Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Teater moet met mense bly gesels’

Die regisseur van Hierdie lewe, Wolf Britz, is nie alleen ’n gerekende regisseur nie, maar ook ’n kenner van die tegniese aspekte van teater. Wim Vorster het met hom gaan gesels.

Wolf Britz. Foto: Nardus Engelbrecht

1. Wolfie, wanneer was jou toetrede tot professionele teater?

Met Marthinus Basson se produksie van Maria de Buenos Aires – ’n Aardklop-inisiatief in samewerking met Oude Libertas. Ek dink dit was in 2003. Ja, reg. Ek was ’n eerstejaardramastudent by die US en het ’n werkie gekry as produksieassistent.

Nes jy, het ek eers drie jaar BSc geswot voor ek met drama begin het. Ek was ’n baie harde werker, want ek moes self vir my studies betaal. Uiteindelik het ek my honneurs gedoen in regie.

Marthinus was uiteraard ’n mentor vir my as student, maar die praktyk bly steeds die ware leerskool.

2. Jy is ook bekend as beligtingsfoendi. Die tegniese deel van teater is net so belangrik as die regie en die spel. Het jy enige behoefte om self toneel te speel?

Dit hang af van die styl van ’n produksie. Ek gaan speel nou in Bloemfontein (Vrystaat Kunstefees), maar dis meer ’n eietydse performance experiment. Die styl moet my dus pas, dan sal ek speel, maar ek wil nie ’n Hamlet of watter karakter ook al vertolk nie. Karakterisering is nie my forte nie.

Die stuk wat ons aanbied is God, God, God. Dis so ’n mitologiese onderbewussynstuk wat ons telkens van nuuts af skep of ontwerp.

Ons maak eksperimente oor die elemente waaruit die aarde en die kosmos bestaan.

Die oorspronklike teks is deur die Nederlander Rob de Graaf geskryf. Ons voer dit veel verder. Ek is nie ’n karakter nie, net ’n wetenskaplike verteller en ’n danser.

3. Iets wat almal altyd vra, maar dis lekker om te hoor: Wat is vir jou hoogtepunte wat jou regie betref?

Vanselfsprekend Hierdie lewe waarmee ons tans besig is. Antoinette en ek is lang jare al bevriend. Toe Saartjie Botha aan my noem dat sy hulde wil bring aan Karel Schoeman en dat sy dink Antoinette is die aangewese aktrise, het ek gespring daarvoor. Ek en Antoinette praat al lank oor saamwerk.

Ander hoogtepunte is Hensop!. Die musiekspel/kabaret-genre staan my baie aan.

Ek werk so lekker saam met Nicole Holm. Sy speel vir wêrelde wat ek skep. Sy was ook in Diensmeisies (Les Bonnes van Jean Genet). Dit was ons eerste saamspan.

Jare gelede het ek by die KKNK ’n dansstuk aangebied – ek kan nie meer die titel onthou nie, toe ek nog ’n student was – en ek het dit net so geniet.

4. Wat lê voor ná die optrede by die Vrystaat Kunstefees?

Wie weet? Ek glo dat Hierdie lewe ’n verdere lewe sal hê. In die teater is ’n jaar nie meer vol vooruit beplan nie.

God, God, God gaan wel die Woordfees in 2019 besoek.

Maar ek kla nooit, want ek is altyd besig. My agterkop woel aanmekaar oor projekte.

5. Jy was ook vir ’n ruk in die buiteland. Net vir ’n jaar.

Ek het by die einste Nicole haar pos as Engels-onderwyser in Suid-Korea oorgeneem. Ek het nooit behoefte gehad om die land of die bedryf permanent te verlaat nie. Dit was in 2010 – die Sokkerwêreldbeker-jaar en my studies was pas klaar, dus het ek weggebreek. Om klas in Engels te gee daar is eintlik meer interaksie met die studente.

Maar ek heg baie waarde aan opvoeding, dus was dit ’n verdere leerskool.

6. Wat my opval van jou werk, is jou onbeskaamde eerlikheid.

Vir my is daar nie ’n ander manier om met die materiaal, die teks, en die akteurs om te gaan nie. Selfs al gebruik ek sekere dinge vir effek, moet dit funksioneel wees en bydra.

As ek dink aan Smelt (Abraham de Vries) en by uitstek
Audrey
, die eenpersoonvertoning met Coba-Maryn Wilsenach, oor Audrey Blignaut wat Saartjie Botha altwee verwerk het . . .

’n Mens werk met brontekste en jy moet getrou bly daaraan. Ek mag nie iets op die stuk impose nie.

Die tegniese span van die KKNK met Kappie aan die spits het destyds soveel gehelp om daardie venue gehoorvriendelik en toeganklik te maak vir iets so besonders soos Audrey.

7. Hou jy van letterkunde? Lees jy graag?

Ja, van kleinsaf. Tipiese boekwurm. Ons het ook nie ’n televisie in die huis gehad nie, net ’n radio, daarom het my verbeelding baie sterk ontwikkel. Teks en die ritme daarvan, die taal, is vir my geweldig belangrik en ek het steeds ’n voorliefde vir leer. Ek leer mét elke produksie en ek leer vóór elke produksie. Teater, toneel moet bly gesels met mense. Dis die heel belangrikste.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Kknk  |  Teater  |  Vermaak  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.