Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Theuns Eloff oor Afrikaans: 'Hier is 'n geveg aan die gang'
Die Burger se Praat Saam-gesprekreeks in die Netwerk24-feeskafee. Foto: Jaco Marais

Toe ek die feesboekie aan die begin van die KKNK ontvang, het ek die gesprek oor Afrikaans by die feeskafee amper eerste gemerk.

Ek is egter vinnig teleurgestel toe ek binne tien minute besef dat dit maar soos elke gesprek oor Afrikaans by elke kunstefees dieselfde trant sou volg.

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. Foto: Jaco Marais

Dr. Theuns Eloff, tans uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, het met dieselfde wysie begin wat soos ’n langspeelplaat aanhou vashaak: dat Afrikaans se meerderheid sprekers nie wit is nie, en dat dit dus nie gesien kan word as ’n bevorderaar van wit heerskappy nie.

Sy antwoord vir hoe ons vyande van Afrikaans moet beveg, is dat ons die idee van privaat, eksklusief Afrikaanse universiteite en skole moet begin ondersteun omdat die taal akademies aan die uitsterf is.

Hy sê verder Afrikaanse mense moet eenvoudig die strydbyl optel omdat hulle van alle kante met klippe bestook word deur vyande van Afrikaans.

“Jy kan nie veg op ’n versoenende manier nie. As jy veg, moet jy veg, en hier is ’n geveg aan die gang.”

Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur by die ATKV. Foto: Jaco Marais

Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur by die ATKV, sê egter dat ons op verskillende vlakke vir die behoud van Afrikaans moet baklei.

Hy sê onder meer dat ons na niemoedertaalsprekers van Afrikaans moet uitreik om vir hulle te bewys wat die taal kan doen. Volgens hom is dit ons verantwoordelikheid om Afrikaans as allemanstaal aan mense bekend te stel.

“Die geleenthede is daar, ons moet net ons oë oopmaak.”

Soos Eloff het hy die feit dat meer as 50% van die Afrikaanssprekende bevolking bruin mense is, beklemtoon.

Hy het ook ligweg verwys daarna dat ons die narratief van waar Afrikaans vandaan kom moet verander, en lank gepraat oor bruin skole wat oorslaan Engels toe, wat op die ou einde hul slaagsyfer negatief beïnvloed.

Danie van Wyk, die Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, het die siening dat Afrikaanssprekendes die mag het om ander minderheidstale se hande te vat en saam met Afrikaans te bevorder, en so die taal se aansien onder nie-Afrikaanssprekendes te herstel.

Danie van Wyk, die Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust. Foto; Jaco Marais

Hy maak drie hoofstellings: Dat daar in die verlede baie foute gemaak is in die naam van Afrikaans, wat die helfte van die taalgemeenskap van die taal vervreem het; dat ons moeite gaan moet doen om die taal te depolitiseer; en dat daar ’n tipe waarheids-en-versoeningsgesprek tussen die sprekers van Afrikaans moet plaasvind.

Dit is so dat daar verskeie geldige punte in die gesprek gelug is. Wat ek as jong Afrikaanssprekende met spesiale belange in die behoud van Afrikaans en ’n graad in Afrikaans egter gemis het, was verteenwoordiging van iemand op die paneel wat weet hoe dit in die jong Afrikaanssprekende gemeenskap gaan.

Wil Afrikaanssprekende studente regtig na ’n universiteit gaan waar hulle net aan mense wat soos hulle dink, blootgestel word? Wat ervaar jonger mense wat met meertaligheid gekonfronteer word oor die vyandigheid teenoor Afrikaans? Wat presies is die beleg waarvan daar gepraat word? Vrae wat mense wat as’t ware die toekoms van die taal is, kon beantwoord, is in die lug gelaat, of namens hulle beantwoord deur mense wat heel moontlik nie dieselfde ervarings het nie.

Wat egter die meeste krap, is dat daar in ’n uurlange gesprek, inherent oor die behoud van Afrikaans, nie een keer van die woord “Kaaps” melding gemaak is nie. Al drie sprekers het êrens in hul antwoorde die feit gebruik dat die meerderheid Afrikaanssprekendes bruin mense is, maar niemand het een keer verwys na die grootste brandpunt in die skeiding tussen die Afrikaanssprekende gemeenskappe nie.

Ja, Titus het meermale verwys na ’n ander narratief en ’n ander geskiedenis, maar dit blyk dat daar rondom Kaaps gepraat word asof mense bang is om dit op die naam te noem. Hy noem dat bruin Afrikaanse skoolkinders aanhou na Engelse skole gaan, en dat ons dit moet verander, maar hy rep nie ’n woord oor hoekom hulle (Standaard)Afrikaans agterlaat nie.

Van Wyk het die feit aangeraak dat ons as Afrikaanse gemeenskap moet uitreik na ander minderheidstale, maar hoe kan ons dit doen wanneer ons nie uitreik na mense binne ons eie taal wat nie erken word nie?

Kanalla man, dis dan pal dieselle narrative.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Danny Titus  |  Oudtshoorn  |  Taal  |  Kknk  |  Afrikaans  |  Kunstefees  |  Krit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Krit Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.