld lewer albei ’n vertolking van ’n leeftyd. Hul karakters is multidimensioneel en hulle is in staat om die nuanses van die komplekse emosies geloofwaardig uit te druk. Dis definitief ’n hoogtepunt in hul loopbane. Albertyn se teks word goed ondersteun en tot uiting gebring deur Basson se sterk regisseurshand.

Dis definitief ’n produksie wat gesien moet word. Koop egter ’n dop by die deur, en bêre ’n slukkie vir die einde.

  • Melk & vleis. Drama. SANW-ouditorium. Vandag om 20:00, môre om 15:30 en 4 April om 12:00.
Meer oor:  Neels Van Jaarsveld  |  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.