Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Saartjie se verhaal laat albei aktrises huil
Lee-Ann van Rooi (links), Kay Smith en Albert Pretorius in Ons is almal freaks hier. Foto: Nardus Engelbrecht

In 1810 vertrek ’n vrou van die suidpunt van Afrika onder valse voorwendsels van emansipasie per skip na Londen. Sy word later ’n “tentoonstelling” in Parys en sterf in 1815 in ellende. Haar liggaam word tot 1974 in ’n museum in Frankryk uitgestal. In 2002 word haar oorskot na Suid-Afrika teruggebring en in haar oorspronklike geboortestreek op Hankey ter ruste gelê.

Lee-Ann van Rooi en Kay Smith deel die rol van Saartjie Baartman in Ons is almal freaks hier, wat tussen die uitstallings in die Prince Vintcent-gebou afspeel. Die gehoor stap agter die akteurs aan vir die veranderende tonele en soms is Albert Pretorius, wat die rol van die kaptein, weldoener, sirkusbaas, uitbuiter en wetenskaplike speel, ongemaklik na aan die gehoor.

Die regie is deur Nicole Holm en die teks deur Ingrid Winterbach. Ek gesels ná afloop van openingsaand met die akteurs.

1. Hoe het jy gevoel toe jy genader is vir die rol?

Lee-Ann: Bang. Ek het die teks twee jaar gelede ontvang en kon dit nie doen nie. Dit was te veel vir my. Toe ek dit einde laasjaar weer kry, was die tyd en plek vir my anders en ek het besluit om dit aan te gryp. ’n Mens het net een kans om iets reg te doen en ek het gevoel dat ’n film soos Krotoa soveel kritiek uitgelok het omdat dit verkeerd geframe is. We were raped again!

Hierdie verhaal is ’n groot ding in my lewe. My ma het gesê sy bid vir my, maar ek het ja gesê vir Nicole se visie dat ons as vroue die rol aanpak en veral omdat sy gevra het ek en Kay moet haar help met die rol. Sy het gesê sy kan nie as wit vrou ons geskiedenis verstaan nie, maar ons gaan haar help.

Kay: ’n Hele klomp emosies het deur my gespoel – ek kan dit nie beskryf of verduidelik nie – maar ek het net geweet ek moet dit doen, omdat die siklus net oor en oor herhaal word en ek ’n mondstuk daarvoor kon word.

Albert: Ek was mal oor die teks, want dit is baie mooi geskryf. Toe ek dit die eerste maal gelees het, was daar nie oral karakters aangedui nie, so ek het byvoorbeeld nie geweet waar ek oral gaan speel nie. Maar deurgaans is my karakter die vehicle wat die downward spiral dryf.

2. Hoe berei jy voor vir die rol?

Lee-Ann: Ingrid se skrywes is nie maklik nie. Dit het my ontsettend lank geneem om deur die teks te kom en boonop is Afrikaans my tweede taal. Sy gebruik baie woorde wat in onbruik geraak het en dit voel of ek vir weke met die woordeboek langs my bed gaan slaap het.

Ek en Kay het albei baie gehuil. Dis my geskiedenis, my ma en my ouma s’n, en hulle het die hele tyd deur my gedagtes geflits terwyl ek deur die teks gewerk het. Dit het my awaken. Hoe vroumense misbruik word, hoe daar met hulle gepraat word . . . Hulle is nie jou equal nie, effe minder as ’n mens, effe meer as ’n dier .

Die rol het my as mens én akteur gestretch. Ek het my banggeit in die gesig gestaar en gespring. Maar eintlik is die voorbereiding vir só ’n rol ’n lifelong een omdat ons nie weet wat ons history regtig is nie.

Kay: Ek het die teks gelees en herlees en herlees en dit het vir my uitgestaan omdat ek in sulke gemeenskappe kom en ook Remembering the Nation, Dismembering Women? deur Meg Samuelson gelees het en besef het hierdie storie is nie net die verhaal van Saartjie Baartman nie; dis alle vroue se storie en die misbruik gaan steeds voort. Ons het ’n bietjie Ingrid uit die teks gehaal op plekke waar ons gevoel het dit dra nie by tot die boodskap nie.

Lee-Ann: Ja, nou gaan jy vra oor cultural appropriation, maar nee, ek glo almal kan almal se storie vertel; it just depends on how you frame it.

3. Watter uitdaging was daar om een deel van 'n rol te wees? Hoe het julle saamgewerk om elkeen sy eie uniekheid na die rol te bring?

Lee-Ann: Soms was Kay my sussie, soms my jonger self, soms my toekomstige self, soms my droom, soms my gewete, soms my dogter. Op een plek trek ek haar jerseytjie aan om haar naaktheid te bedek, dan is dit asof ek haar weer bymekaar wil sit. As sy dans, is ons een persoon. Dié rol het die hele tyd gewissel. En op een plek waar sy in haar jeugdige skoonheid dans, is ek die ouer, uitgeleefde weergawe van haar – die een wat haar seksuele magte verloor het – en dan staan ons amper teenoor mekaar. En die hele tyd is Albert die middelpunt. Dis ’n komplekse, intense rol om deel van te wees.

Kay: Al wat ek na die rol kon bring, is my ervaring as vrou en my ondervinding van die omgang met ander vroue.

4. Hoeveel dra die venue vir jou by tot die storie en hoe moeilik was dit om van die museum (die Woordfees-venue) na die Prince Vincent te skuif? Verloor dit vir jou enigsins iets van die storie?

Lee-Ann: By die Woordfees was die storie baie meer in die geskiedenis verweef. Hier beweeg dit in die kuns in. In een toneel staan ons bo tussen die opgestopte voëls, wat deel uitmaak van die Visuele Kuns met die tema “Krap waar dit jeuk”. Jy voel soos daardie voëls: jy wil vry wees en vlieg, maar jy kan nie. In die museum kon ek wys na my geskiedenis wat in glaskaste vertoon word.

Albert: Plekspesifieke toneelstukke daag jou as akteur baie uit. Dis ’n lewendige spasie en daar is geen veiligheid van ’n backstage, of skeiding tussen verhoog en gehoor nie, jy is soms tussen die gehoor. Die kuns is die vierde akteur en die gehoor die vyfde akteur en daarom is elke aand verskillend, al bly die teks dieselfde. Maar ek is nog nie seker oor die verskil tussen die venues nie. Vra my weer ná die laaste van ons nege vertonings!

5. Kom daar baie vrees saam dat jy dalk mense se beeld van Saartjie Baartman kan skend en verwagtinge van so 'n rol jou kan oorweldig?

Lee-Ann: My grootste vrees was dat Saartjie so ’n groot figuur in ons geskiedenis was. Jy kry net een kans om ’n ding reg te doen. Ek kan net die waarheid speel. Partymaal oorwin jy en partymaal verloor jy.

6. Hoe weet julle of die stuk geslaagd is, of dit mense raak en aan die dink sit?

Kay: Die feit dat dit ’n gesprek begin het, is die sukses. Selfs al distansieer jy jouself van die stuk nadat jy dit gesien het, is daar beweging.

7. Die stuk eindig met Garth Erasmus wat op die kora speel. Die akteurs is weg. Hoekom kom julle nie terug vir ’n buiging nie?

Lee-Ann: Dis ’n baie belangrike, tersaaklike stuk vir 2018. Ons los die gedagte by die gehoor. Ons kom nie terug vir ’n curtain call nie. Het die akteurs werklik ’n curtain call nodig? Ons los die gehoor met ’n ongemak; selfs die onsekerheid of die toneelstuk verby is en hulle kan opstaan en uitstap, is deel van die gedagte. Dis waar ons in Suid-Afrika is – onseker oor wat volgende kom.

  • Ons is almal freaks hier. Toneel. Prince Vintcent-gebou. Sondag om 18:00 en 20:00, Maandag om 09:00, 3 April om 20:00 en 4 April om 09:00.
Meer oor:  Oudtshoorn  |  Toneel  |  Kknk  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.