Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Resensie: ‘You Suck (En ander afgryslike waarhede)’
Klara van Wyk in You Suck (En ander afgryslike waarhede). Foto: Natalie Gabriels

Dit is eers ’n rukkie ná die begin van Klara van Wyk se You Suck (En ander afgryslike waarhede) dat ’n mens besef daar is iets diepers hier as net die malle woelinge van ’n tiener.

Sy is so herkenbaar; jy kan nie help om haar jammer te kry nie, soos vir ’n oulike hoenderkuiken wat aanhoudend in sy stofhokkie rondval.

Dit lyk nie op die oog af so nie, maar hierdie dieper sin is juis die verhoogstuk se hart en behoort dié coming of age-verhaal van hoofkarakter Pretina de Jager se bittersoet lewe eerder in die kategorie van tragi-komedie gesien te word. Dit is ’n belangrike onderskeiding (en miskien laat hierdie skrywer die kat nou uit die mou).

Die KKNK-gids lys dit as komedie. Dít is dié toneelstuk beslis nie, al is daar baie lag. En net hier kan ’n mens dalk ’n gesprek begin oor hoe regverdig ’n teksskrywer behoort te wees in die verkoop van ’n stuk aan ’n potensiële gehoor: Wil ons nie juis as die gehoor verras wees, al is dit om ons eie teenstrydighede in ons privaatheid te laat ontbloot? Om jou eers daar te kry – verby jou faalbare interne verdedigings – moet daar dalk ’n wit leuentjie vertel word, of hóé?

Klara van Wyk in You Suck (En ander afgryslike waarhede). Foto: Natalie Gabriels

Daar is natuurlik geen sprake dat dit inderdaad is wat hier plaasgevind het nie. Nietemin, so snaaks soos ’n tiener se deurmekaar wêreld kan wees, is hierdie stuk steeds ’n blik op ’n tienermeisie se soeke na identiteit in ’n deurmekaar – en dikwels wrede – wêreld.

En dit in ’n tyd wanneer tiener-geestesgesondheid hier en wêreldwyd, meer as ooit tevore onder die loep is. Dit is ’n koue realiteit van ons hedendaagse samelewing dat ons ’n krisis beleef, waar selfdood onder jongmense onder die grootste en snelgroeiendste oorsake van sterftes is.

Van Wyk, wat die stuk geskryf het en ook die hoofrol (uitstekend) speel, dryf haar kougom-kouende karakter deur die hoogte en laagtepunte van haar aanslag om deel van die gewildste groepies in haar klas te word. Haar Nemesis is “A-groep”-leier Sarah Walker.

Dit is soos ’n motorongeluk wat voor jou afspeel. Jy weet Pretina is op ’n dwaalspoor; jy kan nie help om te lag oor haar vereenvoudiging van die lewe nie: ’n Tabel van slegs vier teiken-eienskappe om suksesvol in haar nuwe Engelse skool en dus ook as tiener te wees. Die blokkie langs die inskrywing, “sosiaal”, is die enigste een wat geen geel smiley-plakkers het nie. Sy wil met alle geweld gewild wees en liefde vind, maar alles ontwyk haar. As sy net die sleutel kan vind!

Gaan kyk hierdie belangrike stuk, en besluit self of sy daarin slaag.

You Suck (En ander afgryslike waarhede); Die Parlement (Laerskool Wesbank) 4 April om 13:00.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.