
Gretchen Ramsden en Rehane Abrahams in Dans van die Watermeid, een van die Teksmark-produksies by vanjaar se fees. Die stuk is nog vanoggend om 09:00 in die Gimsaal te sien. Foto: Nardus Engelbrecht
Vyf van die produksies wat hierdie jaar by die KKNK verskyn, is produksies wat deur Kunste Onbeperk se Teksmark as’t ware met die hand grootgemaak is.
Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van die KKNK, sê Teksmark is presies wat die naam sê: ’n Mark vir tekste. “Dis nie ’n kompetisie waar mense tekste inskryf en daar is ’n eerste, tweede, en derde plek nie. Dis ’n plek waar skrywers hul idees en tekste kan voorlê aan mense wat daarin kan belê.”
Hy sê die idee agter die Teksmark is dat skrywers hul idees as leesteater voorlê, wat dan bespreek word deur verteenwoordigers van feeste en teaters, vervaardigers en ander instansies wat die finansies het om tekste te kan ontwikkel en op die planke kan bring.
Die meermin-kompleks wat by die Uitkampteater opgevoer word, is een van die toneelstukke wat deur die Teksmark ontwikkel word. “Dit is nog in die beginstadium, maar gaan dan later deur die Woordfees ontwikkel word tot ’n volle produksie vir volgende jaar.”
Swerfgoed word tans deur die Baxter-teater en NATi ondersteun, terwyl Dans van die Watermeid verlede jaar deur dieselfde twee organisasies op die planke gebring is.
“Om nou terug te kyk, besef ek watter ongelooflike geleenthede Teksmark kan bied,” sê Amee Lekas, skrywer van Dans van die watermeid.
“As ’n beginner in die bedryf spog ek vandag met ’n teks wat in ’n produksie omskep is vir die hoofprogram op feeste. Natuurlik besef ek ook hierdie is net die begin vir my en ek het nog baie om na te jaag, maar danksy die platform wat Teksmark my gebied het, is ek daartoe in staat.”
Die ander twee Teksmark-produksies is Melk en vleis en Ons is almal freaks hier.
Theart sê dat hulle naby aan 80 inskrywings elke jaar ontvang.
Die derde Teksmark vind hierdie jaar op 3 en 4 September by die Baxter-teater plaas.