Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Shhhhhhhhhh’ verdien applous
Coenie de Villiers het betower met ’n nuwe styl van musiek. Foto: Jaco Marais

Ná verlede jaar se Karoo Suite saam met Deon Meyer is Coenie de Villiers vanjaar terug by die KKNK met Shhhhhhhhhh. Met die uitsondering van drie bekende liedere is alles nuut.

Op 62 is dit dan ook ’n “nuwe” Coenie de Villiers wat te voorskyn tree. Tydens ’n kort vooraf gesprek met hom en sy vrou, Ria, van Griekse herkoms, vertel hy dat hy na binne keer met hierdie program.

Hy het ou gewoontes afgegooi en die werke is stil, suiwer en innig.

Antonio Salieri, wat volgens gerugte (en Peter Shaffer in Amadeus) sy nemesis Mozart vergiftig het, het ’n kort sogenaamde komiese opera gepleeg met die titel Prima la musica e poi le parole – wat kom eerste: die musiek of die woord? Dis alleraaklig, maar in De Villiers se geval is die vraag ter sake.

Musiek en liriek is so dig verweef dat dit klink asof dit gesamentlik en organies geskep is. Albei is kuns – eerlike, onopgesmukte musiek- en digkuns. In pragtige, goeie Afrikaans.

Des te meer is De Villiers se stem nou so ryp en ryk dat dit die oorkanaal omseil en deur die vesels dring tot in die siel. Die stem het nie verouder nie, net nog meer timbre verkry.

Mauritz Lotz het De villiers op die kitaar begelei. Foto: Jaco Marais

Hy word bygestaan deur Mauritz Lotz op die kitaar. Hierdie konsert kon net so wel in Berlyn, Parys, Amsterdam of Londen aangebied word. Twee musikante van internasionale gehalte is aan die werk. Die fyn begrip tussen sanger/pianis en kitaarspeler is opsigtelik. Samewerking en samespel wat met elke lied ontroer.

’n Paar liedere het Engelse lirieke, byvoorbeeld “Walls” geskryf op versoek van Vicky Sampson, oor mure wat eens afgebreek is en nou weer opgerig word. Dink maar aan “die oranje man in die Withuis”.

Nog meer ontroerend is

“Heart” (“love will leave you bleeding”) waartydens die ouer egpaar neffens my styf en vertroostend hand vasgehou het. En in gans ’n ander toonaard vertel hy met “Tattoo” van die mens se pyn, lyding en vreugde wat in sy lyf geïnk word. Dit het oud en jonk geruk.

Elke nuwe lied getuig steeds van De Villiers se vernuf, maar dit is inderdaad met ’n wyser, stiller insig geskryf. “Die kers” waarvan die lig nie deur die grootste letterlike of figuurlike duisternis geblus kan word nie; “Plaas” oor die boere in hierdie dorre droogtetye en “Liedjie vir Luca” (’n wiegelied) wat hy namens sy heel beste vriend, Lucas Maree, vir dié se kleindogter geskryf het.

’n Instrumentale lied is dan ook die titel van die konsert en die album (CD) wat eersdaags sal verskyn. “Shhhhhhhhhh” skop visioene van die Karoo maar ook van Spanje oop. Hoewel dit niks gemeen het met Francisco Tárrega se “Recuerdos de la Alhambra” nie, laat dit ’n mens met insgelyke nostalgie en verlange. Hopelik sal dit net so ’n langdurige lewe hê.

Om te wil beweer dat Shhhhhhhhhh Coenie de Villiers se beste konsert is, is aanvegbaar. Wat hy hier saam met Mauritz Lotz bereik, maak dit egter vir my ongetwyfeld sy mooiste konsert. En geen ander Afrikaanse sanger kan die woord “ruik” so musikaal oordra dat jy inderdaad ruik waarna hy verwys nie. Volpunte.

Meer oor:  Coenie De Villiers  |  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Musiek  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.